Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Japansentrum bied eerste JICA-leerstoellesing aan
Outeur: Sue Segars
Gepubliseer: 04/12/2023

US Japansentrum bied eerste JICA-leerstoellesing aan

In nóg 'n mylpaal in die Universiteit Stellenbosch (US) se jare lange samewerking met Japan het dié instelling in Oktober die eerste lesing van die Japanse Internasionale Samewerkingsagentskap- (JICA-) leerstoel aangebied. Die seminaar is deur die US Japansentrum gefasiliteer.

Die lesing is gelewer deur dr Shinichi Kitaoka, 'n voormalige voorsitter van, en deesdae spesiale raadgewer vir, JICA, wat volgens Japansentrum-direkteur prof Scarlett Cornelissen een van die grootste voorsieners van bilaterale ontwikkelingsbystand ter wêreld is. Die praatjie is by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing aangebied en het oor die modernisering en wêreldwye ontwikkelingsamewerking van Japan gehandel.

Heelwat te leer uit oorgang in Japan

Dr Kitaoka se lesing getiteld “Die totstandkoming van die moderne Japan" het veral gekonsentreer op die Meiji-era van 1868 tot 1912, wat 'n tydperk van ekonomiese, maatskaplike en politieke hervorming ingelui het. Die katalisator vir modernisering in Japan was die politieke revolusie van 1868, oftewel die Meiji-restourasie, wat die diktatuur van die sjogoenaat onder feodalisme beëindig en die keiser se gesag herstel het.

Dr Kitaoka het klem gelê op van die “dividende" wat Japan gedurende dié oorgang geniet het, waaronder kommersiële groei, hoë geletterdheidsvlakke, en die beskerming van die land se unieke kultuur. Hoewel Japan ook baie foute gemaak het, het hy gesê, hou die land se suksesvolle oorgang tot demokrasie vele lesse vir ontwikkelende lande in.

Koester bande met Japan

Prof Hester Klopper, die US se Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake, sê dit was vir die US 'n eer om die lesing aan te bied skaars 'n jaar nadat die Universiteit sy Japansentrum as 'n middelpunt van akademiese, navorsings- en kulturele skakeling tussen die twee lande bekend gestel het. Die US sal in 2024 ook die sesde Suid-Afrika–Japan-universiteitsforum op Stellenbosch aanbied as deel van die instelling se voortgesette samewerking met Japan.

Die JICA-leerstoelreeks help die US sy visie verwesenlik om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te word, sê Klopper. “As 'n universiteit, is ons nie net daarvoor verantwoordelik om ons studente akademies op te lei nie, maar moet ons hulle ook toerus om 'n verskil te maak en tot 'n volhoubare toekoms by te dra," sê sy. “Met inisiatiewe soos dié een bou ons brûe en skep ons wêreldwyd 'n ruimte van sosiale geregtigheid vir die toekoms."

Klopper voeg by dat die US reeds dekades lank bande met Japan het. Dokumente in die US Argief lewer bewys van besoeke tot so ver terug as 1935, toe die konsul van Japan genooi is om rolprente oor Japan vir die US-gemeenskap te wys. “Die US wil graag voortbou op hierdie werk wat jare gelede aangevoor is," sê Klopper. Die Universiteit het ook in 2018 met die ambassade van Japan saamgewerk om 'n seminaar aan te bied ter viering van die US se Eeufees én 'n eeu van diplomatieke bande tussen die twee lande.