Topstudente in Chinees aan die Universiteit Stellenbosch (US) is onlangs by 'n kleurryke toekenningsgeleentheid vereer en met groot pryse – wat 'n reis na China insluit – beloon. Die pryse is deur Naspers geborg. Gaste is by die galadinee wat by STIAS gehou is, op smullekker Chinese kos getrakteer, asook tradisionele sang en dans wat deur die studente uitgevoer is.
Die geleentheid is deur die Universiteit se Departement Moderne Vreemde Tale aangebied en deur die adjunk-algemene konsul van die Chinese Konsulaat, Tang Chang'An, asook konsul Chen Hu bygewoon. Naspers is verteenwoordig deur senior konsultant Ian Barnard wat 'n belangrike rol gespeel het in die vestiging van die toekennings. Die dekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, prof Anthony Leysens, was ook 'n eregas.
Die Naspers-pryse is vir 'n tweede agtereenvolgende jaar aan die topstudente toegeken wat die beste uitslae in elk van die Chinese modules behaal het wat by die US aangebied word. Altesame 22 kandidate is uit al vier jaargroepe gekies om op grond van hulle akademiese prestasie om die toekennings mee te ding. Hulle moes 'n taalvaardigheidstoets aflê wat die skryf van 'n opstel, mondeling en 'n vasvra oor hulle algemene kennis ingesluit het, om vir die Naspers-toekennings oorweeg te word.
Die beste voorgraadse studente het almal R100 000 ontvang. Daarbenewens het agt derdejaarstudente, wat die Chinese module 318 suksesvol voltooi het en vir die Chinese module 348 ingeskryf is, 'n fantastiese prys losgeslaan – 'n reis van 14 dae na China in Desember vanjaar waarvan alle uitgawes gedek word. Ses honneursstudente is tans op 'n uitruilprogram by die Renmin-Universiteit van China en die Xiamen-Universiteit, en die beste twee studente uit hierdie groep – wat vroeg aanstaande jaar aangewys word – sal elkeen 'n R100 000-beurs ontvang, asook 'n geleentheid om vir 'n jaar aan die Wuhan-kollege in China te studeer.
Die adjunk-algemene konsul het in sy toespraak opgemerk dat onderwys en kulturele uitruilings die afgelope paar jaar 'n hoogtepunt in die samewerking tussen China en Suid-Afrika was en het merkwaardige resultate opgelewer. “Al hoe meer Suid-Afrikaanse jongmense leer Chinees en kry sodoende 'n beter insig in China se geskiedenis en kultuur. Dit bied nie net aan hulle wyer loopbaangeleenthede nie, maar help hulle ook om hulle lewensdrome te verwesenlik," het Tang gesê.
Hy het die studente aangemoedig om nie net Chinees as taal te bemeester nie, maar om ook China te besoek om 'n beter begrip van die land te kry. “Gebruik julle kennis en ondervindings om 'n meer omvattende en egte China aan meer vriende bekend te stel. Word boodskappers van die vriendskap en samewerking tussen China en Afrika en dra daartoe by om 'n gemeenskap met 'n gedeelde toekoms vir die mensdom te bou."
Barnard sê dit is bemoedigend om te sien hoe studente in hulle Chinese studie uitblink. “Ons was baie beïndruk met die standaard van die inskrywings vir die kompetisie. Ek is seker die wenners sal baie by hulle besoek aan China en die geleentheid om hulle taalvaardighede ten toon te stel, baat."
Chinees is in 2000 in die Departement Moderne Vreemde Tale aan die US bekendgestel. Dit was destyds die eerste voorgraadse program in Chinees aan 'n residensiële universiteit in Suid-Afrika.
Die hoof van die Chinese afdeling by Moderne Vreemde Tale, Allen Luo, het Naspers vir hulle ondersteuning en die noue samewerking met die US bedank. Koos Bekker, die voormalige hoof- uitvoerende beampte van Naspers en nou die nie-uitvoerende voorsitter van die Naspers-groep, se visie om die Chinese afdeling te vestig, het die US in staat gestel om 'n robuuste taalsentrum te bou wat stewig gewortel is in sy toewyding om die Chinese taal en kultuur in 'n akademiese konteks met 'n stewige fondament te onderrig, het Luo gesê.
Die voorsitter van die Departement Moderne Vreemde Tale, prof Catherine du Toit, het die studente gelukgewens en hulle geloof vir hulle keuse om 'n taal te studeer soveel tyd, toewyding en harde werk verg. “'n Skielike, dolle inprop van kennis net voor die finale assessering vir die kwartaal sal jou nêrens bring nie. Dít weet julle almal. Ons is dankbaar vir die vuur wat julle passie aandryf en ons is trots op julle sukses. Ons is ook dankbaar vir Naspers se vrygewigheid om hierdie passie aan te moedig, asook vir die Chinese konsulaat sy bystand ons studente direk aan die Chinese kultuur bloot te stel, en vir die kollegas in die departement vir hul hartlike kollegialiteit."
Wenners van Naspers-toekennings
Maarten Cuperus was die top eerstejaarstudent, terwyl Maxine de Lange eerste gekom het in die tweedejaarsgroep. Elizabeth Visser was vanjaar die topderdejaarstudent.
Visser sê sy is baie geëerd en dankbaar vir die Naspers-toekenning. "My liefde vir Chinees het begin toe ek China in graad 6 besoek het om saam met my ouers 'n musiekfees by te woon. Ek het dit baie geniet en ek het nuuskierig geraak oor die taal en kultuur. Ek is baie opgewonde oor die feit dat die Naspers-prysgeld my in staat sal stel om China nog 'n keer te besoek. Die toekenning gee erkenning vir al my harde werk – dit was 'n moeilike, maar lonende reis om die taal te bemeester."