Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ooreenkoms 'n groot hupstoot vir die skep van veerkragtige landbou in die Wes-Kaap
Outeur: Faculty of Science (media & communication)
Gepubliseer: 13/11/2023

Navorsing oor die impak van klimaatsverandering op landbou en gemeenskappe in die Wes-Kaap, was boaan die agenda tydens die ondertekening van 'n Memorandum van Ooreenkoms (MvO) tussen die Universiteit Stellenbosch (US) se Skool vir Klimaatstudie  en die Wes-Kaapse regering se Departement van Landbou, en Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning.

Die MvO is op Maandag 6 November tydens 'n spesiale seremonie by die hoofkantoor van die Departement van Landbou te Elsenburg, Stellenbosch onderteken. Dit hanteer kwessies soos samewerkende navorsing en gesamentlike projekte met nasionale en internasionale vennote, asook geleenthede vir nagraadse studente om aan die Departement van Landbou se programme vir jong professionele persone deel te neem.

In sy toespraak het die Wes-Kaapse Minister van Landbou, Mnr Ivan Meyer, die belangrikheid van navorsing benadruk. Dit verskaf bewysgebaseerde data op grond waarvan  regeringstrukture hulle besluite kan neem tot voordeel van die boere en inwoners van die Wes-Kaap en Suid-Afrika: “Nie net waardeer en verstaan ons die waarde van navorsing nie, maar ons tree ook daarvolgens op. Hierdie MvO sal nuwe stukrag aan die bestaande werk van die Wes-Kaapse regering verleen om 'n klimaatsveerkragtige toekoms vir die provinsie te verseker," sê hy.

Minister Anton Bredell, Wes-Kaapse Minister van Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, het in 'n verklaring gesê die MvO  verskaf 'n soliede platform wat ons in staat sal stel om plaaslike en internasionale navorsings- en  kapasiteitsbougeleenthede na te streef ten einde  kennis oor klimaatsverandering in die Wes-Kaap uit te bou: “Dit sal ons ook in staat stel om  intitusionele en wetenskapskundigheid binne die vennootskap, en met  vennote van reg oor die wêreld uit te ruil om 'n vinniger oorgang te dryf om by klimaatsverandering te kan aanpas, dit te temper, en 'n klimaatsveerkragtige provinsie te skep".

In reaksie hierop het Prof. Sibusiso Moyo, Adjunk-visekanselier: Navorsing, Innovasie en nagraadse Studie by die US, gesê die US verwelkom die vennootskap as nog 'n voorbeeld van hoe samewerking en interdissiplinêre navorsing aangewend kan word om komplekse gemeenskapskwessies waarmee ons op die oomblik mee te make het, die hoof te bied: “Die ondertekening van die MvO belig die belangrike rol van die universiteit in die deurlopende ontwikkeling van die provinsie. Navorsing wat deur die Skool vir Klimaatstudie gedoen is, sal deurslaggewend wees in die ontwikkeling en toepassing van klimaatsverwante oplossings en tegnologieë wat  kwessies op die uitgebreide maatskaplike agenda kan hanteer. Dit sluit in: werkskepping, vaardigheidsopleiding, armoedeverligting en inklusiwiteit".  

Dr Mogale Sebopetsa, Hoof van die Provinsiale Departement van Landbou, en Mnr Gerhard Gerber, Hoof van die Provinsiale Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning het ook die ondertekeningseremonie bygewoon.

In sy boodskap  het Dr Sebopetsa gesê dat alhoewel klimaatsverandering 'n groot risiko inhou, dit ook aan ons geleenthede bied om dinge anders te doen: “Klimaatsverandering bedreig voedselsekuriteit, openbare gesondheid en verhoog die risiko van nuwe siektes wat kan kop uitsteek. Ons moet saamwerk sodat ons kan weet wat die beste manier is om vorentoe te beweeg. Ons moet slegs die nodige uit die omgewing neem, en dit eerder bewaar en beskerm vir toekomstige generasies".

Mnr Gerber het in sy boodskap die belangrikheid van besluitneming gegrond op die beste opkomende strategieë beklemtoon, asook om daardie strategieë in die alledaagse praktyke toe te pas: “Die hoofsaak is dat ons boere en gemeenskappe meer veerkratig moet word in die lig van 'n veranderende klimaat," sê hy.

Volgens Ministers Meyer en Bredell, medeleiers van die Wes-Kaap se  Klimaatsveranderingbestuur, getuig die ondertekening van die ooreenkoms, van die Wes-Kaapse Regering se verbintenis tot klimaatsveranderingveerkragtigheid.

Klimaatsveranderingvooruitskattings vir die Wes-Kaap voorspel meer gereelde en meer intense uiterste weersomstandighede wat voedselsekuriteit en ekonomiese groei sal bedreig.  Hierdie tendense beklemtoon​ die behoefte aan 'n gekoördineerde  respons van die regering, tersiêre instellings, en die privaat sektor om die impak van klimaatsverandering te temper.

Die US Skool vir Klimaatstudie wat in 2021 tot stand gekom het, kombineer klimaatsverwante kennis oor verskillende velde heen met die openbare sektor se klimaatsbeleide en -inisiatiewe, asook met die privaat sektor se vermoë tot regstellings- en innovasiekapasiteit. Dit alles is ter ondersteuning van 'n regverdige oorgang na 'n klimaatsveerkragtige  samelewing en 'n volhoubare, laekoolstof ekonomie.  Prof Guy Midgley is tans die direkteur van die skool. 

MoU_WCDASUClimateStudies_30.jpg

Op die foto, voor (van links af): Gerhard Gerber (Hoof: Weskaapse Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning), Prof. Louise Warnich (Dekaan: Fakulteit Natuurwetenskappe); Dr Mogale Sebopetsa (Hoof:  Weskaapse Departement Landbou).

Direk agter hulle: Dr Ilse Trautmann (Adjunk Direkteur-Generaal: Landbounavorsing en Regulatoriese Dienste), Ashia Petersen (Programbestuurder: Volhoubare Hulpbrongebruiksbestuur, WesKaapse Departement Landbou); Prof. Sibusiso Moyo (Adjunk Visekansellier: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, Universiteit Stellenbosch), Minister Ivan Meyer (WesKaapse Minister van Landbou) en Darryl Jacobs (Adjunk Direkteur-Generaal: Landbou Ontwikkelings- en Ondersteuningsdienste).

Agter: Sibusiso Lukhele (projek koördineer, SU), Minister Anton Bredell (WesKaapse Minister van Plaaslike Bestuur, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning), Karen Shippy (Hoof Direkteur: Omgewingsvolhoubaarheid, Weskaapse Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Prof. Stephanie Midgley (Afrika Klimaat en Ontwikkelingsinisiatief, Universiteit van Kaapstad) en Prof. Danie Brink (Dekaan: Fakulteit AgriWetenskappe, US).

Foto: Stefan Els