Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Enkelma se durf neem haar van plattelandse dorpie na PhD in molekulêre biologie
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 13/12/2023

Die 40-jarige dr Rachiel Gumbo, wat in die klein dorpie Nemangwe in die Middellandse provinsie van Zimbabwe grootgeword het, was altyd vir groter dinge bestem. Sy het letterlik en figuurlik 'n ver pad gestap sedert sy haar hoërskoolopleiding voltooi het. Gumbo het durf en vasberadenheid getoon en die kruin van akademiese sukses behaal toe sy Dinsdag 12 Desember 2023 haar doktorsgraad in molekulêre biologie by die Universiteit Stellenbosch (US) se Desember-gradeplegtigheid verwerf het.

Maar op haar pad na haar PhD moes sy 'n hele paar struikelblokke en uitdagings oorkom.

Gumbo, die oudste van drie kinders, het in 2005 'n BSc-honneursgraad in Biologiese Wetenskappe aan die Midlands State University in Zimbabwe verwerf, maar kon weens 'n gebrek aan toekennings en beurse nie haar studies voortsit nie. Sy het uiteindelik as laboratoriumassistent by die Hwange Colliery-hospitaallaboratorium gaan werk en wiskunde-, fisiese wetenskap- en biologieklasse vir hoërskoolleerders aangebied.

Hoewel sy dié ompad moes neem, sê Gumbo sy is dankbaar dat sy die geleentheid gehad het om klas te gee. “Om onderwys te gee, was 'n ongelooflike waardevolle ervaring aangesien dit my selfvertroue 'n hupstoot gegee het, my geleer het om kreatief en geduldig te wees met leerders, en bowenal het dit my 'n goeie sin vir humor gegee."

Die geluk draai

Die enkelma van twee seuns het in 2007 na Suid-Afrika verhuis om verder te studeer, maar dit was moeilik om as 'n buitelander finansiering te bekom.

Om die pot aan die kook te hou, het Gumbo privaat naskoolse lesse vir leerders aangebied en ook deeltydse onderrig by Education Matters in Kaapstad gegee voordat sy 'n pos as sekretaresse by Forest Creations (Edms) Bpk, 'n houtwerkmaatskappy in die stad, aanvaar het. Haar geluk het egter in 2018 gedraai toe sy op 'n plasing deur prof Michele Miller van die US se Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika gereageer het vir 'n nuwe student om by die navorsingsgroep vir dieretuberkulose aan te sluit. Miller sou later saam met dr Tanya Kerr uit dieselfde afdeling haar studieleier word. “Toe ek in 2019 by die groep aansluit, het my droom om verder te studeer, 'n werklikheid geword," vertel Gumbo.

Nadat sy in 2019 haar BSc Honneurs in molekulêre biologie aan die US verwerf het, het Gumbo vir 'n MSc in dieselfde vakgebied ingeskryf. Danksy die uitstekende gehalte van haar navorsing is haar meestersgraad na 'n PhD opgegradeer – 'n merkwaardige prestasie en iets wat selde in die akademie gebeur. Terwyl sy met haar doktorsgraad besig was, het sewe van Gumbo se artikels in internasionale vaktydskrifte verskyn en het sy 'n gesogte beurs van die Germany Academic Exchange Service (DAAD) ontvang. Sy sê haar grootste uitdaging as 'n ouer internasionale student by 'n Suid-Afrikaanse Universiteit was om vir beurse te kwalifiseer en dit het amper haar studies te ontspoor.

PhD-navorsing

Gumbo se PhD het op die ontwikkeling van immunologietoetse gefokus om dieretuberkulose (TB) by leeus, luiperds en jagluiperds in Suid-Afrika makliker te kan opspoor. Diere-TB is 'n ernstige chroniese aansteeklike siekte wat deur infeksie met Mycobacterium bovis (M. bovis) by beeste en ander mak diere, asook baie wildspesies, veroorsaak word, met moontlike oordrag na mense.

Volgens Gumbo het verskeie jagluiperds, leeus en luiperds weens diere-TB gevrek. Aangesien M. bovis in onbesmette populasies ingebring kan word en spesiespesifieke immunologiese toetse vir die diagnose van diere-TB beperk is, het sy 'n diagnostiese toets ontwikkel wat met behulp van kommersieel-beskikbare toetsstelle tussen M. bovis-besmette en onbesmette leeus, luiperds en jagluiperds kan onderskei.

“Die ontwikkeling en inkorporering van spesiespesifieke diagnostiese toetse vir die roetine-sifting van leeus, luiperds en jagluiperds is noodsaaklik vir die vroeë opsporing van TB by wild ten einde veeartse, navorsers en bestuurders in staat te stel om die verspreiding van infeksie te voorkom en siektebeheer te versterk," sê Gumbo.

“Navorsing wat op diere-TB fokus, het 'n groot invloed op menslike gesondheid, voedselsekerheid en die lewensbestaan van landelike gemeenskappe in Afrika wat op ekotoerisme as primêre bron van inkomste staatmaak. 'n Beter begrip van diere-TB sal help om Afrika se kwesbare wildspesies en unieke biodiversiteit te beskerm."

Geloof

Wanneer sy op haar lewensreis terugkyk, sê Gumbo sy is aangedryf deur die begeerte om haar en haar kinders se lewensgehalte te verbeter. “Toe dinge moeilik raak, het ek myself daaraan bly herinner dat ek dit vir my kinders doen."

As 'n gelowige glo Gumbo in die krag van Goddelike ingryping. “Ek het hoofsaaklik op my geloof staatgemaak terwyl ek my twee seuns grootgemaak en gestudeer het. Ek glo God het self my studieleiers, prof Michele Miller en dr Tanya Kerr, oor my pad gestuur om my professioneel en persoonlik te ondersteun en om my te help om die toppunt van akademiese sukses te bereik."

Gumbo se studieleiers praat met die grootste lof van haar.

“Rachiel was die perfekte student en het die nodige passie en toewyding getoon om 'n wetenskaplike te word. Haar positiewe gesindheid en warm persoonlikheid het haar 'n 'gunsteling' in ons afdeling gemaak. Ons is ongelooflik trots op haar prestasies en sien daarna uit om haar in 2024 as nadoktorale genoot by ons te verwelkom."

Aangesien Gumbo 'n paar struikelblokke op haar pad moes oorkom, het sy die volgende boodskap vir vroue wat soortgelyke probleme ondervind. “Eerstens, moenie dat jou agtergrond jou definieer nie, en moenie toelaat dat enigiemand vir jou sê jy kan nie iets doen nie. Hoewel jy dalk trane langs die pad mag stort, is daar altyd lig aan die einde van die tonnel."

Wanneer sy nie navorsing doen nie, bak Gumbo graag en toets sy nuwe kosresepte uit. “My ouer seun is mal oor kos, so ek probeer verskillende maaltye voorberei wat ek nog nie voorheen gemaak het nie. Maar soms flop dit." Benewens bak en kook, speel sy graag skaak en kyk WWE-stoei saam met haar seuns. Gumbo is ook lief vir atletiek en was vroeër 'n diskusgooier.

  • Foto: Dr Rachiel Gumbo by die gradeplegtigheid. Fotograaf: Stefan Els