Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tygerberg-studente troef uitbranding deur kunsterapie
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
Gepubliseer: 04/03/2024

​​Daar is al baie geskryf oor kuns se vermoë om geestesgesondheid te verbeter, maar navorsing toon dat 'n paar uur se kreatiwiteit ook gesondheidswerkers kan help om meer selfversekerd en bekwaam in 'n kliniese omgewing te word.

Die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO) op die Universiteit Stellenbosch se Tygerberg-kampus bied dus aan studente van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe die geleentheid om aan weeklikse kunsterapiesessies deel te neem waar hulle hul emosies in 'n “veilige ervaringsruimte" kan uitdruk en verwerk.

“Studente in die gesondheidswetenskappe het dikwels hoë vlakke van stres en emosionele uitputting en 'n lae gevoel van persoonlike prestasie. Daarom loop hulle die gevaar om probleme met angs, depressie en uitbranding te ontwikkel," verduidelik An-Maree Nel, senior kliniese sielkundige by die SSVO. “Die kunsterapie is 'n vorm van selfversorging wat behels dat jy met iets nuuts en kreatief omgaan. Dit moedig studente aan om hulle speelse kant na vore te laat kom, wat tot die proaktiewe voorkoming van uitbranding bydra."

Sy verduidelik dat hoewel die nuwe kurrikulum vir mediese studente wel persoonlike ontwikkeling moontlik maak, die SSVO se kunsterapiesessies 'n afsonderlike inisiatief is om studente te help om die uitdagings wat hulle gedurende hulle studies ervaar, te hanteer. “'n Kunsterapieprogram kan 'n waardevolle ruimte vir verbintenis en die normalisering van ervarings skep, wat studente laat voel hulle is nie alleen nie. Hierdie proses stel studente in staat om inspirasie uit ander se stories te put en hulle interpretasies van hulleself te verryk."

Hoewel dit nie die eerste keer is dat die kursus aangebied word nie – dit is voorheen in 2018 vóór die pandemie aangebied – was die belangstelling van studente bemoedigend, sê Nel, wat dui op 'n toenemende behoefte aan hierdie soort kreatiewe uitlaatklep en ruimte om na te dink. Die eerste groep van die jaar was binne twee dae nadat dit geadverteer is, volbespreek en daar is 'n waglys vir die volgende een.

In teenstelling met die logiese, kliniese denkwyse waaraan hierdie studente gewoond is in hulle werk, skep kunsterapie 'n ruimte waar studente “nuwe perspektiewe en beskrywings van hulleself kan ontwikkel". Kunsmateriaal word dus op 'n “verkennende en spontane wyse" gebruik en die fokus is op die proses eerder as op 'n spesifieke kunsproduk. “Ek gebruik 'n narratiewe terapiebenadering terwyl ek ook instrumente en tegnieke uit verskeie terapeutiese modaliteite inkorporeer," verduidelik Nel.

Studente is ten opsigte van hulle ontwikkeling op 'n ouderdom waar hulle nog ontdek wie hulle is, voeg Nel by. Ondanks hiervan, staar hulle uitdagende situasies in die kliniese omgewing in die gesig wat selfs die meeste volwassenes sou sukkel om te hanteer. Gevoelens dat hulle nie in staat is om dit te hanteer nie, kan vererger as 'n student boonop ver van die huis en hulle ondersteuningstelsel af is. "Die kunsterapieprogram moedig hulle aan om nuwe perspektiewe en insigte te ontwikkel deur die proses van nadenke en eksplorasie, wat weer daartoe bydra dat deelnemers positiewe veranderinge in hulle lewens maak en hulle help om hulle emosies en uitdagings met groter gemak te hanteer."

Hoewel 'n kreatiewe uitlaatklep baie persoonlike voordele vir die student inhou, kan dit ook in die toekoms 'n positiewe uitwerking op pasiëntsorg hê, sê Nel. As 'n vorm van selfversorging help kunsterapie aktief om uitbranding te voorkom en moedig studente aan om gesonder gewoontes te ontwikkel. “Wanneer studente op hierdie manier na hulle eie behoeftes omsien, is hulle ook beter toegerus om pasiënte te versorg."

Dit word gerugsteun deur internasionale navorsing wat op die professionele voordele daarvan dui om studente in die gesondheidswetenskappe ​en gesondheidspraktisyns aan te moedig om 'n kwas op te tel. Dr Anna Reisman, medeprofessor in geneeskunde en direkteur van die program vir geesteswetenskappe in geneeskunde aan die Yale-Universiteit in die Verenigde State, het die volgende gesê: “Kuns kan 'n manier wees om met ander se perspektief en ervaring te worstel. Dit is ook die ervaring om kuns te skep, ongeag jou vermoë, as 'n manier om jou ervaring vas te vang deur aandag aan die klein goedjies te gee." Daar is bevind dat gesondheidsberoepstudente beter in staat is om pasiënte as individue te sien as hulle leer om as kunstenaar waar te neem. Dit bewerkstellig onbevooroordeelde, oplettende mediese sorg.

Nel stem saam. “Wanneer gesondheidspraktisyns bewus is van hulleself, deernis betoon en in staat is om hulle emosies te beheer, neem hulle beter kliniese besluite. Kunsterapie help studente om hierdie vaardighede te ontwikkel."

Alle studente van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe is welkom aan die sessies deel te neem.

  • Sessies word Dinsdae van 16:30–18:00 by die Sentrum vir Studentevoorligting op die Tygerberg-kampus gehou en daar word van studente verwag om hulle daartoe te verbind om ses sessies by te woon.
  • Vir verdere inligting en om jou plek te bespreek, kontak Nel by anmaree@sun.ac.za

Foto: krakenimages.com van ​Freepik​​​