Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe Leerstoel in Kreatiewe Skryfwerk beloof opbloei in Afrikaanse woordkuns
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 27/02/2024

Prof Willem Anker, bekroonde skrywer en dramaturg, staan deesdae aan die stuur van die splinternuwe Leerstoel in Kreatiewe Skryfwerk van die Universiteit Stellenbosch (US), wat pas in die Departement Afrikaans en Nederlands tot stand gekom het. Hy vertel hoe hy sy nuwe rol as akademikus in die bevordering van Afrikaanse skryfkuns sien en hoekom hy as skrywer in vrae eerder as antwoorde belangstel. 

Baie geluk met jou aanstelling in die Leerstoel in Kreatiewe Skryfwerk. Kan jy lig werp op hoe dié Leerstoel tot stand gekom het en die doelwitte wat julle wil bereik om kreatiewe skryfwerk in Afrikaans te bevorder?

Die Leerstoel in Afrikaanse Kreatiewe Skryfwerk is ingestel met die oogmerk om Afrikaanse letterkunde te bevorder deur die onderrig en studieleiding van skryfkunde in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die US en ook die betrokkenheid by Afrikaanssprekende skrywers in die gemeenskap.  

Die Leerstoel stel dit ten doel om die kreatiewe uitsette van studente in Afrikaans te fasiliteer, te verhoog en uit te bou deur middel van die verwerwing van kwalifikasies, asook die publisering van uitsette.  

Ek en dr Alfred Schaffer het ʼn PhD-program in kreatiewe skryfwerk geskryf en die hoop is dat die program binnekort deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding goedgekeur sal word sodat studente daarvoor kan inskryf.  

Wat is jou visie vir die Leerstoel in Kreatiewe Skryfwerk? Hoe beplan jy om die program te lei en aan te bied om tot die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse letterkunde by te dra? 

Die PhD-program is geskryf met die doel om die skryf van innoverende letterkunde van hoogstaande gehalte te stimuleer. Die MA-program in ons Departement het reeds wonderlike tekste opgelewer en die hoop is om daarop voort te bou. Deur voorgraadse en honneursmodules in skryfkunde aan te bied hoop ek om studente lus te maak vir skryf en hulle basiese tegnieke aan te leer. Ek wil graag ook betrokke raak by Afrikaanse skrywers en skrywersgroepe in die breër gemeenskap om ook buite die akademiese milieu te werk.  

Kan jy ons vertel van jou reis van kroegman en sekuriteitswag tot dosent in kreatiewe skryfwerk aan die US? Hoe het hierdie uiteenlopende ervarings jou benadering tot letterkunde en skryf beïnvloed? 

Ek was net vir een Desembervakansie ’n kroegman en dit was ’n volslae mislukking. Ek was vir so drie of vier maande ʼn sekuriteitswag in Edinburg se klerewinkels en ook dít was nie veel pret nie. Die sekuriteitswagdae het ten minste later gesorg vir die vonk vir ’n toneelstuk. Wat ek wel deur die jare geleer het, is dat lewenservaring die verbeelding voed.  

As dosent in die Departement Afrikaans en Nederlands, hoe benader jy die onderrig van kreatiewe skryfwerk en watter soort mentorskap bied jy aan aspirant-skrywers? 

Op derdejaars- en honneursvlak is daar deurlopende kleiner oefeninge om sekere ambagtelikhede in te oefen, asook groter projekte waaraan daar deur die semester gewerk word. Met die MA (en die PhD in die pyplyn) is die fokus natuurlik meer op die skep van langer, komplekser manuskripte. Op beide voor- en nagraadse vlakke tel die akademiese werk wat met die kreatiewe werk gepaard gaan ʼn aansienlike persentasie, en in die MA en PhD 50%. Die leesproses is ʼn belangrike deel van die skryfproses.

Jou toneelstukke het al talle toekennings ontvang. Hoe sien jy jou bydrae tot die landskap van Suid-Afrikaanse teater en watter temas en boodskappe wil jy kommunikeer?

Ek dink nie dit is vir my om te sê hoe en of my toneelstukke bydra tot die teaterlandskap nie. Die onderwerpe wat ek ondersoek, wissel nogal van stuk tot stuk – dinge soos oudword, taal, dooie skrywers, goggas en terrorisme – maar boodskappe ... ek hoop nie daar is ooit enige lesse te leer nie. As dit by skryf kom, stel ek belang in vrae, nie antwoorde nie.

Jou romans Siegfried en Buys het groot lof gekry. Kan jy meer oor die inspirasie vir hierdie werke vertel, asook hoe jou agtergrond in kreatiewe skryfwerk en letterkunde die skepping daarvan beïnvloed het? 

ʼn Vroeë weergawe van Siegfried was die manuskrip wat ek as deel van my MA in skryfkunde onder studieleiding van Marlene van Niekerk ingelewer het. Ek het dit daarna ʼn paar keer oorgeskryf voor dit uiteindelik gepubliseer is. Ek het ontsettend baie by haar geleer, as student en later as kollega toe ek saam met haar die MA-program in skryfkunde aangebied het.  

Toe ek lees van die historiese figuur Coenraad de Buys het ek onmiddellik gedink dat sy storie goeie stof vir ʼn roman kan wees. Ek het opgelees oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis, en op reise gegaan om te gaan kyk waar die hoofkarakter gebly en getrek het.  

Met elke ding wat jy skryf maak jy foute, maar hopelik kry jy darem  ook ʼn paar ander goed reg. Wat ek geleer het, is dat die enigste manier om te skryf is om te gaan sit en te skryf en nog te skryf, deur te haal en oor te skryf. Soos Samuel Beckett geskryf het: “Ever tried. Ever failed. No matter. Try again. Fail again. Fail better.” 

Jou doktorale tesis het die gebruik van die nomadiese figuur in die tekste van Breyten Breytenbach en Alexander Strachan ondersoek. Kan jy uitwei oor hoe hierdie tema jou akademiese en skryfwerk beïnvloed? 

My promotor het eendag grappenderwys vir my gevra hoe ek oor nomades kan skryf as ek al vir ʼn dekade op Stellenbosch bly. Ek het vir haar gesê dat ʼn mens hopelik enige plek nomadies kan wees, maak nie saak hoe veel of hoe min jy beweeg nie. Ek dink ek was dalk ’n bietjie naïef, maar vir my is skryf die beste wyse om oor die vibracrete-heinings van die lewe te spring.  

Ek sou dan ook later in Buys skryf oor ʼn nomade, ʼn man wat nie kon stilsit nie. 

Is daar enige projekte of inisiatiewe in die vooruitsig met betrekking tot kreatiewe skryfwerk waaroor jy besonder opgewonde is, hetsy persoonlik of binne die Departement Afrikaans en Nederlands aan die US?

Ons Departement is onlangs genader deur ’n groep skrywers wat skryf oor die plek en stories van hul gemeenskap. Dit sal ʼn eer wees om op die een of ander wyse by hierdie en soortgelyke projekte betrokke te raak.  

Daar word verder ook ’n slypskool en boekpraatjies beplan wat in die Departement aangebied sal word.  

Verder is ons opgewonde oor die PhD-program wat hopelik binnekort geïmplimenteer sal word. 

Wat my eie skryfwerk betref, het my verwerking vir teater van Han Kang se Internasionale Booker-pryswenner Die vegetariër nou (ná die Woordfees) twee verdere speelvakke in die Baxter-teater en later by die KKNK. ʼn Nuwe toneelstuk, Patmos, debuteer ook hierdie jaar by die KKNK.