Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US skitter in toekennings vir bemarkings- en kommunikasiebedryf
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
Gepubliseer: 21/11/2023

Die Universiteit Stellenbosch (US) het nie minder nie as 31 toekennings by die jaarlikse toekenningsgeleentheid vir Uitnemendheid in Bemarking, Bevordering en Kommunikasie in die Onderwys (MACE) losgeslaan, waaronder die gesogte Severus Cerff-toekenning vir Volgehoue Uitnemendheid (vir die hoogste suksesverhouding van alle instellings wat deelgeneem het).

Die wenners van die 2023 MACE-toekennings vir uitnemendheid is verlede week by 'n glansgeleentheid in Kaapstad bekendgemaak. Dit gee erkenning aan die prestasies van in bemarkings- en kommunikasiespesialiste en -praktisyns in die hoëronderwyssektor regoor Suider-Afrika. Daar was 255 inskrywings en 153 toekennings is aan 17 tersiêre instellings gemaak. Dit het 39 evalueerders en 'n moderator meer as 630 uur geneem om die voorleggings te beoordeel.

Die US het met 17 brons-, 10 silwer- en drie goue toekennings (toegeken aan die inskrywing met die hoogste telling in elke kategorie) weggestap. Inskrywings van die US se Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking (AKKB), die Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge, Studentewerwing, die US Biblioteek en die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) was onder dié wat erkenning vir hul uitstaande prestasie ontvang het.

"Ons is ongelooflik trots op die US vir die erkenning van sy uitmuntende prestasies. Die US se bemarkings-, kommunikasie- en fondswerwingspanne werk onverpoosd om deurgaans uitstekende werk te lewer wat bydra tot die erkenning en posisionering van die US as Afrika se voorste navorsingsintensiewe instelling. Om die Severus Cerff-toekenning vir volgehoue uitnemendheid die afgelope jaar te ontvang, is 'n bewys dat ons werk 'n nuwe nasionale standaard stel," het prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake, gesê.

Die goue toekennings het aan die PULSE-nuusbrief (FGGW), die US se #DayInTheLife-veldtog ter viering van die mense wat by die Universiteit werk en 'n krisiskommunikasieveldtog van Korporatiewe Kommunikasie gegaan.

"Om deur eweknieë in die bedryf vereer te word, is uiters bevredigend, veral nadat ons alles in die stryd gewerp het om te verseker dat ons fakulteit die beste publisiteit moontlik kry," het Florence de Vries, Bestuurder: Bemarking en Kommunikasie by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, gesê. Dié afdeling het toekennings vir al sy inskrywings gewen.

Een van die silwer toekennings het aan die Universiteit Stellenbosch Biblioteek gegaan vir hulle innoverende TikTok-veldtog, "Waarom het die biblioteek in elk geval 'n TikTok nodig?". Me. Tise, Senior Direkteur van Biblioteek- en Inligtingsdienste, het haar vreugde uitgespreek en gesê: “Ons is ongelooflik vereer om hierdie toekenning vir die SU Biblioteek TikTok-rekening te ontvang. Dit is 'n getuienis van die wonderlike gemeenskap wat ons inhoud ondersteun en betrek. Hierdie erkenning motiveer ons om voort te gaan met die skep en deel van inhoud wat resoneer met ons gehoor. Dankie aan almal wat deel was van hierdie reis."

Die toekenningsgeleentheid was die hoogtepunt van 'n tweedaagse konferensie oor die toekoms van hoër onderwys in 'n KI-wêreld wat by die Universiteit van Wes-Kaapland se Bellville-kampus gehou is. Verskeie sprekers het oor onderwerpe soos fondsinsameling, mediaverhoudinge en hoe om 'n suksesvolle digitale bemarkingsveldtog aan te bied, gesels.

MACE is 'n lidmaatskap-gebaseerde organisasie en vervul 'n leierskapsfunksie in die hoëronderwys-, tegniese beroepsonderwys- en opleiding- en privaatonderwyssektore in Suider-Afrika. Dit het ten doel om waarde tot praktisyns in bemarking, bevordering en kommunikasie toe te voeg deur hoë-gehalte ontwikkelingsprogramme aan te bied, netwerkvennootskappe en transformasie te fasiliteer, en deur beste praktyke in hierdie beroepe by sy lidinstellings te bevorder.

Die US se toekennings:

Spesiale toekennings

Die SEVERUS CERFF-toekenning vir volgehoue uitnemendheid – toegeken aan die instelling met die hoogste suksesverhouding  

Goud (3)

PULSE-nuusbrief: digitale interne tydskrifte en nuusbriewe

#dagindielewe: belanghebber-deelnameveldtog

'n Waterskeidingsoomblik: krisiskommunikasieveldtog

Silwer (10)

Towards a university-led brand manual: ontwerp vir gedrukte media

US-mediese studente gebruik tegnologie om die gety met die tekort aan oorgaan-skenkers om te keer: skryfwerk vir nuusmedia

US & vennote skakel eerste minibus-taxi om: skryfwerk vir nuusmedia

Universiteit Stellenbosch: In die nuus: interne digitale tydskrif en nuus

Why does the library need a TikTok anyway?: Sosiale media

Opelug-gradeplegtighede: geleenthede

US-verwelkoming en droomoptog: geleenthede

Bekendstelling van Biomediese Navorsingsinstituut (BMRI): belanghebber-deelnameveldtog

#USvroue: belanghebber-deelnameveldtog

Werkswinkelreeks vir handelsmerkimplementeerders: belanghebber-deelnameveldtog

Brons (17)

Pre-alumni: Eerstejaarsgids 2023: ontwerp vir gedrukte media

Illustrating the gig workers: ontwerp vir gedrukte media

Alliansie van Afrika-navorsingsuniversiteite (ARUA): ontwerp vir gedrukte media

“Stille massaramp" in SA: skryfwerk vir nuusmedia

Bekendstelling van Biomediese Navorsingsinstituut (BMRI): persverklaring: skryfwerk vir nuusmedia

Toekomstige professore skitter by US: skryfwerk vir nuusmedia

US-fossielkenner kom met wonderlike nuus van ekspedisie in Mongolië terug: skryfwerk vir nuusmedia

Bekendstelling van die Biomediese Navorsingsinstituut (BMRI) – videoteks: skryf van tekste

Bekendstelling van Biomediese Navorsingsinstituut: geleenthede

Hibridiese Opedag: geleenthede

Ontbyt saam met die Rektor: geleenthede

Tuiskoms 2023: geleenthede

Matielegendes en -pioniers: oudiovisueel

Altyd 'n Matie: onwerp vir gedrukte media

Skenkingsdag: fondsinsamelingsveldtog

#helloMaties: belanghebberveldtog

#Wiejyword-aansoekveldtog: studentewerwingsveldtog
​​​​