Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Stellenbosch Universiteit beginonderneming Gradlinc groei sterk in eerste jaar
Outeur: Petro Mostert
Gepubliseer: 16/02/2024

​Die Universiteit Stellenbosch se beginmaatskappy Gradlinc – 'n dinamiese en innoverende loopbaanontwikkelingsplatform vir gegradueerdes – het in net meer as 'n jaar al 'n stewige 4 200 studente en 250 maatskappye op sy platform geregistreer.

Hierdie innoverende platform wat werkgewers, gegradueerdes en universiteite landwyd verbind, is aan die begin van die US se gradeplegtigheidsweek op 5 Desember 2022 bekendgestel. Gradlinc is 'n noodsaaklike oplossing om werkgewers, gegradueerdes en universiteite op 'n nasionale wolkgebaseerde platform te verbind. Die platform se unieke bypassende algoritme verseker dat werkgewers se posvereistes bykans perfek belyn met die gegradueerdes se vaardighede. Die Universiteit Stellenbosch se innovasie-afdeling, Innovus, het hierdie inisiatief gefinansier.

Gradlinc se reis het begin as 'n oplossing vir gegradueerdes se kritieke behoeftes aan werkgeleenthede as hulle pas afgestudeer het, veral ook as grond van die besef dat baie tersiêre instellings soortgelyke gegradueerde indiensnemingsuitdagings in die gesig staar. Daar is boonop slegs 'n handjievol toegewyde werkportale vir studente beskikbaar. In 'n dapper stap het Gradlinc die strategiese besluit geneem om 'n nasionale platform te bou vir studente van alle instellings, met die doel om hindernisse vir werksoekende studente uit die weg te ruim.

Universiteits student van regoor die land meld daagliks op Gradlinc aan en daar is daadwerklike pogings om studente van private universiteite en instellings ook aan boord te kry. Altesame 23 van die 26 openbare universiteite is tans ingeteken op die Gradlinc-platform. Die meeste intekenare is voorgraadse studente, gevolg deur honneurs-, meesters- en doktorale studente. Altesaam 20 persent van studente het grade in Lettere en Sosiale Wetenskappe, gevolg deur BSc Menslike Lewenswetenskappe, BSc Molekulêre Biologie en Biotegnologie, LLB, Internasionale studies, Bestuurswetenskappe en Finansiële Rekeningkunde, met Ingenieurswetenskap en Mediese Wetenskappe nie ver agter nie.

'n Onlangse getuigskrif het gelui: “As 'n aspirant BSc Menslike Lewenswetenskappe-gegradueerde was werksoekery 'n gereelde en dikwels baie stresvolle aktiwiteit vir my. Gradlinc het my nie net met die werksoek-proses gehelp nie, maar ek kon dit doen op 'n eenvoudige en gebruikersvriendelike webwerf. Die platform stel maatskappye in staat om poste en internskappe beskikbaar te stel vir onlangse gegradueerdes, wat uiters nuttig was. Gradlinc het voorsiening gemaak vir 'n vinnige en maklike aansoekproses en het my gehelp om die regte werk vir my te vind."

“Die storie van Gradlinc is een van ontwikkeling van Afrika-oplossings vir Afrika-probleme – 'n platform wat oplossings bied vir mense wat dit die nodigste het. Dit is 'n bewys van die gesamentlike poging wat nodig is om gegradueerde indiensneming in Suid-Afrika aan te spreek," het Lizane Füzy, hoofbestuurder van Gradlinc, gesê.

Verbetering van die gegradueerde se indiensneembaarheid

Gradlinc se jongste toevoeging is die Gradlinc Employability Award, 'n program wat ontwerp is om aktiwiteite soos vrywilligerswerk en werkswinkelbywoning te erken en te beloon. Dit stel studente in staat om punte te verdien wat in die vorm van kentekens op hul profiele reflekteer. So kan werkgewers voornemende werknemers se diensbare talent erken. "Ons beoog om Gradlinc vanjaar na skole uit te brei om so studente se indiensneembaarheid reeds in 'n vroeë stadium te fasiliteer en so 'n sterk grondslag te lê waarop hulle suksesvolle loopbane kan bou," het Füzy gesê.

In Januarie vanjaar het Gradlinc 'n moderne aanlyn werkskadu-ervaring begin deur 'n weeklikse webinarreeks getiteld "A day in the life" aan te bied. In hierdie reeks word professionele persone vanuit die bedryf uitgenooi na 'n  regstreekse sessie waar hulle hul insigte oor verskeie loopbane deel. Die webinars, wat vir studente en skoolleerlinge geskik is, bevat regstreekse vraag-en-antwoord-sessies en kan ook daarna op Gradlinc se YouTube-kanaal gekyk word.

Füzy sê wat Gradlinc onderskei, is hul toewyding om die jeug te ondersteun en gegradueerdes 'n stem te gee, soos een student opgemerk het: "gewoonlik bepaal die poskriteria dat 'n aansoeker ondervinding benodig". Maar waar kry jy dit as jy pas gegradueer het? In gevalle soos hierdie help Gradlinc se algoritme om werkgewers wat indiensneembare gegradueerdes soek, met relevante kandidate te verbind,  ten spyte van min of geen ervaring nie. Studente verloor ook nie toegang tot die platform na graduering nie, aangesien hulle lewenslange toegang het. Hierdie verbintenis verseker 'n volgehoue verbintenis tussen die akademie en die professionele lewe. Gradlinc bied ook uiteenlopende geleenthede, insluitend deeltydse rolle, voltydse poste, vakansiewerk en internskappe, wat 'n omvattende platform vir loopbaanontwikkeling skep.

In 'n onlangse toekenning het Gradlinc uitgestaan as een van die top-tien finaliste in die AfricaIgnite Pitch-kompetisie. Die kompetisie is gehou in samewerking met die Start-up World Cup, aangebied deur Pegasus en gehou by die Africa Tech Festival tussen 14 en 16 November 2023. “Hierdie erkenning bewys Gradlinc se verbintenis om volhoubare oplossings vir die jeug te skep en 'n florerende entrepreneuriese landskap in Afrika te bevorder," sê Füzy.


Besoek Gradlinc vir meer inligting en volg ons op sosiale media:

Instagram: gradlinc_sa 

Facebook: gradlincSA 

LinkedIn: gradlinc

X: gradlinc_sa 

YouTube: @gradlinc