Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​US-Lund-personeelontwikkelingsprogram 2023 sluit af
Outeur: SU International
Gepubliseer: 04/12/2023

US-Lund-personeelontwikkelingsprogram 2023 sluit af

Ná tien Universiteit Stellenbosch- (US-)personeellede se besoek aan die Universiteit van Lund in Swede in September 2023 as deel van 'n unieke mobiliteitsprogram vir steundienstepersoneel, het 'n Lund-afvaardiging in November die pad Stellenbosch toe aangepak vir 'n teenbesoek.

Volgens Lidia du Plessis, programbestuurder van Personeelinternasionalisering by US Internasionaal, konsentreer die ses maande lange bilaterale mobiliteitsinisiatief op die beroepsontwikkeling en voortgesette onderrig van professionele administratiewe steundienste- (PASD-)personeel. Die program bied PASD-personeel 'n geleentheid om nuwe vaardighede aan te leer en 'n internasionale ervaring te hê terwyl hulle met hulle eweknieë omgaan. 

Die aktiwiteite van die gemengde program het in Junie begin met 'n aanlyn sessie, wat sowel US- as Lund-deelnemers 'n geleentheid gebied het om mekaar vóór hulle kontakbesoeke reeds te leer ken.  

Innoverend en inspirerend

“Die program bied 'n internasionale geleentheid om steunpersoneel te ontwikkel, en dra by tot die US se kern- strategiese temas om doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke te bou en om 'n voorkeurwerkgewer te wees," sê Lidia. “As ek sien watter impak dit het op nie net die deelnemers nie, maar ook op die omgewings waaruit hulle kom, inspireer dit my om nog verdere geleenthede vir PASD-personeel te skep om aan internasionale mobiliteit deel te neem en aan hulle eweknieë wêreldwyd blootgestel te word."  

Dr Pär Svensson, senior raadgewer vir Afrikavennootskappe by die Universiteit van Lund, is ewe tevrede met die program wat die twee instellings gesamentlik geskep het. “Die Lund-US-program is uniek omdat dit steunpersoneel 'n geleentheid bied om te internasionaliseer en te kyk wat hulle oorsese kollegas se werk behels," sê hy. “Dit kombineer digitale en fisiese mobiliteit op 'n innoverende manier om langtermynbande te bou."

Waardevolle lesse geleer

Melissa Siegelaar, leer- en onderrigsteunbeampte in die kantoor van die dekaan van Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW), was een van die Stellenbosch-personeellede wat met haar Sweedse eweknieë gaan kennis maak het. “Die besoek aan die Universiteit van Lund was 'n fantastiese leerervaring," sê sy. “Die lesse wat ek geleer het, het nie noodwendig net met my werk by EBW verband gehou nie, maar sal my help om my werk oor die algemeen beter en doeltreffender te doen."

Die program sluit op 4 Desember 2023 af met 'n finale aanlyn oordenking.