Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Groot finansiële inspuiting vir geneesmiddelontwikkeling in Afrika
Outeur: Wiida Fourie-Basson (Media: Faculty of Science)
Gepubliseer: 28/02/2024

'n Netwerk van wêreldklas wetenskaplikes oor Afrika heen betree nou die internasionale arena van geneesmiddelontwikkeling nadat hulle 'n finansiële toekenning van US$7,2 miljoen van die Bill en Melinda Gates Stigting en LifeArc, 'n liefdadigheidsorganisasie wat mediese navorsing steun, bekom het.

Die toekenning is deel van die Grand Challenges Africa Drug Discovery Accelerator (GC ADDA) program – 'n familie van inisiatiewe wat innovasie aanmoedig om globale gesondheids- en ontwikkelingsprobleme aan te spreek.

GC ADDA sal US$4,7 miljoen (ongeveer R85 miljoen) van die toekenning oormerk vir die ontwikkeling van nuwe middels in die stryd teen malaria en Tuberkulose (TB) – twee siektes wat meer sterftes op die Afrika-vasteland veroorsaak as in die res van die wêreld. Wetenskaplikes van  die Universiteite van Ghana en Pretoria en Universiteit Stellenbosch sal dié inisiatief lei.

Alhoewel Afrika-lande beduidende vooruitgang gemaak het in die stryd teen malaria en TB, dra die kontinent steeds die las van infeksiesiektes met hierdie twee eeue oue siektes wat elke jaar ongeveer een miljoen mense op die vasteland dood. Volgens die Wêreld- gesondheidsorganisasie is ongeveer 600 000 van hierdie sterftes toe te skryf aan malaria en 400 000 aan tuberkulose. Die feit dat behandelingsweerstandige vorme van hierdie siektes voortdurend kop uitsteek, beteken dat daar 'n noodsaaklike behoefte is aan innoverende hulpmiddels om dit die hoof te bied.

Leiers in malaria- en TB-navorsing in Afrika

Aan die stuur van hierdie poging om geneesmiddelkandidate te lewer, staan Dr Richard Amewu, hoof van die Drug Innovations Group by die Universiteit van Ghana, en  Prof. Lyn-Marié Birkholtz verbonde aan die Universiteit van Pretoria se Instituut vir Volhoubare Malariabeheer in Suid-Afrika.

Prof. Birkholtz sê die behoefte aan teenmalariamiddels in Afrika is van kritieke belang aangesien malariagevalle aan die toeneem is. “Ons moet bestaande ontdekkings voortdryf deur voort te bou op ons bestaande kapasiteit en kundigheid."

Volgens Dr Amewu, sal hierdie toekenning  deurlopende pogings van Afrika-wetenskaplikes aanvul wat bydra tot die wêreldwye pogings om hierdie twee siektes te beveg. Hierdie navorsing sal voortbou op die toonaangewende bydraes oor midddelontdekking wat gespruit het uit die totstandkoming van die Holistiese middelontdekking- en -ontwikkelingsentrum (H3D), gesetel by die Universiteit van Kaapstad in Suid-Afrika.

Die netwerk van wetenskaplikes wat op malaria fokus, sluit ook in: Prof. Fabrice Boyom van die Yaoundé Universiteit in Kameroen; Prof. Amanda Rousseau van die Universiteit van die Witwatersrand; Dr Winston Nxumalo van die Universiteit van Limpopo; en Prof. Laurent Dembele en Dr Dinkorma Ouloguem van die Université des Sciences, des Techniques et des Technologies de Bamako in Mali. Hulle sal nou saamwerk met kundiges van die Drug Discovery Unit by die Universiteit van Dundee in Skotland, die biotegnologiemaatskappy Lgenia (VSA), the Malaria Drug Accelerator, en die Medicines for Malaria Venture (MMV) asook die H3D. 

In reaksie op die aankondiging het Dr James Duffy, senior direkteur van geneesmiddelontdekking by MMV gesê hierdie toekenning gaan die speelveld vir Afrika-wetenskaplikes en middelontwikkeling op die vasteland verander: “'n Unieke omgewing en geleentheid is geskep waar wêreldklas wetenskaplikes van lande met endemiese siektes kan saamwerk om nuwe middels te ontdek en in pasiëntbehoeftes op hul voorstoep te voorsien.

In die stryd teen multimiddelweerstandige TB, sal die poging gelei word deur Prof. Erick Strauss van die Departement Biochemie by die Universiteit Stellenbosch (US), in vennootskap met Dr Gabriel Mashabela van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsentrum vir TB-navorsing, (ook aan die US), en spanne gelei deur Prof. Adrienne Edkins van Rhodes Universiteit en Prof. Rajshekar Kapoormath van die Universiteit van KwaZulu-Natal in Suid-Afrika, asook Dr Elizabeth Kigondu en Dr Edwin Murungi verbonde aan die Kenia Mediese Navorsingsinstituut.

Volgens Prof. Strauss is die doel om nuwe, voorheen onverkende weë te volg om effektiewe behandelings teen TB te ontdek. Hierdie pogings sal die vele bestaande middelontwikkelingspogings aanvul wat deur ander internasionale konsortiums soos die Tuberculosis Drug Discovery Accelerator gelei word.

Dr Clif Barry, hoof van die Tuberkulose-navorsingsafdeling by die Verenigde State se Nasionale Instituut van Gesondheid, sê TB en veral multimiddelweerstandige TB is steeds 'n groot gesondheidslas vir Afrika-lande: “Dit is net gepas dat 'n belegging op hierdie skaal gemaak word om wetenskaplikes op die vasteland te ondersteun wat werk om nuwe tuberkulosebehandelings te ontwikkel."

Prof. Kelly Chibale, direkteur van H3D sê die toekenning is 'n groot hupstoot vir die bou van 'n kritieke massa van wetenskaplikes wat hierdie siektes op die Afrika-vasteland kan beveg.

Prof. Sibusiso Moyo, Adjunk Visekansellier: Navorsing, Innovasie, en Nagraadse Studies by die US, het gesê die drie universiteite het 'n lang geskiedenis van samewerking deur die Afrika Navorsingsuniversiteitsalliansie (ARUA), tesame met ander Afrika vennote: “Ek wil graag die wetenskaplikes gelukwens met die toekenning en die voorbeeld wat hulle stel van hoe universiteite 'n rol kan speel in innovasie en middelontwikkeling".

Agtergrond

Wat is malaria?

Malaria is 'n siekte wat veroorsaak word deur parasiete (Plasmodium) wat mense kan infekteer nadat hulle deur 'n Anopheles-muskiet gebyt is wat 'n draer van hierdie parasiete is. Simptome kom voor ongeveer twee weke nadat 'n persoon gebyt is. In Afrika kan mense egter tientalle kere per nag gebyt word wat die risiko van malaria aansienlik verhoog.  Boonop kom die mees dodelike vorm van die parasiet (Plasmodium falciparum) in Afrika voor. Indien 'n pasiënt nie betyds behandel word nie, kan dit binne 24 uur noodlottig wees. Ongelukkig het beide die parasiet en die muskiet reeds by die heersende beheermaatreëls aangepas deur weerstand te ontwikkel en die muskiet het selfs sy gedrag verander. Dit is dus baie moeilik om die siekte te beheer. Nuwe teenmalariamiddels moet vooortdurend ontwikkel word om die siekte te voorkom, lewens te red en die verspreiding van die parasiet te stuit.  

Wat is tuberkulose?

Tuberkulose (TB) word veroorsaak deur 'n bakterie (Mycobacterium tuberculosis) wat tipies versprei word wanneer geïnfekteerde individue hoes en spoeggdruppels – wat die bakterie bevat – in die lug vrystel. Wanneer 'n individu geïnfekteer is, kan die bakterie vir jare dormant wees in die draer en geen aktiewe siektesimptome veroorsaak nie. Individue wat egter MIV-positief is, is meer vatbaar vir die siekte wat dan ontwikkel as pulmonale tuberkulose (TB wat in die longe voorkom). In hierdie populasies is die voorkoms van TB byna dubbeld soveel as in populasies van individue sonder MIV. Suid-Afrika het tans een van die hoogste voorkomssyfers van TB-infeksies, met byna 1 uit elke 100 van die bevolking wat geïnfekteerd is. Alhoewel TB met antibiotika behandelbaar is, duur die standaardbehandeling egter ses maande. Die hoë siektelas, tesame met die probleme wat individue ondervind met die voltooiing van hul behandeling, het gelei tot die ontwikkeling van nuwe vorme van TB wat weerstandig is teen byna alle vorms van behandelings wat tans beskikbaar is.

Op die foto bo, van links na regs: Prof. Erick Strauss, Prof. Lyn-Marié Birkholtz, en Dr. Richard Amewu. Foto: Stefan Els

​​