Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
CISU-skoolonderwysafvaardiging 2023 gaan haal inspirasie in China
Outeur: CISU
Gepubliseer: 16/11/2023

​Vanjaar se Chinese Bridge-skoolonderwysafvaardiging na China, wat die Confucius Instituut aan die Universiteit Stellenbosch (CISU) in samewerking met die Universiteit van Xiamen gereël het, het in September 'n transformerende tien dae in China deurgebring. Die diverse afvaardiging uit die Kaapse Wynland-onderwysdistrik het bestaan uit die distriksdirekteur, Jeanette Harker, sowel as hoofde en vakhoofde van die Rynse Hoër Meisieskool, Hoërskool Stellenbosch, die Sekondêre Skool Makupula, Worcester Gimnasium, Hoërskool Kylemore, die Rynse Laerskool, sowel as die laerskole Eikestad en Rietenbosch.

Die gasheer vir die afvaardiging was die Chinese Sentrum vir Taalonderwys en -samewerking (CLEC), wat 'n belangrike rol vervul om Chinese taal- en kultuuronderrig buite China te bevorder. Derhalwe was die oorhoofse doel van die besoek om bystand te bied aan Suid-Afrikaanse instellings wat Chinese leerprojekte wil aanvoor of bevorder, en om taaluitruilvennootskappe tussen Chinese en Suid-Afrikaanse skole tot stand te bring.

Die groep is by hulle aankoms deur Chen Zhiwei, die dekaan van Chinese Internasionale Onderwys aan die Universiteit van Xiamen, verwelkom.

Indompeling in sowel onderwys as kultuur

Die besoek was 'n kombinasie van onderwys en kultuur. Afgevaardigdes het die geleentheid gehad om verskeie fasette van die Chinese onderwysstelsel te verken. Gedurende besoeke aan skole soos die First Middle School van die distrik Tong'an en die Eksperimentele Chinese Skool kon die Suid-Afrikaners China se pedagogiese benaderings, kurrikulumontwerp en klaskamerpraktyke van nader leer ken. Hierdie interaksies het waardevolle insigte gebied in hoe China se benadering tot onderwys die behoeftes en uitdagings in Suid-Afrikaanse onderwys kan help hanteer.

Die afvaardiging het ook met die ryke Chinese kultuur kennis gemaak danksy aanbiedings oor die kuns en geskiedenis van tee, Chinese tradisionele geneeskunde, en akupunktuur. Besoeke aan ikoniese bakens soos die Somerpaleis, Tiananmen-plein en die Chinese Muur het die ervaring aangevul.

Waardevolle lesse

Te oordeel na afgevaardigdes se terugvoer, was die ervaring in alle opsigte transformerend. Volgens Tertia Jefthas, hoof van Hoërskool Kylemore, hou China se ryke geskiedenis en lewendige kulturele vierings waardevolle lesse vir Suid-Afrikaners in, en beklemtoon dit die belang daarvan om 'n gevoel van samehorigheid onder leerders te skep. Op sy beurt was Riaan Loubscher, onderhoof van Worcester Gimnasium, met sy terugkeer na Suid-Afrika oorgehaal om Mandaryns-onderrig by sy skool sowel as in die algemene gemeenskap te ondersteun.

Vir Rika Kroon, waarnemende hoof van die Rynse Hoër Meisieskool, het die besoek haar begrip van die Chinese kultuur uitgebrei, en getoon dat China se realiteit dikwels verskil van hoe dit in Suid-Afrika uitgebeeld word.

Distriksdirekteur Harker reken die besoek aan die First Middle School van die distrik Tong'an, wat oor 10 000 leerders en 200 opvoeders beskik, het belangrike insigte gebied in onderrigpraktyke in groter klasse en die voordelige gebruik van e-leerinstrumente. 'n Verdere belangrike les, sê Harker, is die belang van 'n gebalanseerde benadering tot onderwys: China handhaaf byvoorbeeld 'n liggaamsopvoedingsroetine van ten minste twee uur per dag, wat met Suid-Afrika se opvoedkundige doelwitte strook. Daarbenewens is sy getref deur die duidelike verwagtinge dat verskillende tale en dialekte sal saambestaan, wat eweneens ooreenstem met Suid-Afrika se pogings om vir diversiteit voorsiening te maak.

Met hulle terugkeer huis toe was die afvaardiging opnuut daartoe verbind om wêreldwye begrip en samewerking deur onderwys te bevorder.

* Vir inligting oor CISU en sy werk, raadpleeg http://www.sun.ac.za/english/confucius-institute.​

 ​