Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vroue nie veilig in hulle eie huise
Outeur: Juliana Claassens
Gepubliseer: 07/12/2023

​Die jaarlikse 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders eindig Sondag 10 Desember. In ʼn meningsartikel vir News24 skryf prof Juliana Claassens (Departement Ou en Nuwe Testament) dat ons soms gewelddadige stories vertel om sin te maak van ʼn gewelddadige wêreld waarin vroue selfs nie in hulle eie huise veilig is nie.

  • Lees die vertaalde weegawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

Juliana Claassens*

Eendag lank, lank gelede was daar 'n klein meisietjie wie se ma haar 'n rooi kappie gemaak het ... hierdie storie wat ons vir kinders vertel, is maar al te bekend. By nadere beskouing is hierdie klassieke sprokie egter gevul met geweld, veral teen diegene wat die kwesbaarste is, en moet dit waarskynlik met 'n ouderdomsbeperking gepaard gaan.

Sentraal in hierdie verhaal van Rooikappie, wat haar ouma 'n paar koekies neem en deur 'n wolf opgeëet of amper opgeëet word, afhangende van die weergawe, is die tema van vreemdeling-gevaar tesame met die vrees vir bosse en donker plekke. Hierdie uiters ontstellende verhaal – geskryf deur die Grimm-broers, maar verteenwoordigend van verskillende mondelinge tradisies wat in die boslandskap rondom Marburg vertel word (wat ek goed leer ken het gedurende ons tyd in Duitsland) – is baie toepaslik in hierdie tyd van 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders (25 November – 10 Desember) – of oumas en jong meisies soos verteenwoordig in hierdie verhaal.

Sedert die Grimm-broers hierdie verhaal verewig het, was daar al verskeie oorvertellings wat elkeen die stemming en die gemeenskap se vrese verteenwoordig wat aanleiding gegee het tot hierdie aanpassings. Ek het onlangs op Angela Carter se kortverhaal “The Werewolf" afgekom. Hierdie einste kortverhaal het 'n lang opening wat die verhaal in 'n land laat afspeel waar dit baie koud en die mense se harte nog kouer is, met talle bygelowe en stories oor hekse en alles wat hulle kan doen, wat hoogty vier.

Carter se Rooikappie bevat 'n kinkel: die weerwolf blyk die ouma te wees, of die ouma die wolf, aangesien die ou vrou deur die hele dorp verjaag word wat haar as een van hierdie hekse beskou waarna daar in die eerste deel van die verhaal verwys word, en haar dan haar gewelddadig slaan en stenig totdat sy dood is. Die verhaal eindig met die dogtertjie wat in haar ouma se huis woon, waar sy voorspoedig is.

Dino Mušić merk in 'n interessante meningstuk oor Carter se hervertelling van hierdie gewilde sprokie tereg op dat Carter se aanpassing iets van die hedendaagse samelewing vasvang waar die strewe na materiële dinge dikwels swaarder weeg as die behoefte om sosiale en familiale verhoudings te handhaaf, wat gevaarliker kan wees as die wolwe wat in die skaduwees skuil.

Carter se Rooikappie is 'n verhaal waar geweld op verskillende vlakke gepleeg word, waar bejaarde vroue uit hulle huise gegooi word en valslik as hekse uitgemaak word. En waar gierigheid die norm is en die jong meisie ten koste van haar ouma voorspoed beleef. Hierdie verhaal se inleiding staan sentraal in die interpretasie daarvan, wat 'n koelhartige gemeenskap uitbeeld wie se verhale werklike gevolge het, veral vir vroue wat as uitgeworpenes beskou word met geweld wat kort daarna volg.

Carter se verhaal help ons om die verhale wat in 'n spesifieke gemeenskap versprei word en wat vroue as hekse en ou helleveë brandmerk, as kwaadwillig en verouderd te ondersoek. In Carter se weergawe is dit vroue wie se kase ryp word wanneer dié van hul bure dit nie doen nie of wat noue 'n band met 'n swart kat het, wat deur hulle gemeenskap as sinister beskou word. In vandag se wêreld kan verskillende verhale en opvattings bepaal hoe vroue, veral ouer vroue, beskou word. Ongeag wat, hierdie verhale is nie onskuldig nie en soos dit uit Carter se verhaal blyk, hou dit direk verband met die geweld wat die gemeenskap as geheel teen die ouma gepleeg het.

Ek het aan hierdie oorvertelling van 'n reeds skrikwekkende kinderverhaal in hierdie tyd gedink waarin ons 16 dae van aktivisme teen die geweld wat vroue en kinders in Suid-Afrika teister, waarneem. Elke dag word vroue en kinders deur intieme maats en familielede vermoor, wat die argument van vreemdeling-gevaar wat so dikwels deur mense voorgehou word wanneer hulle oor geslagsgebaseerde geweld praat, irrelevant maak, en dit is ook die kern van die oorspronklike Rooikappie-verhaal.

Miskien help Carter se hervertelling van hierdie klassieke sprokie ons ook om dieper te delf as die oënskynlike geweld wat die nuus haal om by diepliggende vlakke van strukturele en kulturele geweld uit te kom. In Carter se weergawe is die wolwe nie ons grootste probleem nie. In haar weergawe laat die wolf “'n sluk, amper 'n snik" uit terwyl hy weghardloop. Dit dui daarop dat die wolf pyn voel, en soos Carter byvoeg: “Wolwe is nie so dapper as wat hulle lyk nie."

Die 16 dae van aktivisme is bied aan ons die ideale geleentheid om te besin oor die maniere waarop geweld in ons huise en ons gemeenskappe voorkom. Die einde van Carter se verhaal bied 'n afgryslike blik op die ysingwekkende gevolge wanneer 'n gemeenskap ongevoelig met min deernis en respek vir die lewe bly en hoe gierigheid daartoe lei dat diegene wat die grootste risiko loop, nie veilig voel in hulle eie huise nie.

Ons vertel gewelddadige stories om sin te maak van ons gewelddadige wêreld, en ondersoek die donkerste hoeke van mense se harte en gedagtes terwyl ons probeer om die menslike toestand te verstaan. Hierdie verhale, van dié wat deur die Grimm-broers bymekaargemaak is tot dié wat skrywers soos Angela Carter kreatiewe nuwe vorms gegee het, help ons om 'n bietjie dieper te dink oor wie ons as gemeenskap is en wie ons wil word. 'n Gemeenskap waarin die meisietjies vry is om die bos aan te durf en waar oumas hulle dae kan slyt sonder vrees om opgevreet te word of, erger nog, met 'n weerwolf verwar te word.

*Prof Juliana Claassens is 'n professor in die Ou Testament en hoof van die Gender-eenheid in die Fakulteit Teologie by die Universiteit Stellenbosch.

​​