Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe Maties Coffee Hub: 'n mengelmoes van tradisie, innovasie en plaaslike entrepreneurskap
Outeur: Petro Mostert
Gepubliseer: 16/02/2024

​Maties Winkel het die wêreld van koffie betree met 'n nuwe Maties Coffee Hub wat tradisie en innovasie vier. Die Universiteit Stellenbosch (US) se ikoniese Maties Winkel bied van 1 Maart 2024 'n unieke koffie-ervaring met die eerste Maties Coffee Hub wat geleë is binne die Matie Winkel in die Neelsie. Hierdie opwindende onderneming sal nie net die lewendige kampuskultuur verryk nie, maar is ook 'n voorbeeld van die Universiteit se verbintenis tot die bevordering van entrepreneurskap en gemeenskapsbetrokkenheid.

Sentraal in hierdie nuwe inisiatief is 'n vennootskap met Mhlengi Ngcobo, 'n voormalige Matie en gewaardeerde plaaslike entrepreneur agter CoffeeMM in die Co-create Hub oorkant die Adam Small Theatre-kompleks van die US. Ngcobo se diep wortels binne die Universiteitsgemeenskap en sy passie vir koffie en sakevernuf, maak hom die perfekte vennoot vir hierdie onderneming.

CoffeeMM is in 2017 gestig as 'n plaaslike koffiemaatskappy wat toegewyd is om hoë-gehalte, eties-verkrygde koffiebone en -produkte aan die Stellenbosch-gemeenskap en omgewing te verskaf.

Die vennootskap tussen CoffeeMM en Maties Coffee Hub het ontstaan uit 'n samewerking wat gegroei het van 'n verskaffer na 'n strategiese vennootskap engemotiveer deur hul gedeelde waardes van volhoubaarheid en bemagtiging. Ngcobo het 'n geleentheid gesien om die impak van sy entrepreneuriese pogings te versterk, terwyl hy bygedra het tot die US se strewe na holistiese ontwikkeling en om entrepreneursgees aan te wakker.

“Deur met plaaslike besighede saam te werk, verbeter ons nie net die kampuservaring nie, maar versterk ons ook ekonomiese ontwikkeling binne die plaaslike streek. Hierdie samewerking weerspieël ons toewyding om positiewe verandering te dryf en betekenisvolle geleenthede vir ons studente en kampusgemeenskap te skep," sê Hein Swanepoel, Senior Direkteur van Suncom ('n afdeling van Innovus). Behalwe om as 'n kampusbrandpunt te dien, poog die Maties Coffee Hub om betekenisvolle verbintenisse en verhoudings binne die Stellenbosch-gemeenskap te bevorder, wat die gaping tussen studente, fakulteite en plaaslike besighede kan oorbrug.

In wese is hierdie samewerking 'n voorbeeld van die positiewe uitwerking van kommersialisering binne 'n universiteitsopset. Dit onderstreep die Universiteit Stellenbosch se rol as 'n instaatsteller van geleenthede vir entrepreneurs, wat die potensiaal vir sinergie tussen akademie en handel ten toon stel om ekonomiese groei en sosiale impak te dryf.

Namate die Maties Coffee Hub in die kampuslewe geïntegreer word, stuur dit 'n kragtige boodskap aan die US-gemeenskap en die breër publiek. Dit beliggaam 'n verbintenis tot uitnemendheid, volhoubaarheid, entrepreneurskap en gemeenskapsbemagtiging - 'n bewys van die Universiteit se blywende nalatenskap en sy toewyding om 'n beter toekoms vir toekomstige geslagte te vorm.

Meer oor Innovus

Innovus is 'n afdeling van die Universiteit Stellenbosch wat verantwoordelik is vir tegnologie-oordrag, entrepreneuriese ondersteuning en ontwikkeling, en innovasie. Die Tegnologie-oordragkantoor bestuur die Universiteit se innovasie- en intellektuele eiendomsportefeulje deur relevante intellektuele beskerming vir die universiteit se intellektuele eiendomsportefeulje soos patentering, handelsmerk, ontwerp en ander vorme van beskerming te soek. Die span is ook verantwoordelik vir die bestuur van die portefeulje en die kommersialisering van innovasie deur lisensiëring en die stigting van afwentelmaatskappye.

Volg ons op Facebook en Instagram vir gereelde opdaterings en openingsaanbiedings

 

Vir meer inligting, kontak asseblief:

Gary Muizenheimer:

garym@sun.ac.za