Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ADA beplan reeds volgende somerskool ná suksesvolle program in 2023
Outeur: SU International
Gepubliseer: 04/12/2023

Die gewilde doktorale skole van die Afrika Doktorale Akademie (ADA) by die Universiteit Stellenbosch (US) het in 2023 net minder as 400 deelnemers gelok. Dít het beursontvangers van lande soos Botswana, Namibië, Nigerië, Suid-Afrika, Tanzanië, Kenia, Uganda en Zimbabwe ingesluit.

Die ADA se somer-, winter- en lenteskole in 2023 het uit altesaam 31 vaardigheidsgebaseerde kursusse bestaan. Die uithaleraanbod is spesiaal ontwerp om akademieskap onder voornemende en ingeskrewe doktorale kandidate, hulle promotors en navorsers op verskillende vakgebiede te versterk. Benewens die kursusse is gratis ADA-meesterklaswebinare ook aangebied, waarvoor meer as 800 afgevaardigdes van oor die hele wêreld ingeskakel het.

Skryf nóú in vir somerskool 2024

Die ADA is gereed om op hierdie sukses voort te bou met sy vlagskipsomerskool, wat van 29 Januarie tot 16 Februarie 2024 in hibridiese vorm by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) aangebied sal word. Die drie weke lange program behels kursusse soos “Ontraaisel konseptuele raamwerke en teoretiese perspektiewe vir navorsing en skryfwerk" deur prof Gina Wisker van die Universiteit van Bath, en "Akademiese skryfwerk vir publikasies: 'n Inleiding" deur prof Tony Onwuegbuzie van die Universiteit van Cambridge, Verenigde Koninkryk.

Om die ontwikkeling van akademieskap op die vasteland aan te moedig, sal die ADA weer beurse voorsien aan 'n uitgesoekte groep kandidate in die vroeë fase van hulle doktorale loopbane om gedurende somerskool 2024 'n week lange navorsingsopleidingskursus by te woon. Magisterstudente, PhD-kandidate en nadoktorale genote by die US word ook genooi om aansoek te doen om ADA-assistentskappe om by die geleentheid uit te help.

Vir meer inligting oor die hibridiese somerskool en die meesterklaswebinaarreeks in 2024, raadpleeg die ADA se webtuiste en sosialemediaplatforms of e-pos adainfo@sun.ac.za