Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontvanger van eredoktorsgraad trots om lid van Matie-familie te wees
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 13/12/2023

“Ek staan hier voor julle diep geëerd en verootmoedig deur die erkenning wat aan my gegee is en die voorreg om ʼn lid van Stellenbosch se roemryke alumni-familie te word."

Met hierdie woorde het die internasionaal-erkende vakkundige en biostatistikus, prof Lehana Thabane, die eredoktorsgraad wat die Universiteit Stellenbosch (US) by sy Desember-gradeplegtigheid aan hom verleen het, in ontvangs geneem. Hy is Dinsdag (12 Desember 2023) met die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc) (Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe), honoris causa, vereer by die gradeplegtigheidseremonie vir die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

Thabane het die eregraad ontvang vir sy baanbrekerswerk in gesondheidsnavorsing en klinieseproefmetodologie en die bevordering van bewysgebaseerde geneeskunde en gesondheidsorg, vir die oordrag van sy kennis en kundigheid deur die akademie, sy werk om toegepaste kliniese navorsingsvermoë te bou, en sy toegewyde mentorskap vir die volgende geslag wetenskaplikes.

Thabane het in sy aanvaardingstoespraak die belangrike rol wat universiteite in die samelewing speel, beklemtoon. “Hulle is die smeltkroeë waar toekomstige leiers gesmee word en toegerus word met die vaardighede en kennis om tegnologie in te span vir die verbetering van die mensdom, vir die bekamping van siektes, en die tempering van die nadelige gevolge van klimaatsverandering."

Hy het die US geloof as 'n gerespekteerde instelling wat “nie net aan die voorpunt van Suid-Afrika se transformasie uit die skadu van apartheidstelsel gestaan het nie, maar ook aanhou om die voortou te neem in wetenskaplike innovasie, en bydra tot 'n beter toekoms vir komende generasies."

Thabane het die graduandi aangemoedig om die transformerende krag van samewerking en mentorskap te omarm, 'n positiewe perspektief te behou, en hulle sagte vaardighede te verfyn.

“Bly nederig in julle strewe na kennis en wysheid en dors na meer. Gebruik julle nuutgevonde kennis vir die verbetering van die mensdom en hou altyd dankbaarheid na aan julle harte."

Meer oor Thabane

Prof Lehana Thabane is 'n professor in Biostatistiek aan die McMaster-universiteit en visepresident van navorsing by St Joseph's Healthcare Hamilton, albei in Kanada. Sy baanbrekerswerk in die ontwikkeling en toepassing van vernuwende biostatistiese metodes vir nuwe tipes kliniese proewe, waaronder platformproewe vir Covid-19, het die weg gebaan vir innoverende mediese en gedragsintervensies wêreldwyd. Thabane is hoogs gerespekteer vir die indrukwekkende diepte en trefwydte van sy statistiese en metodologiese kundigheid en daarom is hy in aanvraag onder gesiene lede van die internasionale wetenskapsgemeenskap om as hoofstatistikus in deurslaggewende proewe te dien.

Hy is veral passievol oor die ontwikkeling van toekomstige vakkundiges. Meer as 200 MSc- en PhD-studente het al onder sy leiding gegradueer, en meer as tien internasionale genote het baat gevind by sy mentorskap. As deel van sy verbintenis tot studentebemagtiging deur onderwys en opleiding, het hy al impakryke vermoëbou-inisiatiewe in verskeie Afrikalande gelei. Dít sluit in die bekendstelling van die MSc-program in Biostatistiek by die Universiteit Stellenbosch (US) in 2017, wat reeds meer as 30 bedrewe biostatistici opgelewer het. Thabane dien die afgelope ses jaar as buitengewone professor in die US se Afdeling Epidemiologie en Biostatistiek.

Hy het al meer as 1 000 ewekniebeoordeelde artikels in toonaangewende vaktydskrifte soos die New England Journal of Medicine, Lancet en Annals of Internal Medicine gepubliseer, en sy werk is reeds oor die 60 000 keer aangehaal. Boonop het hy aan meer as 300 nasionale en internasionale studies saamgewerk.

  • Foto: Prof Lehana Thabane by die gradeplegtigheid: Fotograaf: Stefan Els​