Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-vakkundige wen gesogte genootskap by Oxford
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 14/11/2023

'n Top-akademikus by die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Moderne Vreemde Tale, dr Gibson Ncube, het pas gehoor hy is gekies vir 'n gesogte genootskap by die Universiteit van Oxford in Engeland. Die AfOx Besoekende Genoot-program is ontwerp om uitsonderlike Afrika-navorsers in staat te stel om internasionale netwerke te bou en in samewerking met Oxford-gebaseerde vakkundiges op 'n projek van hulle keuse te fokus.

AfOx is 'n kruisuniversitêre platform wat samewerking in al die departemente aan die Universiteit van Oxford ondersteun. Ncube sal 'n besoekende genoot by die Departement Middeleeuse en Moderne Tale by Oxford wees.

Ncube sê hy was geskok en opgewonde toe hy die nuus ontvang het. “Hierdie genootskap is baie mededingend en om vir hierdie prestigeryke geleentheid gekies te word, is werklik 'n geweldige eer. Ek is diep dankbaar vir die geleentheid om vir die komende jaar aan die Universiteit van Oxford verbonde te wees. Tien maande sal aanlyn deelname behels en van Mei tot Junie 2024 sal ek inwonend by Oxford wees."

Hy sal nou saam met dr Dorotheé Boulanger aan 'n fassinerende interdissiplinêre projek, getiteld “Touching Worlds: Queer Ecologies in Contemporary African Literature and Cinema", werk. Ncube sê dié projek is veral tydig, gegewe die huidige sosiopolitieke klimaat waar sekere Afrikalande queer-gemeenskappe toenemend teiken en die dringende kwessie van die buitensporige uitwerking van die klimaatkrisis op verskeie streke op die vasteland.

“Ons gesamentlike onderneming poog om die dringendheid van die prioritisering van die welstand van beide menslike en nie-menslike omgewings deur die prisma van literêre en film-estetika te beklemtoon. Deur die verband tussen queer-perspektiewe en ekologiese kwessies te ondersoek, poog ons om te demonstreer hoe Afrika-skrywers en -filmmakers inklusiewe wêreldvisies voorstaan. Ons sal ontleed hoe hierdie kreatiewe stemme die omgewingstryd en metafore van nie-menslike diere benut om vir die heropbou van die gemeenskap buite die grense van heteroseksisme en antroposentrisme te pleit," verduidelik Ncube.

“Ek is gretig om tot hierdie belangrike diskoers by te dra en sien uit na die intellektuele en kulturele uitruiling wat my tyd by Oxford sal bied. Hierdie geleentheid sal ongetwyfeld my navorsing verryk en my in staat stel om 'n betekenisvolle bydrae tot die breër vakkundige gemeenskap te lewer."

Ncube het reeds verskeie navorsingsbeurse ontvang, waaronder 'n vrystaande postdoktorale genootskap wat deur die Nasionale Navorsingstigting gefinansier is, die Afrika Geesteswetenskappe-program van die Amerikaanse Raad vir Geleerde Verenigings, die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing se Iso Lomso-genootskap en 'n virtuele genootskap by die Leeds Universiteitsentrum vir Afrikastudie. Hy is lid van verskeie redaksies en hy was van 2020 tot 2022 medesameroeper van die Queer Afrikastudievereniging.. Hy was ook die 2021 Mary Kingsley Zochonis Uitgelese Dosent van die Koninklike Afrikavereniging en Afrikastudievereniging in die Verenigde Koninkryk. Ncube is tans ook 'n lid van die Program vir Toekomstige Professors wat deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding aangebied word.

Ncube is gretig om die geleentheid by Oxford ten beste te benut om tot die wetenskaplike diskoers oor queer ekokritiese studie by te dra. Hy beplan om saam met Boulanger 'n reeks virtuele en persoonlike geleenthede te reël wat sinvolle dialoog en kennisuitruiling tussen vakkundiges sal fasiliteer. Hulle sal 'n aanlyn seminaarreeks met nagraadse studente en ontluikende vakkundiges van Suider-Afrika aanbied, wat vir hulle 'n platform sal bied om hulle baanbrekerswerk op hierdie gebied ten toon te stel.

“Ek sien daarna uit om gedurende my tyd by die Universiteit van Oxford 'n omvattende, interdissiplinêre werkswinkel te koördineer wat op soortgelyke temas fokus, met die doel om geleerdes uit verskillende vakgebiede by Oxford en van die Verenigde Koninkryk bymekaar te bring. Hierdie werkswinkel sal deur verskeie departemente by Oxford, asook deur die Program vir Toekomstige Professors – wat daarop gemik is om die eienskappe van akademiese uitnemendheid en leierskap in universiteitsvakkundigheid te ontwikkel om tot die ontwikkeling van 'n toekomstige Suid-Afrikaanse professoraat by te dra – ondersteun word.

“Voorts is ek ook verheug om in samewerking met dr Boulanger by die samestelling van 'n spesiale vaktydskrif-uitgawe betrokke te wees wat as 'n beduidende bydrae tot die diskoers oor Afrika-queerekologieë sal dien. Hierdie publikasie sal die kontoere omskryf en as 'n veldbepalende agenda vir toekomstige navorsing en diskoers in hierdie ontluikende vakgebied dien.

“Ek sien baie uit na hierdie samewerkingsreis en om by Oxford te studeer. Ek is ten volle daartoe verbind om 'n betekenisvolle en blywende bydrae tot die bevordering van vakkundigheid op hierdie belangrike gebiede te lewer," het Ncube gesê.

Prof Sibusiso Moyo, adjunk-visekanselier vir navorsing, innovasie en nagraadse studie aan die US het Ncube gelukgewens en gesê navorsingsuitnemendheid, toewyding en harde werk is 'n wenkombinasie. “Ons is verheug dat Dr Ncube hierdie toekenning ontvang. Daar is baie wat na hom opkyk, en sy prestasie getuig van die feit dat US se navorsers en akademici toenemend 'n impak het op ons vasteland en die res van die wêreld. Ons wens hom sterkte en alle sukses toe!"

Prof Catherine du Toit, voorsitter van die Departement Moderne Vreemde Tale het gesê Ncube se kollegas is baie trots op alles wat hy bereik het, beide by die US en in sy vorige akademiese loopbaan. “Gibson gryp elke geleentheid met groot ywer en passie aan en verwag nooit dat iets sonder moeite na hom sal kom nie. As 'n senior kollega het ek Gibson se vordering die afgelope jare met belangstelling gevolg, ook hoe hy nuwe uitdagings in terme van lesings, administrasie en navorsingsgeleenthede bemeester het. Om te sien hoe hy elke uitdaging aandurf, voortdurend ontwikkel en op verskeie terreine uitblink, verskaf my groot plesier. Ek is vol vertroue dat sy statuur as navorser binnekort meer nagraadse studente sal lok wat hom as studieleier wil hê."