Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-eregraad vir bekroonde akademikus, skrywer en genderaktivis
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 12/12/2023

Die bekroonde akademikus, skrywer en genderaktivis, Prof Pumla Dineo Gqola, het ʼn eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch (US) by sy Desember-gradeplegtigheid ontvang. Die graad Doktor in die Lettere (DLitt), honoris causa, is Maandag (11 Desember 2023) by die gradeplegtigheidseremonie vir die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan haar toegeken.

Gqola is vereer vir haar uitstaande bydraes tot die akademie en die impak wat haar werk in literêre- en kultuurstudies op sosiale transformasie in Suid-Afrika se hoëronderwyssektor gehad het.

Gqola het in haar aanvaardingstoespraak gesê sy is diep geëerd om 'n eregraad van die US te ontvang.

Sy het die waarde van 'n opleiding in die Geesteswetenskappe beklemtoon om ons te help om te leer hoe om krities te dink en om nuwe verhoudings met die wêreld om ons voor te stel.

“Hierdie erkenning maak vir my baie saak as 'n hardnekkige trotse lid van die Suid-Afrikaanse professoraat, 'n feministiese akademikus en as iemand wat toegewyd is aan die soort werk wat ons in die Lettere en Sosiale Wetenskappe doen.

“Ek word bemoedig deur julle vertroue en erkenning vir my werk in die dringendheid om nuut te dink oor ons land en die wêreld, oor ons plek in die wêreld, en om te verstaan hoekom ons steeds in die greep van geweld van geslag, ras, klas, en godsdienstige fundamentalisme vasgevang is."

Gqola het die graduandi aangemoedig om te help om weë te bewerkstellig na 'n samelewing wat anders is as ons verlede. Sy het byvoeg dat 'n opleiding in die Lettere en Sosiale Wetenskap ons help om in die aangesig van nuwe vorme van vernouende vryheid, daaglikse vernederings en toenemende ongelykheid ʼn bydrae te lewer tot die kollektiewe intellektuele en verbeeldingryke herskepping van ʼn regverdige wêreld.

Meer oor Gqola

Gqola se baanbrekerstudie, “What is slavery to me? Postcolonial/Slave memory in post-apartheid South Africa" (Wits University Press, 2010), was die eerste vollengte-studie om lig op slaafgeheue in Suid-Afrika te werk en het kritiese gesprek ontlok.

Sy het in 2016 die prestigeryke Alan Paton-prys vir nie-fiksie vir haar mylpaalwerk, “Rape: A South African Nightmare" (MF Books/Jacana, 2015) verower. Meer onlangs het Gqola die diepgewortelde krisis van geweld aan die hand van haar konsep van die “Female Fear Factory" (MF Books/NB-Uitgewers, 2021) verken deur die meganismes wat die verkragtingskultuur en toksiese vrouehaat verewig te ontrafel.

Afgesien van haar akademiese nastrewing, het Gqola ook haar onwrikbare toewyding tot maatskaplike geregtigheid en gendergelykheid getoon. Sy is in die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) se Ministeriële Taakspan oor seksuele teistering en geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrikaanse openbare universiteite aangestel en het hier haar toewyding tot die skep van veiliger ruimtes vir almal getoon. Verder dien sy in die Raad van Trustees van die Afrika-feminis se strategiese regsgedingfirma, Women's Legal Centre. As die 2023-wenner van die Falling Walls “Science Breakthrough of the Year"-toekenning binne Sosiale Wetenskappe en Geesteswetenskappe, daag Gqola se werk steeds die golf van geweld teen vroue en geslagsgebaseerde geweld uit.

Foto: Prof Pumla Dineo Gqola by die gradeplegtigheid: Fotograaf: Stefan Els​