Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Visepresident van Suid-Afrikaanse Reserwebank nou ʼn ere-Matie
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 14/12/2023

Die Universiteit Stellenbosch (US) het ʼn eredoktorsgraad aan een van die visepresidente van die Suid-Afrikaanse Reserwebank Nomfundo Tshazibana by sy Desember-gradeplegtigheid toegeken. Sy het die graad Doktor in die Handelswetenskappe (DCom), honoris causa, Donderdag (14 Desember 2023) by die gradeplegtigheidseremonie vir die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe ontvang.

Tshazibana is vereer vir haar uitsonderlike bydrae tot beleid en besluitneming in Afrika, haar visionêre leierskap en verbintenis tot die bevordering van ekonomiese groei, en haar toewyding aan die ontwikkeling van die volgende geslag ekonome.

Tshazibana het in haar aanvaardingstoespraak die bydrae van universiteite tot die ontwikkeling van beleide wat die samelewing nie net vandag nie, maar ook in die toekoms raak nie, beklemtoon.

“Selfs die slimste openbare beleidmakers kan nooit daarop aanspraak maak dat hulle alles weet nie. Hoëronderwysinstellings soos die Universiteit Stellenbosch het 'n enorme rol te speel om hierdie leemtes te vul deur verskillende stemme te laat hoor.

“Hulle is een van die min oorblywende veilige ruimtes waar teenstrydige idees gemaklik naas mekaar kan bestaan. Hulle is plekke waar ons net soveel uit die geskiedenis leer as wat ons uit die hede leer, en waar ons scenario's oor die toekoms kan ontwikkel."

Tshazibana het bygevoeg dat daar 'n behoefte is aan 'n sterker akademiese stem in die samelewing, wat ons daaraan kan herinner dat daar verskeie menings in die wêreld is wat op enige stadium ondersoek en uitgedaag kan word.

“Dit is hoe ons die samelewing kan transformeer. Dit is hoe ons inklusiewe en ingeligte gesprekke voer."

Sy het 'n beroep op hoëronderwysinstellings gedoen om hul regmatige plek in die samelewing in te neem en om die voorstelle van beleidmakers uit te daag ten einde deursigtigheid en verantwoordbaarheid van beleidskeuses te verbeter.

Meer oor Tshazibana

Nomfundo Tshazibana is 'n visepresident van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB), uitvoerende hoof van die bank se omsigtigheidsowerheid én lid van die monetêre beleidskomitee. Daarbenewens verteenwoordig sy Suid-Afrika in die Basel-komitee oor banktoesig, wat internasionale standaarde vir reguleringsbanke stel.

Die akademiese loopbaan van dié ekonoom met uitgebreide ervaring in openbare beleidsformulering en -ontleding het reeds vroeg begin. Sy matrikuleer op 15-jarige ouderdom en verwerf haar eerste graad, 'n Baccalaureus in die Handel, op 18 aan die Universiteit van KwaZulu-Natal. Later behaal sy ook 'n honneurs- en magistergraad in Ekonomie aan dieselfde instelling.

Sy het die afgelope 23 jaar verskeie kernposte by plaaslike en internasionale instellings beklee, waaronder die Nasionale Tesourie, die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika, en die Internasionale Monetêre Fonds.

Tshazibana vervul 'n belangrike rol in die bevordering van ekonomiese groei en stabiliteit in Suid-Afrika en beywer haar vir die ontwikkeling van die volgende geslag openbaresektor-ekonome en die verbetering van die gehalte van Ekonomie-opleiding. Hiervan getuig haar vorige betrokkenheid by die direksie van Economic Research Southern Africa (Ersa) sowel as haar deelname aan die jaarlikse Openbare Ekonomie-winterskole, wat die regering se tegniese adviessentrum in samewerking met die Ekonomie-departemente van Suid-Afrika se voorste universiteite, waaronder die Universiteit Stellenbosch, aanbied. Boonop dien sy in die keurderspaneel vir die Rhodes-beurs in Suider-Afrika.

  • ​Foto: Nomfundo Tshazibana by die gradeplegtigheid. Fotograaf: Stefan Els