Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die Universiteit Stellenbosch skep nuwe aansoekportaal vir kollateraal-gesteunde studielening vir studente met finansiële uitdagings
Outeur: Petro Mostert
Gepubliseer: 04/01/2024

Om die finansiële uitdagings wat studente wat deur die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) befonds word en deel is van die sogenaamde “vermiste middel" aan te spreek, het die Universiteit Stellenbosch (US)'n nuwe, toegewyde studieleningsaansoekportaal bekendgestel.​

“Die Universiteit het in oorleg met die studentefinansieringsfasiliteerder Student Hero, vooraanstaande Suid-Afrikaanse banke en die finansiële diensverskaffers Fundi en Manati die lewensvatbaarheid van kollateraal-gesteunde studentelenings ondersoek," sê Lerato Mkhabela, Adjunkdirekteur by die US se Sentrum vir Voorgraadse Beurse en Lenings (SVBL).

Sy sê dat 'n paar van die banke en finansiële diensverskaffers tans kollaterale leningsopsies ontwikkel en dat die US beoog om hierdie oplossings in fases vanaf die begin van volgende jaar tot die beplande voltooiing in Junie 2024 te implementeer.

Waarom hierdie finansiële-ondersteuningsinisiatief?

“Die inisiatief het ontstaan as 'n reaksie op die verblyftoelaagperk van R45 000 per jaar wat in 2023 opgelê is op studente wat deur NSFAS befonds word en wat tot 'n tekort op dié studente se studentegelderekeninge gelei het. Daar was ook 'n behoefte aan befondsing vir studente in die vermiste middel (studente uit 'n huis waar die huishoudelike inkomste tussen R350 000 en R600 000 per jaar is; of indien meer as een student in die huis aan 'n universiteit studeer, waar die huishoudelike inkomste tussen R600 000 en R1 miljoen per jaar is). Die US besef hoe belangrik toeganklike en buigsame finansiële ondersteuning is om te sorg dat elke student hulle akademiese doelwitte sonder onnodige finansiële las kan nastreef," het Mkhabela gesê.

Wie is die leningverskaffers?

Volgens Mkhabela is die Universiteit tans in gesprek met prominente banke om hierdie kollateraal-gesteunde studentelenings te verskaf. Die banke is besig met produkontwikkeling en die lenings sal aan studente beskikbaar gestel word sodra hierdie prosesse afgehandel is. Daarbenewens diversifiseer vennootskappe met finansiële diensverskaffers soos Fundi en Manati die opsies wat aan studente beskikbaar is verder.

Watter soort lenings sal beskikbaar wees?

“Die aansoekproses bring verskeie befondsingsopsies saam op 'n enkele platform. Sommige banke bied gespesialiseerde lenings spesifiek vir studieprogramme in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (STEM), wat geen kollateraal vereis nie. Studente wat nie vir hierdie soort lening kwalifiseer nie, sal die geleentheid kry om voordeel te trek uit kollateraal-gesteunde lenings wat die Universiteit in samewerking met die betrokke bank of finansiële instelling sal verskaf sodra dit beskikbaar is."

Mkhabela sê dat implementering in fases sal plaasvind en dat daar beoog word om die proses teen Junie 2024 af te handel.

Wat is die leningaansoekproses?

Voorgraadse studente aan die US kan nou aansoek om hierdie studielenings op die Universiteit se beurse en lenings-webwerf. Die aanlyn aansoekproses is soortgelyk aan dié van die Finansiële Afdeling se US-befondsingsgeleenthede vir 2024 sodat die proses so glad as moontlik verloop. Die Universiteit bly verbind tot die aansoekproses om te verseker dat studente maklik toegang bekom tot die finansiële ondersteuning wat hulle nodig het. Meer inligting oor die verskillende leningsopsies is ook op die webwerf beskikbaar.

Wie moet om 'n studielening aansoek doen?

Die Universiteit Stellenbosch moedig voorgraadse studente wat tans deur NSFAS befonds word* – of wat vir 2024 om NSFAS-befondsing aansoek gedoen het – en huidige voorgraadse studente wat deel vorm van die sogenaamde “vermiste middel" aan om via hierdie skakel aansoek om 'n kollateraal-gesteunde studielening te doen.

*Om finansieël vir NSFAS te kwalifiseer, moet die student uit 'n huis met 'n huishoudelike inkomste van minder as R350 000 per jaar kom. Vir 'n student wat met 'n gestremdheid leef, moet hulle uit 'n huis met 'n huishoudelike inkomste van minder as R600 000 per jaar kom.

 

 

MEDIA NAVRAE

Petro Mostert

0823346193

petromostert@sun.ac.za