Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-samewerking bied broodnodige ondersteuning aan geweld-slagoffers in Kaapse Wynlande
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
Gepubliseer: 30/11/2023

Die Universiteit Stellenbosch (US) het sy verbondenheid tot die stryd teen geslagsgebaseerde geweld (GBG) versterk deur die Ring for Peace Cape Trust (RfPCT) se uitnodiging te aanvaar om aktief deel te neem aan die stigting van die US INSPIRE (Initiative for Non-violence, Support, Prevention, Intervention, Research, and Education) binne die Stellenbosch GBV-sentrum. Die fasiliteit is in Idasvallei, Stellenbosch geleë en is 'n samewerking met RfPCT, die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en Welstand en Suid-Afrikaanse Polisiedienste. Dit sluit 'n NVG Thuthuzela-sorgsentrum (TCC) in, met uitgebreide noodverblyf vir slagoffers van GBV.  

Die ligging binne die Kaapse Wynlande is betekenisvol, sê dr Jill Ryan, koördineerder vir geslagsgeweld by die US se Eenheid vir Gelykwaardigheid, aangesien dié streek een van dié met ’n hoë voorkoms van hospitaal-aangemelde seksuele aanrandings van vroue buite die sentrale Kaapstad-omgewing is.“Hoewel daar volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se misdaadstatistieke vir die tydperk Julie tot September 2023 ’n afname van 35,9% in seksuele misdrywe was, bly verkragtingstatistieke steeds hoog, met 10 516 verkragtingsvoorvalle, wat feitlik gelykstaande is aan verlede jaar se aangemelde gevalle in dieselfde tydperk (10 590 gevalle). Die vestiging van die GBG-/Nie-geweldfasiliteit sal dus die relevante behoeftes aanspreek wat nie net van nasionale belang is nie, maar ook ’n plaaslike impak sal hê.” 

TSS’s is eenstopfasiliteite wat omvattende ondersteuning aan slagoffers van verkragting en seksuele mishandeling bied. Jaco Greeff Brink, hoof van die US se Eenheid vir Gelykwaardigheid en INSPIRE-projekstigter, sê daar is net 57 TSS’s in die land, wat nie naastenby genoeg is om die 155 SAPD-eenhede vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele geweld te ondersteun nie. Die Idasvallei-TSS sal een van die min in die Kaapse Wynland-distrik wees. Tans is die Khayelitsha-hospitaal en Karl Bremer-hospitaal in Bellville die naaste TSS’s vir Wynland-gemeenskappe.  

“Die US se INSPIRE fasiliteit stel ’n strategiese reaksie voor om die kernoorsake van GBG aan te spreek en ’n kultuur van geen geweld te bevorder. Deur navorsings-, leer-, onderrig- en gemeenskapsbetrokkenheidsinisiatiewe te kombineer, het die fasiliteit ten doel om volhoubare en impakvolle intervensies deur ’n transdissiplinêre benadering te skep om nasionale uitdagings die hoof te bied wat ’n onmiddellike kontekstuele impak sal hê,” verduidelik Brink. “Die langtermyndoelwitte wat vir hierdie fasiliteit in die vooruitsig gestel word, is om ’n wêreldwye netwerk van navorsers, akademici en praktisyns te vestig wat nie-geweld bestudeer en bevorder; en om opleidings- en kapasiteitsbouprogramme aan individue en organisasies te bied.”  

 Prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie aan die US, sê hoewel die 16 dae van aktivisme vir geen geweld teen vroue en kinders-veldtog wat 25 November begin het, die kollig op GBG laat val, is ’n langtermynoplossing vir daadwerklike en volgehoue optrede nodig. “Die US se visie is om ’n toonaangewende navorsingsintensiewe universiteit te wees wat maatskaplike uitdagings aanspreek. GBG is sonder twyfel ’n ernstige uitdaging, so ’n fasiliteit wat op risikofaktore, intervensies en gesondheidsuitkomste van GBG fokus, sal veral in die Wes-Kaap ’n beduidende impak hê. Hierdie inisiatief is goeie voorbeeld van samewerkende transdissiplinêre, navorsing oor fakulteite heen en  leer- en onderrigpotensiaal. Dit sal die US uniek as ’n leidende vennoot binne nie-geweld en GBG posisioneer. Trouens, elke dag moet ons aan GBG herinner, asook aan die behoefte om ’n samelewing te hê wat almal in staat stel om die beste weergawe van hulleself in ’n veilige en vrye omgewing te wees.” 

Verdere inligting 

- Die US se Eenheid vir Gelykwaardigheid doen verslag aan prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig, en implementeer die US se beleid oor onbillike diskriminasie, teistering en MIV/Vigs. Die eenheid is ook daartoe verbind om sosiale ongeregtigheid te hanteer. Studente en personeel kan alle vorms van onbillike diskriminasie, seksuele teistering, geslagsgebaseerde geweld, viktimisasie en mishandeling by die Eenheid aanmeld. Die Eenheid voorsien ook aan personeel en studente dienste, opleiding en intervensies om geslagsgeweld en MIV/Vigs (voorkoming, toetsing en berading) te bekamp, en bied ondersteuning vir kwessies wat met die lesbiese, gay-, biseksuele, transgender-, queer-, interseks- en bondgenote- (LGBTQIA+-) gemeenskap verband hou. Klik hier om die Eenheid vir Gelykwaardigheid se webwerf te besoek. 

- US-studente en -personeel kan voorvalle van onbillike diskriminasie en teistering, insluitende rassisme, viktimisasie, seksuele viktimisasie, seksuele misbruik, geslags- en identiteitsdiskriminasie, enige vorm van seksuele wangedrag, geslagsgebaseerde geweld, seksuele mishandeling, geweld in intieme verhoudings en viktimisering, insluitend seksuele teistering, agtervolging, verkragting en seksuele dwang hier aanmeld.  

- ​​Die geïntegreerde Stellenbosch GBG-sentrum is op die hoek van Ou Helshoogteweg en Proteastraat in Idasvallei geleë.

Kyk ​na 'n video oor die GBG-sentrum

 


Foto: Henk Oets