Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US verleen eregraad aan sportreg- en sportsakekenner
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 14/12/2023

Die Universiteit Stellenbosch (US) het by sy Desember-gradeplegtigheid ʼn eredoktorsgraad aan die toonaangewende Amerikaanse sportreg- en sportsakekenner Prof Kenneth Shropshire van die Wharton-skool aan die Universiteit van Pennsilvanië in die Verenigde State van Amerika verleen. Hy is Donderdag (14 Desember 2023) met graad Doktor in die Handelswetenskappe (DCom), honoris causa, by die gradeplegtigheidseremonie vir die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe vereer.

Shropshire het die eregraad ontvang vir sy toewyding aan die ontwikkeling van sportreg en die sportsakesektor, die ruimhartigheid waarmee hy sy kennis deur die akademie, die media, boeke en ander platforms deel, en vir sy visionêre leierskap en verbintenis tot die ontwikkeling van bewysgebaseerde oplossings vir die probleem van ongelyke toegang.

Shropshire het in sy aanvaardingstoespraak die US en die Fakulteit vir die eregraad bedank. “Ek is geëerd om hierdie permanente, dieper verhouding met die universiteit te hê." Hy het bygevoeg dat dit die eerste eredoktorsgraad in sy familie is.

Shropshire het oor sy kundigheidsgebied gepraat en gesê die kwessies van toegang tot sport, toegang tot magsposisies en atlete se oorgang van sport na die werklike lewe is universeel. “Dit maak nie saak waar jy na die kwessies kyk nie, ons moet dit oplos en die lewe op daardie manier beter maak." Hy meen die US is 'n baken om hierdie kwessies te bestudeer op 'n manier wat dit nog nie voorheen nagevors is nie.

Meer oor Shropshire

Prof Kenneth Shropshire se eervolle loopbaan in sport, sake en die regte as 'n professor, sakekonsultant, skrywer en prokureur strek oor 40 jaar. Sy ervaring sluit 'n wye verskeidenheid sportverwante kwessies in, soos leiding met internasionale sportbyeenkomste, stadion- en arenakonstruksie en -finansiering, die verskuiwing van franchises, atlete se oorgang van die speelveld tot die sakewêreld, en diversiteit in sport.

Shropshire het al invloedryke boeke oor ras en sport sowel as sportagente die lig laat sien. Hy is ook die medeskrywer van rigtinggewende tekste oor sportsake vir bestuurskole, en oor sportreg vir voorgraadse studente. Buite die sportwêreld gebruik hy sy sakevernuf as lid van die direksies van 'n openbare maatskappy, 'n bank, 'n opvoedkundige onderneming, en verskeie entiteite sonder winsoogmerk.

Hy het 'n termyn van vyf jaar as stigters- uitvoerende hoof van die Globale Sportinstituut en Adidas Uitgelese Professor in Globale Sport aan Arizona-staatsuniversiteit voltooi. Tans is hy fakulteitsdirekteur van die Wharton Coalition for Equity and Opportunity sowel as David W. Hauck Emeritus Professor by die Wharton-skool vir Africanastudies.

Foto: Prof Kenneth Shropshire by die gradeplegtigheid: Fotograaf: Stefan Els