Die Universiteit Stellenbosch (US) het die strukture in plek gestel wat op die aanbevelings van die Khampepe-kommissie sal fokus. Ons reeks onderhoude met sleutel- US-personeellede wat die proses van die Komitee vir die Institusionele Reaksie op die Kommissie se Aanbevelings (CIRCoRe) stuur, werp lig op die werk van die vyf werkstrome wat die toekoms van die Universiteit vorm. In hierdie onderhoud deel prof Ronelle Carolissen insigte oor ʼn visie vir ʼn getransformeerde US.
Prof Carolissen is 'n kliniese sielkundige en professor in die Departement Sielkunde. Sy staan aan die hoof van die CIRCoRe-werkstroom wat op Studentelewe en Gemeenskappe konsentreer. Carolissen het van 2017 tot 2020 as die Vise-dekaan: Onderrig en Leer in die Fakulteit Opvoedkunde gedien en was van 2016 tot 2019 voorsitter van die Afdeling vir Gemeenskaps- en Sosiale Sielkunde van die Sielkundige Vereniging van Suid-Afrika (). Haar navorsingskundigheid en publikasies verweef twee onderling verbonde onderwerpe – feministiese sosiale geregtigheid en dekoloniale benaderings tot onderrig en leer, asook kritiese gemeenskapsielkundige perspektiewe op jeugburgerskap, identiteite, behoort en gemeenskapsbetrokkenheid in opvoedkundige kontekste.
Hoe beïnvloed jou navorsing en ervarings by die US die werk wat jy by CIRCoRe doen?
Baie van my navorsing het breedweg gefokus op feministiese perspektiewe van gelykheid en maatskaplike geregtigheid in hoër onderwys. Dit het my onwillekeurig oor kwessies van transformasie in hoër onderwys laat nadink – nie net op beleidsvlak nie, maar veral hoe dit 'n invloed op studente-ervarings het en wat soms die ellende van studente-ervarings kan wees, afhangend van waar jy gebore is, hoe jy lyk en vir wie jy lief is. Ek kan instinktief met sommige van die uitdagings identifiseer wat studente ervaar, bloot omdat ek dit ook as student by verskeie universiteite ervaar het. Ek dink dit is vir ons baie belangrik om te oorweeg hoe navorsing nie net deur die literatuur beïnvloed is nie, maar ook deur jou eie ervaring.
Ek het vroeër in my loopbaan navorsing gedoen oor hoe studente uit verskeie vakgebiede oor grense van beroep, geslag en ras, klas en instellings en gemeenskappe heen met mekaar omgaan. Dit was fassinerend om te ondersoek hoe studente mekaar waarneem, ook oor instellings heen.
Ek was in 2018 saam met prof Rob Pattman mederedakteur van die boek Transforming Transformation in Research and Teaching at South African Universities. Sowat nege van die 27 hoofstukke is aan skrywers van die US gewy. Dit het 'n kykie op studente-ervarings gebied en hoe die kampus vir sommige 'n ruimte van uitsluiting kan wees en hoe uitsluiting aangepak kan word.
Wat is die belangrikheid van die CIRCoRE-proses vir die US?
Sommige van my kollegas het gesê hulle weet nie wat die Khampepe-verslag sou bereik nie, want ons het geweet wat dit vir ons sou sê. Hoekom het ons 'n kommissie en ʼn verslag nodig gehad?
Ek sou dikwels vir hulle sê, weet jy, die belangrikheid van so 'n kommissie is eerstens om die uitdagings uit te lig wat ons weet bestaan. Maar dit gee ons ook nog 'n geleentheid om dít wat ons nagelaat het om te herstel, reg te maak. En ek dink dit is so belangrik, juis omdat dit ons nog 'n geleentheid bied om hierdie Universiteit by 'n punt te bring waar dit nie net een van die topuniversiteite in Suid-Afrika is wat navorsing en onderrig betref nie, maar dit wys dat die US ook 'n topuniversiteit in Suid-Afrika kan wees wat betref die skep van modelle van hoe 'n mens met kwessies soos insluiting worstel.
Sommige mense noem dit diversiteit, ander noem dit transformasie en ander kan dit dekolonisasie noem. Wat ons dit ook al noem, ek dink dit is 'n belangrike baken in die lewe van hierdie Universiteit wat wys dat ons die Khampepe-verslag ernstig opneem en omvattend kyk na wat ons kan doen om hierdie kwessies te verander.
Jy is al langer as 20 jaar by die US, wat dink jy van die veranderinge wat jy gesien het?
Ek dink dit is 'n groot pluimpie vir die US dat die kampus baie anders lyk as toe ek in 2002 hier aangekom het. Ja, ons het lank geneem om hier te kom, maar daar was baie veranderinge. Ons het baie senior akademici wat as internasionale kundiges beskou word en wat toevallig swart is. So dit is 'n goeie ding. 'n Mens hoef ook net op kampus te loop om te sien hoe hierdie kampus in demografiese terme verander het.
Maar dit sal natuurlik so maklik wees as insluiting net oor die transformasie van getalle gaan. Daar is kulture wat ons as normaal begin aanvaar het en die vraag is hoe daardie kulture oor 'n veranderde demografie voel. Die uitdaging is een van kwalitatiewe transformasie en hoe ons in 'n nuwe konteks met mekaar omgaan. Sommige van die kernkwessies waarmee ons te doen het, is struktureel, opvoeding en diskriminasie, of dit implisiet of openlik is.
Wat was die fokus van jou werkstroom hierdie jaar?
Ons ontwikkel voorstelle om die praktyke van alle Universiteitsomgewings te belyn wat vir die fasilitering van ʼn transformerende studente-ervaring aan die US verantwoordelik is. Ons benadering was samewerkend en geïntegreerd. Een van ons doelwitte is om studente en personeel op te voed oor insluiting en verskille sodat ons almal in die gesamentlike ruimtes op kampus kan floreer. Ons sal byvoorbeeld met verskeie entiteite saamwerk om studente by aanstaande jaar se verwelkomingsweek te betrek.
Ons fokus ook op navorsing om internasionale en plaaslike beste praktyke te identifiseer wat vir ons hier op Stellenbosch nuttig sal wees om te verstaan hoe strukturele prosesse individuele ervarings beïnvloed. Ons werk nou saam met akademici soos prof Elmarie Costandius van die Departement Visuele Kunste wat die afgelope paar jaar instrumenteel in die inisiëring van die US se visuele regstellingsproses was. Die terugvoer was baie waardevol om te verstaan hoe praktyk teorie beïnvloed.
Wat motiveer jou en hou jou tot die transformasieproses verbind?
Ek word gemotiveer deur die ervarings van uitsluiting wat ek as kind deurgemaak het – soos dat ek weens my velkleur gevra is om die dokter se spreekkamer deur 'n agterdeur binne te gaan. Hierdie ervarings bly vir altyd by jou en neem toe soos mens ook ervarings van uitsluiting as 'n volwassene beleef. My begeerte vir geregtigheid word aangevuur as ek sien daar is 30 jaar later steeds studente op ons kampus wat uitsluiting ervaar. Die bekende aanhaling “geregtigheid is liefde wat sigbaar gemaak word" is sentraal in dít wat ek doen. Wanneer ek oor studente praat, merk mense dikwels die liefde op wat ek vir my studente het. Maar dit kom nie sonder 'n begeerte na geregtigheid nie.
As ek kyk hoe sommige studente die kampuslewe kan geniet en pret kan hê omdat hierdie instelling belyn is met wie hulle is, terwyl ander dalk voel hulle het geen mag nie, voel ek verplig om my stem konstruktief te gebruik. Ek kan tot die volgende generasie bydra deur 'n tasbare verskil te maak. Kumulatief maak al ons bydraes, hoe klein ook al, 'n verskil.
FOTO: Stefan Els