Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US en PET Labs Pharmaceuticals sluit strategiese vennootskap vir siklotronfasiliteit
Outeur: Central Analytical Facilities
Gepubliseer: 29/11/2023

​​Die Universiteit Stellenbosch (US) is verheug om 'n grensverskuiwende samewerkingsooreenkoms met PET Labs Pharmaceuticals (Edms) Bpk aan te kondig om 'n toonaangewende siklotronfasiliteit op sy Tygerberg-kampus in Kaapstad, Suid-Afrika, te vestig.

Hierdie visioenêre vennootskap lui die installering van 'n 16 MeV mediese siklotron* saam met, omvattende kommersiële en navorsingsradiofarmaseutiese fasiliteite in.

Die fasiliteit se primêre doel is om die Wes-Kaap en omliggende provinsies van positron-uitstralende radiofarmaseutiese middels te voorsien vir belangrike diagnostiese toepassings in die geneeskunde, asook eksperimentele radiofarmaseutiese middels vir navorsingsdoeleindes.

Hierdie onderneming, wat deur 'n ruim toekenning van die Bill & Melinda Gates-stigting moontlik gemaak is, is 'n deurslaggewende mylpaal in die evolusie van die US se kerngeneeskunde-infrastruktuur. Die Universiteit spog reeds met 'n moderne PET-rekenaartomografie- (RT-) beeldingseenheid wat toegespits word op baanbrekersnavorsing op belangrike gebiede soos tuberkulose en kanker.

“Die toekomstige siklotronfasiliteit sal na verwagting die US se strewe om Afrika se voorste navorsingsintensiewe instelling te word, aansienlik bevorder," sê dr Alex Doruyter, direkteur van die Nodus vir Infeksiebeelding (NII) Positron-emissie-tomografie/rekenaar-tomografie- (PET-CT-) eenheid in die Sentrale Analitiese Fasiliteite by die US. “Boonop sal hierdie strategiese inisiatief 'n deurslaggewende rol in die verbetering van pasiëntsorg binne die openbare en private gesondheidsorgsektore speel. Terselfdertyd sal studente-opleiding in die fasiliteit die toenemende behoefte aan geskoolde professionele praktisyns op die gebied van kerngeneeskunde en radiofarmasie aanspreek."

Die twee jaar lange projek, ondersteun deur die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, is geskeduleer om in November 2023 te begin, en sodra dit voltooi is, beloof dit om die landskap van gesondheidsorg en wetenskaplike navorsing te herdefinieer** en die Universiteit Stellenbosch stewig as 'n leier op die gebied te vestig.

Prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, het haar opgewondenheid uitgespreek. “Hierdie samewerking is 'n belangrike sprong in ons verbintenis tot uitnemendheid in gesondheidsorg, navorsing en onderwys. Die siklotronfasiliteit sal ons bemagtig om groot bydraes tot die samelewing te lewer, en ons is dankbaar teenoor PET Labs Pharmaceuticals en die Bill & Melinda Gates-stigting vir hulle onwrikbare ondersteuning in hierdie projek."

“Hierdie vennootskap sal die US beslis tot nuwe hoogtes voortdryf en innovasie-, navorsings- en opvoedkundige geleenthede skep wat ongetwyfeld 'n diepgaande en blywende uitwerking op Afrika se gesondheidsorglandskap sal hê," voeg Doruyter by.

  • Die Universiteit Stellenbosch bedank die Bill & Melinda Gates-stigting vir hulle ondersteuning.
  • Vir meer inligting oor die Universiteit Stellenbosch en sy medewerking met PET Labs Pharmaceuticals, tree gerus met dr Alex Doruyter, Direkteur: NII PET-CT-eenheid, Sentrale Analitiese Fasiliteite, Universiteit Stellenbosch by doruyter@sun.ac.za of +27 (0) 21 834 4620 in verbinding.

 

MEER INLIGTING

* 'n Mediese siklotron word gebruik om gelaaide deeltjies te versnel wat dit dan gebruik om 'n teiken te bombardeer om radioaktiewe isotope te maak. Dit word dan aan molekules van belang (byvoorbeeld glukose, aminosure, teenliggaampies) in 'n radiofarmaseutiese eenheid   gekoppel om radiofarmaseutiese middels te skep wat dan met behulp van 'n PET-CT-skandeerder in 'n pasiënt ingespuit en afgebeeld kan word. Hierdie gespesialiseerde beeldingstegnologie bied 'n kragtige, nie-indringende manier om fisiologiese prosesse en siektes te bestudeer – met beide navorsing en kliniese toepassings.

 

** 'n Mediese siklotron sal die plaaslike landskap van gesondheidsorg en wetenskaplike navorsing herdefinieer deur nuwe toegang tot groot hoeveelhede kommersiële en navorsings-PET-radiofarmaseutiese middels vir kliniese navorsers in vakgebiede soos aansteeklike siektes, onkologie, neurologie en kardiologie te bied. Die fasiliteit sal radiofarmaseutiese middels met bekende kliniese toepassings tot voordeel van pasiënte vervaardig en sal ook PET-CT-navorsing met eksperimentele radiofarmaseutiese middels aandryf sodra dit die nodige veiligheidskontroles geslaag het. Die fasiliteit het ten doel om radiofarmasie- en radiochemiestudente met die nodige vaardighede en ervaring toe te rus om tot die Suid-Afrikaanse kerngeneeskundebedryf by te dra wat tans 'n ernstige vaardigheidstekort ondervind. 


PHOTO:  A Stellenbosch University radiopharmacist performs a radiolabelling using a synthesis module.