Ons bevind ons in die middel van 'n “goue eeu" van pre-kliniese en kliniese tuberkulose- (TB-) navorsing wat, indien suksesvol, teen 2030 'n einde aan tuberkulose kan bring.
Só sê dr Clifton E Barry III, hoof van die afdeling vir tuberkulosenavorsings in die Laboratorium vir Kliniese Aansteeklike Siektes by die Nasionale Instituut vir Allergie en Aansteeklike Siektes (NIAID) in die VSA, wat vandeesweek Stellenbosch vir die 178ste Nobel-simposium in Chemie besoek het.
Nobel in Afrika is 'n STIAS-inisiatief in vennootskap met die Universiteit Stellenbosch (US) en word onder die vaandel van die Nobelstigting en die Koninklike Sweedse Akademie vir Wetenskappe, met finansiering deur die Knut en Alice Wallenberg-stigting aangebied. Danksy hierdie inisiatief het STIAS verlede jaar die eerste instelling buite Skandinawië geword om Nobel-simposia namens die Nobelstigting aan te bied sedert die ontstaan van die simposiumreeks in 1965.
Vanjaar se simposium vir chemie het gefokus op die kritiese tema, “Tuberkulose en antibiotiese weerstand: Van basiese geneesmiddelontdekking tot kliniek", en het 'n multidissiplinêre groep van die wêreld se voorste wetenskaplikes in vakgebiede wat wissel van geneesmiddelontwerp tot biochemiese ontledings en geneeskundige toepassings in TB-diagnose en -behandeling in Suid-Afrika en Afrika byeengebring.
Baie van hierdie besprekings het in geslote sessies plaasgevind, met uitreikaktiwiteite by TB-navorsingsentrums wat vir ná die simposium beplan is. Martin Jörnrud, eerste sekretaris vir handel en ekonomiese sake by die Sweedse ambassade, het gesê TB hou as die grootste pandemie ná Covid-19 'n beduidende bedreiging vir wêreldwye openbare gesondheid in en verg daarom 'n samewerkende benadering om oplossings te vind.
Prof Sibusiso Moyo, die US se Viserektor Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, het in haar verwelkoming gesê die doel van die Nobel in Afrika-simposium is om 'n skakelplatform te bied om innoverende vakkundigheid op hoë vlak te deel en die lewensbelangrike belang van wetenskaplike navorsing vir die toekoms van die vasteland en die wêreld uit te beeld. As tuiste van die jongste en vinnigste groeiende bevolking wêreldwyd, is intellektuele belegging in Afrika “nie net logies nie, maar noodsaaklik", het sy bygevoeg. Die simposium stem ook ooreen met die US se visie van inklusiwiteit en die strewe na kennis in diens van die samelewing. “Ons is 'n universiteit wat in Afrika gewortel is met wêreldwye relevansie. Die simposium bied verdere geleenthede vir samewerking en betrokkenheid, wat die US se wêreldwye relevansie en kapasiteit vir die bevordering van denkleierskap beklemtoon," het Moyo gesê.
In haar aanbieding oor die aansporings en struikelblokke vir die ontwikkeling van geneesmiddels vir globale gesondheid, het prof Gilla Kaplan, 'n voormalige direkteur van die Globale Gesondheidsprogram vir Tuberkulose en die Bill en Melinda Gates-stigting en senior adviseur vir geneesmiddel-ontwikkeling vir globale gesondheid, gesê: “TB is op 'n punt waar ons sukses kan behaal as ons aandag gee." As 'n verwaarloosde tropiese siekte (NTD) is dit een van die toestande waar kliniese navorsing uitdagings soos beperkte toegang tot geaffekteerde gebiede, lang en duur middelproewe, botsende gesondheidsbeleide en uitdagende logistiek of gebrek aan infrastruktuur ondervind, het sy verduidelik.
Dr Anastasia Koch van Eh!woza, 'n openbare deelnameprogram, en 'n eredosent aan die Universiteit van Kaapstad, het die gehoor ingelig oor onlangse projekte en dokumentêre programme wat openbare betrokkenheid oor TB en die behandeling daarvan ondersteun. Prof Dissou Affolabi van die Wes- en Sentraal-Afrika-streeksnetwerk vir Tuberkulosebeheer in Benin, het die oop sessie afgesluit met 'n bespreking van die behoefte aan 'n streeksmodel om programmatiese en navorsingsvermoëns oor TB in Wes- en Sentraal-Afrika te versterk.
Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het by die openbare lesing deur Barry die simposium as 'n “bewys van die krag van samewerking" beskryf en gesê dit is uiters belangrik om ondersoek en die bevordering van kennis te kweek. “Ons wil navorsing lewer wat wêreldwyd aanklank vind." Oudregter Edwin Cameron, kanselier van die US, het opgemerk dat 50% van die mense in Suid-Afrika wat TB het, ook MIV het. “Sewe miljoen mense in SA het hul lewens te danke aan antiretrovirale middels, wat bewys dat ons dinge met openbare-private vennootskappe kan laat gebeur." Hy het gesê die simposium sal soortgelyke geleenthede in TB-navorsing moontlik maak.
Barry het in sy lesing gesê: “Ons staan op die vooraand van 'n tweede rewolusie van TB-chemoterapie." Volgens hom is dit soortgelyk aan die stukrag wat vroeg in die 20ste eeu gesien is toe antibiotika soos streptomisien ontwikkel is. “Standaard tuberkulose-chemoterapie is heeltemal te lank om die doelwitte te bereik wat onlangs by die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering se tweede hoëvlakvergadering oor tuberkulose gestel is. Die beskikbaarstelling van korter behandeling verg ongekende innovasie oor verskeie vakgebiede en 'n baie meer in-diepte begrip van menslike kliniese siektes." Barry het na studies verwys wat in die Wes-Kaap en China gedoen is om 'n grondslag vir die begrip van die patofisiologie van menslike siektes te lê en om kombinasieterapieë vinniger te identifiseer wat tot beduidende verkorting van behandeling sal lei.
Moyo het die simposiumsameroepers, Fredrik Almqvist van die Umeå-Universiteit, Jacky Snoep van die US en Maria Lerm van die Linköping-Universiteit, bedank vir die reël van die geleentheid. Sy het ook erkenning gegee aan die ondersteuning van die Nasionale Instituut vir Teoretiese en Rekenaarwetenskappe (NITheCS), die Nobelstigting, die Koninklike Sweedse Akademie vir Wetenskappe en die Knut en Alice Wallenberg-stigting.
Onderskrif:
Oudregter Edwin Cameron, kanselier van die US; Prof Sibusiso Moyo, die US se Viserektor Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie; dr Clifton E Barry III, hoof van die afdeling vir tuberkulosenavorsings in die Laboratorium vir Kliniese Aansteeklike Siektes by die Nasionale Instituut vir Allergie en Aansteeklike Siektes (NIAID) in die VSA; Edward Kirumira, STIAS direkteur en Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, by die 178ste Nobel-simposium in Chemie.