Die Universiteit Stellenbosch (US) se Senior Direkteur: Biblioteek- en Inligtingsdiens, Ellen Tise, is vir haar uitstaande bydrae tot die biblioteekwese en haar onwrikbare toewyding om gemeenskappe te dien, vereer. Die Suid-Afrikaanse Biblioteek- en Inligtingstrust (SALI Trust) en die Biblioteek- en Inligtingsvereniging van Suid-Afrika (LIASA) het onlangs gesamentlik die Leeftydprestasietoekenning by die LIASA-konferensiedinee wat in Somerset-Wes gehou is, aan Tise oorhandig.
Die SALI Trust en LIASA se Leeftydprestasietoekenning is 'n prestigeryke eerbewys wat aan individue toegeken word wat 'n buitengewone bydrae tot die biblioteekwese en die gemeenskappe wat hulle bedien, gelewer het. Segametsi Molawa van die SALI Trust het saam met die voorsitter van LIASA, Nazeem Hardy, die toekenning oorhandig. Molawa het Tise se merkwaardige loopbaan van vier dekades – wat deur leierskaprolle en beduidende prestasies gekenmerk is – beklemtoon,
Tise het in haar aanvaardingstoespraak gesê sy was gelukkig om van kleins af aan boeke blootgestel en aangemoedig te word om te lees. “Ek het my eerste biblioteekkaartjie gekry toe ek in graad 1 op Hanover in die Noord-Kaap was. Ons huis was reg oorkant die biblioteek geleë, so ek kon sien wanneer die bus met nuwe boeke uit Kaapstad aankom."
Tise het die toekenning aan haar ma opgedra wat in 2019 oorlede is. “Sy sou baie trots gewees het. My ma was 'n onderwyseres en 'n ywerige leser. Ek het my liefde vir lees by haar gekry."
Tise se beroepsreis in die biblioteekwese het as biblioteekassistent aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat begin. Sy het met die verloop van tyd die leer geklim om senior poste by verskeie universiteite te beklee, waaronder adjunk-universiteitsbibliotekaris aan die Universiteit van die Witwatersrand en Universiteitsbibliotekaris aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sedert 2006 dien sy as Senior Direkteur: Biblioteek- en Inligtingsdiens aan die US. Haar akademiese reis het uitgeloop op 'n MPhil-graad in Wetenskap- en Tegnologiestudie aan die US.
Afgesien van haar institusionele werk by die US, is Tise nasionaal en internasionaal 'n leidende figuur in die biblioteek- en inligtingsberoep. Sy is 'n stigterstrustee van die SALI Trust, het onder meer as direkteur op die Sabinet Aanlyn-raad gedien en was ook 'n lid van die Bill en Melinda Gates-stigting se Advieskomitee vir die Toegang tot Leer-toekenning. Haar invloed strek wêreldwyd en sy was onder meer van 2009 tot 2011 voorsitter van die Internasionale Federasie van Biblioteekverenigings en -instellings (IFLA).
Tise is al met talle toekennings en eerbewyse in haar loopbaan vereer, waaronder erelidmaatskap van gerespekteerde organisasies soos die Golden Key Internasionale Erevereniging, IFLA en LIASA. In 2010 het sy 'n spesiale toekenning van die Vereniging van Kollege- en Navorsingsbiblioteke ontvang ter erkenning van haar leierskap en bydraes tot internasionale biblioteekwese. Daarbenewens het sy al verskeie US Rektorstoekennings en 'n Kanselierstoekenning in 2020 ontvang.
Tise se toewyding aan die biblioteekwese en haar gemeenskapsdiens is deur die SALI-Trustkomitee beklemtoon. Sy dien tans as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biblioteek- en Inligtingskonsortium en beklee poste op verskeie advieskomitees binne IFLA, wat alles 'n duidelike bewys van haar onwrikbare verbondenheid tot die bevordering van die vakgebied is.
Oor wat die Leeftydprestasietoekenning vir haar beteken, het Tise erkenning aan haar familie, mentors en kollegas gegee wat haar regdeur haar loopbaan ondersteun het. “Ek het al meer as 75 lande besoek en ek is nog elke heer hartlik verwelkom, hoflik ontvang en bemoedig deur die entoesiasme en toewyding wat ons beroep kenmerk. Terwyl ons onder verskillende omstandighede en in uiteenlopende omstandighede swoeg, het ek nooit die gevoel gekry dat die biblioteekwese nie die beste beroep is om in te wees nie en die vlak van toewyding is eenvoudig net uitstekend."
Sy het die belangrikheid van biblioteke en bibliotekarisse beklemtoon om billike toegang tot inligting te bied, demokratiese waardes te bevorder en die soeke na kennis te demokratiseer.
“My loopbaan tot nou toe was opwindend, uitdagend en vervullend – nie net vir my nie, maar ook vir die beroep as geheel. Ek voel baie geseënd om 'n bydrae tot die bevordering van ons beroep en die instellings wat ons dien, te kon lewer. Billike toegang vir almal draai om die fundamentele oortuiging dat alle mense gelyk is, almal is vry. Die onvervreembare reg op toegang tot inligting en kennis is die enigste manier om die ontwikkeling van almal te verseker. Ek glo werklik dat een van die belangrikste maniere om hierdie mensereg te bereik, is dat biblioteke en bibliotekarisse ten volle betrokke raak by hul gemeenskappe en samelewings," het Tise gesê.
Sy skryf die sukses van die US Biblioteek toe aan 'n proaktiewe benadering en waardevolle vennootskappe, veral wat nuwe tegnologie betref. “Ons was nog altyd aan die voorpunt van tegnologiese innovasie. Ons is met internasionale tendense belyn en ons vennootskappe met biblioteke regoor die wêreld beteken ons kan die beste kundigheid benut. Ons is voortdurend besig om ons dienste te hersien en in 'n sekere te herskep om die beste moontlike geriewe vir navorsing te bied."
Tise het ter afsluiting gesê bibliotekarisse sal in die toekoms net so belangrik bly as wat hulle nog altyd was. “Hoewel ons benadering mag verskil en ons strategieë om ons doelwitte te bereik, nuut mag wees, sal ons dienste uitgebrei word en daar sal nuwe produkte binne ons praktyk wees, maar die verskaffing van inligting bly die essensie van ons besigheid. Dit is inderdaad gepas om te sê biblioteekwese is soos om ou wyn in nuwe bottels te sit. Om hier in een van Suid-Afrika se topwynproduserende gebiede te wees, maak dit 'n baie gepaste metafoor."