Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Brian Warren: 'n Gevierde chirurg en leermeester
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 29/01/2024

Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch (US) betreur die afsterwe van prof Brian Warren, 'n hoogaangeskrewe chirurg en onderwyser, en voormalige hoof van die Departement Chirurgiese Wetenskappe.

Sy lang en roemryke loopbaan aan die US het oor drie dekades gestrek, waarvan die helfte in die rol van Hoof van die Afdeling Chirurgie gedien is, en 10 jaar as Uitvoerende Hoof van die Departement Chirurgiese Wetenskappe. Warren het in 2016 formeel by die Fakulteit afgetree, maar het by voorgraadse en nagraadse opleiding, sowel as bio-etiek en mediese reg betrokke gebly.

"Sy toewyding en leierskap in die Departement oor 'n tydperk van 30 jaar was standvastig, en hy het die talisman geword rondom wie sy kollegas kon floreer en uitstekende resultate verwag," sê prof Jeanne Lubbe van die Afdeling Chirurgie, een van Warren se 'n oud-studente en kollegas.

Hy was 'n jarelange en standvastige teenwoordigheid op die Suid-Afrikaanse chirurgiese toneel en het in die leierskap van verskeie chirurgiese verenigings en -genootskappe gedien. Hy was ook 'n stigterslid van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Endoskopiese Chirurge, wat sy vroeë aanvaarding van laparoskopiese chirurgie weerspieël.

Uitsonderlike onderwyser

Desnieteenstaande hy 'n onuitwisbare stempel op die chirurgiese veld in Suid-Afrika afgedruk het, sal hy die ook onthou word vir die onfeilbare opleiding van mediese studente en jong chirurge. “Chirurge wat onder hom opgelei het, haal hom vandag nog aan," sê Lubbe. “Kliniese assistente wat bekend is daarvoor dat hulle tydens lesings slaap, het wakker gebly toe hy gepraat het, aangegryp deur sy ensiklopediese chirurgiese kennis en die gemak waarmee hy probleme kon vereenvoudig en oplos. Sy kennis en insig van die vak was 'n inspirasie vir diegene wat hy opgelei het.

"Die impak van prof Warren se onderrig in die kliniese omgewing of in die klaskamer sal die blywende herinnering wees wat die meeste van ons sal koester," sê Lubbe. "Hy het 'n stilswyende geloof in sy studente gehad en hy het 'n streng voorbeeld geïnspireer van hoe 'n chirurg moet dink en optree."

Agtergrond en opleiding

Warren is in die Oos-Kaap gebore en het sy skoolopleiding aan Selborne College in Oos-Londen voltooi. In 1974 verwerf hy sy MBChB met lof aan die Universiteit van Kaapstad, en voltooi sy internskap- en mediese beampte-jare by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad. Hy het sy chirurgiese opleiding aan die US ontvang en sy MMed cum laude in 1985 behaal, en die volgende jaar genootskappe van die Kollege of Chirurge van Suid-Afrika en die Royal College of Surgeons van Edinburgh ontvang.

Hy is in 1985 as senior lektor by die US aangestel en is in 1991 bevorder tot Hoof van Gastroënterologie. In 1995 word hy as professor ingehuldig, en hy is in 2002 aangestel as Hoof van die Afdeling Chirurgie, en Uitvoerende Hoof van die Departement van Chirurgiese Wetenskappe in 2006.

"Hy het 'n departement gebou waar alle lede gerespekteer word, mekaar onfeilbaar ondersteun, verandering omhels, voortdurend gegroei het, verheug was oor die uitdagings van harde werk en lang ure, en hoewel klein, saamgekom het as een samehangende eenheid," sê Lubbe oor sy nalatenskap.

“Sy liefde vir sy familie, veral sy 'laatlam' Lara, sy liefde vir krieket, sy merkwaardige intelligensie en breë chirurgiese kennis, sy uitstekende geheue, sy wrang sin vir humor, sy kalm en respekvolle manier, sy besonderse begrip van die menslike natuur en sy morele duidelikheid in die uitdagende mediese regs- en etiese kwessies sal onthou word. Maar dit was sy onderrig wat die grootste impak gehad het op die generasies dokters en spesialiste wat hy help vorm het," sê Lubbe.