Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Span Stellenbosch bou bande by EAIE-konferensie
Outeur: SU International
Gepubliseer: 03/12/2023

​Universiteit Stellenbosch (US) Internasionaal was goed verteenwoordig by die Europese Vereniging vir Internasionale Onderwys (EAIE) se konferensie vir 2023 in Rotterdam, Nederland, aan die einde van September. Die afvaardiging van tien het uit die omgewings van studentemobiliteit en -uitruilaksies, studentewerwing, finansiële bestuur, vennootskapsontwikkeling, Erasmus+-programme sowel as studente-ontwikkeling en -inskakeling gekom. Die konferensie was 'n geleentheid vir personeelontwikkeling én om met vennootuniversiteite te skakel.

Om hulle besoek optimaal te benut, het die afvaardiging in die tyd vóór die konferensie verskeie geleenthede by die US se vennootuniversiteite bygewoon. Hulle het onder meer by KU Leuven, die universiteite van Antwerpen en Tilburg, VU Amsterdam en Radboud-universiteit ingeloer. Hierdie ontmoetings het 'n meer intieme geleentheid gebied om vennootspesifieke sake te bespreek.

Boonop is die Stellenbosse groep, saam met verteenwoordigers van ander Suid-Afrikaanse universiteite wat ook die EAIE-konferensie bygewoon het, na 'n onthaal by die ampswoning van die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Nederland, Vusi Madonsela, genooi 

Benewens bywoning van die verskeie sessies op die konferensieprogram, het US Internasionaal ook 'n US-stalletjie in die EAIE-uitstalruimte gehad . Die stalletjie was waar die span met eweknieë kon ontmoet en skakel, kompleet met plek vir Pokkel, die Universiteit se gelukbringer-eekhoring.

Saans was daar 'n aantal onthale op verskillende plekke in Rotterdam, waaronder 'n geleentheid vir die Internasionale Netwerk van Universiteite (INU) met die US as gasheer (foto links). Die US beklee tans die voorsitterskap van INU, en die konferensie was 'n gulde geleentheid vir die netwerk se lede om weer saam te kuier en om die Taras Shevchenko Nasionale Universiteit van Kiëf, Oekraïne, as nuwe gaslid te verwelkom.