Inklusiewe onderrig- en leerpraktyke in hoër onderwys is belangrik omdat die omarming van diversiteit nie net empatie, begrip en wedersydse respek by studente kweek nie, maar hulle ook bemagtig om akademies en sosiaal te floreer. Só skryf dr Anika Berning-Van Zyl van die Departement Ondernemingsbestuur in ʼn onlangse meningsartikel vir University World News.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.
Anika Berning-Van Zyl*
In ʼn samelewing wat gelykheid en diversiteit nastreef, staan die veld van onderwys, veral hoër onderwys, aan die voorpunt van verandering. Namate universiteitsklaskamers al hoe meer divers word, word daar al hoe meer op inklusiewe onderrigpraktyke aangedring.
Die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) ondersteun hierdie idee wat aanvoer dat inklusiewe onderwys die aftakeling van hindernisse binne institusionele stelsels behels om te verseker dat elke student ten volle en gelyk kan deelneem en gewaardeerde lede van die leergemeenskap word. In ʼn poging om hierdie elemente te bevorder, het Unesco Darla Deardorff aangestel as die bekleër van UNESCO-leerstoel in Interkulturele Vaardighede, wat in 2023 aan die Universiteit Stellenbosch (US) toegeken is en in die Afrikasentrum vir Akademieskap in Universiteit Stellenbosch Internasionaal gesetel is.
Inklusiewe onderrig en leer word voorts uitgelig as ʼn vierde Volhoubare Ontwikkelingsdoelwit deur die onderneming in die Verenigde Nasies se 2030-agenda vir Volhoubare Ontwikkeling “om niemand agter te laat nie". Inklusiewe onderrig is belangrik omdat die omarming van diversiteit nie net ʼn gevoel van behoort bevorder nie, maar ook die leerervaring vir alle studente verbeter. Van die akkommodering van verskeie leerstyle tot die viering van kulturele verskille, omarm opvoeders ʼn paradigmaskuif na inklusiwiteit, wat die weg vir ʼn beter en meer regverdige toekoms in die wêreld van leer baan.
In hoër onderwys kry die konsep van inklusiewe onderrig en leer bykomende betekenis, veral binne die dinamiese landskap van die internasionale klaskamer. Met studente van uiteenlopende kulturele, linguistiese en opvoedkundige agtergronde wat byeenkom, word die skep van ʼn inklusiewe omgewing uiters belangrik. Volgens Mona Kamal Saadeldin van die Universiteit van Notre Dame bied hierdie opwindende veranderinge aan onderwysers en fasiliteerders unieke uitdagings én geleenthede waarin hulle studente kan help om te floreer. Mona voer aan “die onderrig van internasionale studente verg ʼn pedagogiese finesse wat grense oorskry".
Inklusiewe onderrigpraktyke in hierdie omgewing behels nie net om kulturele verskille te erken en te respekteer nie, maar ook om dit aktief in die kurrikulum te integreer. Deur die gebruik van die onderrigbenadering van Universele Ontwerp vir Leer (UDL) kan opvoeders effektiewe leer en meer inklusiwiteit in klaskamers bevorder. Volgens die Center for Teaching Innovation by die Cornell-universiteit het UDL ten doel om die behoeftes en vermoëns van alle leerders te akkommodeer en onnodige struikelblokke in die leerproses uit te skakel. Gevolglik word ʼn buigsame leeromgewing ontwikkel waarin inligting op verskillende maniere aangebied word, studente die geleentheid kry om op ʼn verskeidenheid van maniere by leer betrokke te raak en word studente op ʼn meer inklusiewe wyse geassesseer deur middel van ʼn verskeidenheid van verskillende assesseringstegnieke. Van die inkorporering van globale perspektiewe in kursusmateriaal tot die bevordering van kruiskulturele kommunikasievaardighede, herdefinieer universiteite die idee van onderwys as ʼn ten volle grenslose ervaring.
Deur inklusiwiteit te omarm, bemagtig hoëronderwysinstellings studente om te floreer in ʼn onderling gekoppelde wêreld terwyl empatie, begrip en wedersydse respek by studente van alle uithoeke van die wêreld gekweek word. Opvoeders wat oor sterk interkulturele en kommunikasievaardighede beskik, kan ʼn omgewing van wedersydse respek en begrip bevorder, waar kulturele verskille gevier en aangewend word om leeruitkomste te verbeter. Deur kulturele diversiteit te erken en te verwelkom, kan opvoeders inklusiewe klaskamers skep wat studente bemagtig om akademies en sosiaal te floreer.
Interkulturele bevoegdhede speel ʼn deurslaggewende rol in die bevordering van inklusiewe onderrig- en leeromgewings, veral in die konteks van die internasionale klaskamer. Volgens die Council of Europe verwys interkulturele bevoegdhede na die stel vaardighede wat nodig is om op ʼn interkulturele manier in diverse samelewings op te tree. Met die uitgangspunt dat kulturele diversiteit as ʼn bate eerder as ʼn hindernis erken moet word, stel interkulturele bevoegdhede opvoeders in staat om kruiskulturele interaksies en die behoeftes van diverse studentepopulasies doeltreffend aan te pak. Deardorff, ʼn bekende kundige in interkulturele bevoegdhede, benadruk die belang daarvan wanneer sy sê “interkulturele bekwaamheid is die vermoë om doeltreffend en toepaslik in interkulturele situasies op te tree en te kommunikeer".
Oor die jare het interkulturele bevoegdhede ontwikkel tot ʼn multidimensionele raamwerk wat vaardighede insluit soos kulturele sensitiwiteit, empatie, kommunikasie en die vermoë om by diverse kulturele kontekste aan te pas. Op die gebied van onderwys is die integrasie van interkulturele bevoegdhede in onderrig- en leerpraktyke noodsaaklik om studente voor te berei om te floreer in ʼn toenemend onderling verbinde en multikulturele wêreld.
Volgens Deadorff trap universiteite dikwels in die strik om nie interkulturele bevoegdhede by studente te kweek nie. Universiteite verbind hulle tot diversiteit en wêreldburgerskap, maar hulle laat na om studente op te voed en hul interkulturele bevoegdhede te ontwikkel. Hierdie reis vereis nie net dat universiteite ʼn interkulturele benadering op ʼn holistiese vlak moet aanpas nie, maar dit moet ook na opvoeders en in klaskamers versprei.
Een noemenswaardige inisiatief wat inklusiewe onderrig en leer in die internasionale klaskamer bevorder, is die samewerkingspoging tussen die US en die Universiteit van Groningen, wat onlangs ʼn Inclusive Teaching and Learning Summer School: Equipping Ourselves and Each Other aangebied het. Die US was die gasheer en dit was die eerste aangesig-tot-aangesig somerskool ná twee jaar van aanlyn ontwikkeling en verfyning. Hierdie baanbrekersprogram het opvoeders en belanghebbendes van uiteenlopende kulturele agtergronde byeengebring om innoverende strategieë vir die bevordering van inklusiwiteit in hoër onderwys te ondersoek. Deur werksessies, paneelbesprekings en samewerkende groepwerk het deelnemers betrokke geraak by betekenisvolle besprekings oor onderwerpe soos kultureel-responsiewe pedagogie, inklusiewe kurrikulumontwerp, die bevordering van billike leeromgewings, interkulturele groepdinamika en die rol van taal.
Deur beste praktyke en ervarings uit verskillende kontekste te deel, het die somerskool gedien as ʼn platform vir die bou van interkulturele bevoegdhede onder opvoeders en die bevordering van ʼn kollektiewe verbintenis tot inklusiewe onderrig en leer. Hierdie samewerkende poging beklemtoon die belangrikheid van internasionale vennootskappe in die bevordering van globale agendas vir onderwysgelykheid en -inklusiwiteit. In die toekoms behoort universiteite inklusiewe onderrig- en leerbeleide te ontwikkel en te implementeer, deurlopende opleiding en professionele ontwikkeling aan opvoeders te verskaf, asook diversiteit en insluiting in hul kurrikulum vas te lê.
- Foto deur Yan Krukau by Pexels.
* Dr Anika Berning-Van Zyl is ʼn dosent en navorser in die Departement Besigheidsbestuur aan die Universiteit Stellenbosch, Suid-Afrika. Sy spesialiseer in strategiese bestuur, bestuursbeheerstelsels en volhoubaarheid.