Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Jonathan Jansen formeel as lid van die Amerikaanse Akademie vir Kuns en Wetenskappe ingehuldig
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
Gepubliseer: 30/10/2023

​Dit was 'n ervaring van 'n leeftyd “om skouers te skuur met vooraanstaande internasionale vakkundiges", sê prof professor Jonathan Jansen, uitgelese professor in die Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) en voorsitter van die Akademie vir Wetenskap in Suid-Afrika (ASSAf). Hy is onlangs by 'n amptelike seremonie in Cambridge, Massachusetts, formeel as lid van die Amerikaanse Akademie vir Kuns en Wetenskap ingehuldig.

“Ek het toevallig tussen twee nog twee inkomende lede, die inkomende president van Harvard Universiteit en die kanselier van die Stadsuniversiteit van New York, gesit. Om op hierdie vlak deur 'n mens se eweknieë erken te word, is werklik 'n groot eer en baie opwindend. En ek weet dit sou nie moontlik kon gewees het sonder die platform wat die US die afgelope ses jaar of wat vir my navorsing en vakkundigheid gebied het nie. Ek is dankbaar teenoor die Universiteit en my mentors, vriende en familie wat dit moontlik gemaak het," sê hy.

Die Akademie, wat in 1780 gestig is, vereer uitnemendheid en bring leiers uit elke gebied van menslike pogings byeen om nuwe idees te ondersoek en belangrike kwessies aan te spreek. Huidige Akademie-lede verteenwoordig innoverende denkers op elke gebied en beroep, wat meer as 250 Nobel- en Pulitzer-pryswenners insluit. Jansen is met sy verkiesing vir die “uitstaande bydrae wat hy in sy vakgebied gelewer het", vereer.

Jansen neem sy plek onder die Akademie se vele noemenswaardige lede, waaronder John Adams, Benjamin Franklin en Alexander Graham Bell, in. Internasionale erelede sluit baanbrekers soos Charles Darwin, Albert Einstein, Winston Churchill, Wislawa Szymborska, Laurence Olivier, Mary Leakey, Gabriel Garcia Márquez, Akira Kurosawa en Nelson Mandela in.

Die werk gaan voort

Intussen, nader aan die huis, was Jansen betrokke by die insameling van R1,8 miljoen vir 'n vroeë kinderopvoedingsentrum in Cloetesville.

Sowat 90 kinders uit dié gemeenskap staan 'n beter kans op akademiese sukses danksy 'n vennootskap tussen die US en Breadline Africa om 'n nuwe vroeëkindontwikkelingsentrum (VKO) in die gebied te ontwikkel.

ATKV Abbasorg VKO, wat op die terrein van die Laerskool Cloetesville gebou gaan word, sal die eerste VKO-struktuur in hierdie gemeenskap wees wat aan 'n laerskool gekoppel word. “Ons is opgewonde oor die moontlikheid van wat kan gebeur, in Stellenbosch en in Suid-Afrika, wanneer ons in staat is om verbindings te maak, veral in armer gemeenskappe, met voorskole en skole."

Jansen het 'n “filantropiese viering" aangebied waar hy met prof Thuli Madonsela en radiopersoonlikheid John Maytham gesels het oor die onderwerp “Is daar hoop vir Suid-Afrika?". By hierdie geleentheid het die Albert Wessels Trust belowe om R1,5 miljoen vir die projek te skenk. Peninsula Beverages het 'n verdere R100 000 geskenk, met Breadline Africa wat die res bygevoeg het wat nodig is om die R1,8 miljoen VKO-sentrum te finansier.

“Die wonderlike ding van Suid-Afrika is dat mense wil weet wat hulle kan doen (om te help)," sê Jansen. Die skenkings en vennootskap sal verseker dat hierdie kinders die beste moontlike opvoedkundige ervaring het. “Te veel kinders kom in graad 1 in wat nie hul name kan skryf of tel nie." Deur 'n VKO aan 'n laerskool te koppel, sal hierdie kinders die grondliggende vaardighede hê wat hulle nodig het om sukses te behaal wanneer hulle wel die formele onderwysstelsel betree, het hy verduidelik.​