Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ons moedertale: Wat kry ons daaruit?
Outeur: SU Language Centre
Gepubliseer: 20/02/2024

​By die US se Taalsentrum deel ons UNESCO se oortuiging dat kulturele en taalkundige diversiteit belangrike boustene is vir volhoubare samelewings, en ons neem met oorgawe deel aan die wêreldwye viering van Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie elke jaar.

Moedertaaldag gaan nie net net oor my en jou individuele moedertale nie, maar ook oor dié van die mense om ons. As ons verstaan dat die persoon langs ons se moedertaal net so kosbaar vir hulle is soos ons moedertaal vir ons is, en as ons dan daardie sentiment respekteer, het ons reeds goeie vordering gemaak.

Hoekom is moedertale belangrik, afgesien daarvan dat ons emosionele waarde heg aan die taal of tale waarmee ons grootgeword het en waarin ons onself heel eerste begin uitdruk het? Hoe kan hulle van praktiese nut vir ons wees, selfs wanneer ons dikwels in ʼn derde of vierde taal funksioneer om te verseker dat ons op ʼn manier kommunikeer wat ander mense help om te verstaan wat ons sê?

Moedertaalmomentum

Moedertale gee ons momentum – hulle is soos kenniswegspringblokke. Almal van ons gebruik ons moedertaal as ʼn ondersteunende raamwerk in die verkryging van kennis. Wanneer ʼn mens nuwe kennis inwin, begin jy gewoonlik met bekende inligting en verken die onbekende van daar af. As jy dus op ʼn plek begin waar jy weet wat ʼn sekere konsep in jou moedertaal is, het jy ʼn plek waar jy vastrapplek kan kry, en jy kan daardie bekendheid gebruik as wegspringplek om meer komplekse konsepte te verstaan, selfs wanneer jy in ʼn ander taal as jou moedertaal met hulle kennis maak.

Dus kan en moet studente hul moedertale op universiteit gebruik, selfs al is hulle taal nie een van die instansie se amptelike tale van onderrig en leer nie. As ons maar aan die US dink – die Universiteit het hom verbind tot die gebruik van Afrikaans, Engels en Xhosa, die amptelike tale van die Wes-Kaap. Afrikaans en Engels is die primêre tale waarin daar geleer word, onderrig verskaf word, en assessering gedoen word. Xhosa kan ook vir onderrig en leer gebruik word in gevalle waar daar die nodige kapasiteit is en dosente dit van pas vind om dit te gebruik, en waar daar ʼn opvoedkundige behoefte daaraan is. Verder is die Universiteit daartoe verbind om Xhosa as ʼn akademiese taal te ontwikkel en om Afrikaans te behou as ʼn taal waarin onderrig, leer, assessering en navorsing gedoen word. Die US is ook een van die min Suid-Afrikaanse universiteite wat werk om Suid-Afrikaanse Gebaretaal te ontwikkel en te bevorder. Dit is alles deel van ʼn nasionale mandaat vir tersiêre instellings om minstens een Afrikataal onder hul vlerk te neem en dan die beskikbare hulpmiddels daarop te fokus, terwyl dit wat reeds ontwikkel is, in stand gehou word. Dit is ʼn belangrike manier vir ons om die Suid-Afrikaanse Grondwet uit te leef. Deur tale op tersiêre vlak te respekteer, verhoog ons hulle status.


 Language 3.pngProverb climb a tree.pngLanguage 2.png

Die US se studente en personeel is in der waarheid ʼn veel meer diverse klomp as bloot sprekers van Afrikaans, Engels en isiXhosa, maar dit is darem ʼn begin om met die algemeenste moedertale in die Wes-Kaap te werk. Ander Suid-Afrikaanse universiteite het ook onderneem om minstens een van die Afrikatale in hulle streke te ontwikkel. Op dié manier sal Zoeloe-sprekers byvoorbeeld ook kan baat by hulpbronne in Xhosa omdat hierdie twee tale ná aan mekaar is, en dieselfde geld vir ander tale wat nou aan mekaar verwant is. As moedertaalsprekers moet ons egter self ons eie tale kies wanneer die geleentheid hom voordoen. 

Verhoging van die status

As ons ons tale se status wil behou of verhoog en hulle reikwydte wil uitbrei, kan ons dit op twee oorkoepelende maniere doen. Een daarvan is deur in daardie taal te skryf – deur letterkunde te skep – en sodoende te bewys dat jou taal in staat is om abstrakte denke en kreatiewe en komplekse idees uit te druk, en dat dit buigsaam genoeg is om dit te doen. Die tweede manier is deur terminologie te skep wat nuwe tegniese domeine beskryf.

Waarskynlik moet elke enkele taal met die uitsondering van Engels (omdat terminologie skynbaar veel natuurliker in Engels geskep word as deel van die proses van nuwe uitvindings en ontwikkelings) gedurig sy status verhoog om in ons moderne wêreld by te hou. Elke ander taal, of dit nou Frans, Duits, Chinees, Afrikaans of Xhosa is, word uitgedaag om tred te hou, en selfs Engels bly nie altyd voor nie! Ook mag Engels dalk oor die terminologie beskik, maar die betekenis van die betrokke konsepte spreek soms nie vanself nie. Terminologie in Xhosa, Afrikaans of selfs Frans is dikwels meer beskrywend en dus duideliker verstaanbaar vir die sprekers van die betrokke taal. Dink maar aan “koppelaar" in Afrikaans vir “clutch" in Engels, of die Zoeloe-woord vir “wetsontwerp" (“bill in Engels), naamlik “umthethosivivinywa", wat letterlik beteken “ʼn wet wat besig is om gemaak te word". Daar is talle ander voorbeelde. Maar kies ons om daardie mooi woorde aan te gryp en te gebruik, of val ons outomaties terug op die Engelse woorde?

ʼn Groot voordeel daarvan om ʼn taal se status te verhoog en om verskeie tale te gebruik, is dat ons ons omgewings sodoende meer inklusief maak. Wanneer mense hulle tale in verskillende ruimtes sien en ervaar, herinner dit hulle daaraan dat hulle deel is van iets wat groter as hulleself is.  

Verskillende kante van dieselfde munt

Wanneer ons vanjaar Moedertaaldag vier, moet ons dalk oor die volgende twee vrae nadink: Wat doen jou moedertaal vir jou, en wat doen jy vir jou moedertaal? Wanneer jy jou moedertaal gebruik om te leer, en in jou daaglikse lewe en in amptelike onderhandelinge, help jy nie net jouself nie, maar ook ondersteun en bewaar jy jou taalerfenis. Deur jou taal te gebruik, help verseker jy dat daardie taal lewendig bly en in die toekoms steeds sal voortbestaan.

En dan, wanneer ons nog ʼn tree vorentoe neem en mekaar se moedertale begin leer, ondersteun en versterk ons daardie tale selfs nog meer terwyl ons nuwe maniere vind om mekaar te begryp en te waardeer.

  • deur Susan Lotz, dr Kim Wallmach, Sanet de Jager en Jackie van Wyk, vertaal deur Ingrid Swanepoel