Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Inheemse, onderbenutte gewasse kan voedsel- en voedingsekerheid in Afrika ’n hupstoot gee
Outeur: Ethel Phiri
Gepubliseer: 01/11/2023

​Afrikadag vir Voedsel- en Voedingsekerheid is op 30 Oktober gevier. In ʼn meningsartikel vir die Cape Times skryf dr Ethel Phiri van die Volhoubare Landbou-program in die Fakulteit AgriWetenskappe dat inheemse en onderbenutte gewasse Afrika se voedselstelsels kan transformeer en die vasteland se voedsel- en voedingsekerheid 'n hupstoot kan gee.

  • ​Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

Ethel Phiri*

Afrikadag vir Voedsel- en Voedingsekerheid, wat jaarliks op 30 Oktober gehou word, is 'n geleentheid om oor die voortdurende uitdagings en die reuesegeleenthede te besin wat die vasteland se voedsellandskap kenmerk. Dit dien ook om ons te herinner aan wat ons moet doen om te verseker dat niemand op hierdie uitgestrekte en diverse vasteland honger gaan slaap nie.

Afrika is van sy ligging en kulture tot sy landboupotensiaal 'n plek met ongelooflike diversiteit. Hierdie diversiteit is beide 'n seën en 'n uitdaging wanneer dit kom by die versekering van voedsel- en voedingsekerheid vir die vasteland se vinnig groeiende bevolking. Ter viering van vanjaar se Afrikadag vir Voedsel- en Voedingsekerheid wil ek graag na die belangrikheid van inheemse en onderbenutte gewasse kyk om Afrika se voedselstelsels te transformeer en op sy beurt die vasteland se voedsel- en voedingsekerheid 'n hupstoot te gee.

Die uitdaging van voedsel- en voedingsekerheid in Afrika is veelvlakkig. Vinnige bevolkingsgroei, klimaatsverandering en sosio-ekonomiese ongelykhede het hierdie probleem vererger. In sy 2023-verslag verklaar die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) dat byna 20% van die Afrika-bevolking in 2022 aan ernstige voedselonsekerheid gely het. Dieselfde verslag dui ook daarop dat die voorkoms van ondervoeding in Afrika van 19,4 % in 2021 tot 19,7 % in 2022 gestyg het. Boonop bly wanvoeding 'n groot probleem, met 61,4 miljoen kinders wat aan belemmerde groei en kwyning ly weens onvoldoende voeding.

Terselfdertyd word Afrika buite verhouding deur die uitwerking van klimaatsverandering geraak. Wisselvallige weerpatrone, droogtes en onvoorspelbare reënval het tradisionele landboupraktyke ontwrig, wat tot skommelings in opbrengste en voedseltekorte gelei het. Daarbenewens duur inkomsteverskille voort, wat 'n beduidende deel van die bevolking sonder toegang tot voldoende voeding laat. Ten einde hierdie onderling verbonde uitdagings die hoof te bied, moet die transformasie van Afrika se voedselstelsels 'n strategiese noodsaaklikheid word wat kollektiewe inspanning, innovasie en 'n diepe ontsag vir die tradisies en biodiversiteit wat ons vasteland definieer, vereis.

Afrika is geseën met 'n ongelooflike biodiversiteit van inheemse en onderbenutte gewasse wat by die vasteland se uiteenlopende landbou-ekologiese toestande aangepas het. Daarbenewens het baie inheemse gewasse oor tyd só ontwikkel dat dit in Afrika se uitdagende toestande floreer en is hierdie gewasse dikwels verdraagsamer teenoor plae, siektes en ongunstige weersomstandighede, wat dit in die lig van klimaatsverandering 'n belangrike hulpbron maak.

Die insluiting van inheemse en onderbenutte gewasse in die hoofstroomvoedselvoorsiening kan transformerende verandering in Afrika se voedselstelsels aandryf. Aangesien wisselvallige klimaatstoestande steeds tradisionele kommoditeitsgewasse soos mielies, rys en koring bedreig, kan inheemse en onderbenutte gewasse as veiligheidsnet dien omdat dit oor die algemeen minder landbou-insette benodig en strawwer toestande kan verduur om sodoende tot landbouveerkragtigheid by te dra. Boonop beperk die fokus op hierdie paar stapelgewasse (mielies, rys en koring) die verskeidenheid voedsel wat verbruik word, wat tot 'n verlies aan diversiteit, wanvoeding en dieetverwante gesondheidsprobleme lei.

Verskeie Afrikalande het reeds die potensiaal van inheemse en onderbenutte gewasse erken en is aktief besig om dit by hulle voedselstelsels te integreer. So is tef, 'n klein graansoort wat 'n stapelvoedsel in Ethiopië is, byvoorbeeld vir sy voedingsvoordele erken en vind dit toenemend sy weg na wêreldmarkte. Die Ethiopiese regering het in navorsing en ontwikkeling belê om tefvariëteite te verbeter en die verbouing daarvan te bevorder.

In Nigerië het die produksie en verbruik van Afrika-jamsbone, 'n hoogs voedsame peulgewas, herleef. Dit spreek nie net voedsel- en voedingsekerheid aan nie, maar verskaf ook 'n inkomstebron vir boere. Die bevordering van moringa, 'n voedingsryke boom, het momentum gekry in Kenia. Sy blare en peule word gebruik om wanvoeding te beveg, en is dié plant waardevol danksy sy vermoë om 'n volhoubare bron van inkomste te bied. Fonio, 'n klein, droogtebestande graan, word as die “gewas van die toekoms" beskou, aangesien die verbouing daarvan die lewens van kleinboere in Wes-Afrika verander namate hulle voordeel trek uit verhoogde opbrengste en inkomste.

Hoewel die potensiaal van inheemse en onderbenutte gewasse duidelik is, is daar egter nietemin beduidende uitdagings vir die wydverspreide aanvaarding en integrasie daarvan in Afrika se voedselstelsels. Daar is byvoorbeeld 'n gebrek aan navorsing en ontwikkeling. Baie inheemse gewasse is nie dieselfde vlak nagevors en ontwikkel as hoofstroom-kommoditeitsgewasse nie, wat produktiwiteit en kommersiële lewensvatbaarheid daarvan beperk het. As sodanig bly toegang tot markte en waardekettings ook 'n groot uitdaging vir kleinboere wat inheemse gewasse verbou, aangesien hierdie boere dikwels nie die hulpbronne en infrastruktuur het om met groter markte te verbind nie. Baie verbruikers is ook nie vertroud met inheemse gewasse nie, wat die vraag na hierdie gewasse beperk. Die bevordering van hierdie gewasse vereis dus bewusmaking oor die voedingswaarde en kulturele betekenis daarvan. 

Afrika se reis na voedsel- en voedingsekerheid is 'n ingewikkelde en dringende uitdaging. Om inheemse en onderbenutte gewasse te omarm, is 'n deurslaggewende stap om hierdie uitdaging die hoof te bied. Verouderde of beperkende beleide kan die verbouing, verkoop en verspreiding van inheemse gewasse belemmer. Daarom moet regerings regulasies en beleide hervorm om die boerdery en verkoop van hierdie gewasse 'n hupstoot te gee. Dit sluit die hersiening van grondbesitwette, die bevordering van biodiversiteit en die skep van aansporings vir boere in.

Wanneer ons Afrikadag vir Voedsel- en Voedingsekerheid vier, moet ons erkenning gee aan die belangrikheid van inheemse gewasse en ons tot die ontwikkeling en integrasie daarvan in hoofstroomvoedselstelsels verbind. Sodoende kan ons die transformerende potensiaal waaroor hierdie gewasse beskik, ontsluit om 'n voedselveiliger, voedsamer en meer volhoubare toekoms vir Afrika te verseker. Om dít te bereik, sal 'n gesamentlike poging, innovasie en diepe respek vir die tradisies en biodiversiteit wat die vasteland definieer, vereis.

*Dr Ethel Phiri is 'n dosent in die Volhoubare Landbou-program in die Fakulteit AgriWetenskappe by die Universiteit Stellenbosch en hoofredakteur van die vaktydskrif, Journal of Underutilised Crops Research.

​