Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch benoem ses nuwe ontvangers van eredoktorsgrade
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
Gepubliseer: 20/10/2023

​'n Adjunk-goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, 'n toonaangewende astrofisikus wat betrokke is by die Square Kilometre Array (SKA)-teleskoopprojek en 'n wenner van die gesogte Alan Paton-prys vir nie-fiksie is onder die ses mense wat aangewys is om by die komende gradeplegtighede van die Universiteit Stellenbosch (US) met eredoktorsgrade vereer te word.

Die US ken eredoktorsgrade toe aan buitengewone individue wat hulleself op hul onderskeie gebiede onderskei het en 'n beduidende bydrae tot die samelewing gelewer het.

Die jongste ontvangers van hierdie eerbewys is prof Pumla Dineo Gqola, akademikus en skrywer; Charlotte Vuyiswa McClain-Nhlapho, globale gestremdheidsadviseur van die Wêreldbank-groep; dr Robert Martin Adam, 'n hoogs bekwame fisikus; prof Lehana Thabane, 'n internasionaal erkende biostatistikus; Nomfundo Tshazibana, adjunk-goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) en uitvoerende hoof van die Omsigtigheidsowerheid; en prof James Robinson, 'n wêreldbekende ekonoom en politieke wetenskaplike.

“As 'n instelling wat kennis tot diens van die samelewing bevorder, is die US trots daarop om met ses individue geassosieer te word wat hulleself daartoe verbind het om 'n verskil in hulle gemeenskappe én die wêreld te maak," sê prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US. “Ons erken hierdie ontvangers se uitstekende bydraes in hulle onderskeie vakgebiede waar hulle hulself onderskei het as kampvegters, denkleiers, innoveerders en skeppers van verandering. Hulle werk is belyn met die Universiteit se Visie 2040 om Afrika se voorste navorsingsintensiewe instelling te wees."

Vyf van die ses ontvangers sal hulle eregrade by die komende gradeplegtigheid in Desember saam met prof Kenneth Shropshire (DCom) ontvang wie se eregraad van die vorige jaar af oorgestaan het. Robinson sal sy eregraad by die gradeplegtigheid in Maart 2024 ontvang.

Meer oor die ontvangers en hulle eregrade

Prof Pumla Dineo Gqola

Gqola sal die graad Doktor in die Lettere (DLitt), honoris causa, ontvang. Haar baanbrekerstudie, What is slavery to me? Postcolonial/Slave memory in post-apartheid South Africa (Wits University Press, 2010), was die eerste vollengte-studie om lig op slaafgeheue in Suid-Afrika te werk en het kritiese gesprek ontlok.

Sy het in 2016 die prestigeryke Alan Paton-prys vir nie-fiksie vir haar mylpaalwerk, Rape: A South African Nightmare (MF Books/Jacana, 2015) verower. Meer onlangs het Gqola die diepgewortelde krisis van geweld aan die hand van haar konsep van die Female Fear Factory (MF Books/NB-Uitgewers, 2021) verken deur die meganismes wat die verkragtingskultuur en toksiese vrouehaat verewig te ontrafel.

Afgesien van haar akademiese nastrewing, het Gqola ook haar onwrikbare toewyding tot maatskaplike geregtigheid en gendergelykheid getoon. Sy is in die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) se Ministeriële Taakspan oor seksuele teistering en geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrikaanse openbare universiteite aangestel en het hier haar toewyding tot die skep van veiliger ruimtes vir almal getoon. Verder dien sy in die Raad van Trustees van die Afrika-feminis se strategiese regsgedingfirma, Women's Legal Centre. As die 2023-wenner van die Falling Walls “Science Breakthrough of the Year"-toekenning binne Sosiale Wetenskappe en Geesteswetenskappe, daag Gqola se werk steeds die golf van geweld teen vroue en geslagsgebaseerde geweld uit.

 Me Charlotte Vuyiswa McClain-Nhlapo

Die graad Doktor in die Wysbegeerte (DPhil), honoris causa, word aan McClain-Nhlapo toegeken vir haar lewenslange werk op die gebied van maatskaplike geregtigheid en gelykheid. Haar vroeë loopbaan het op kinderregte gefokus en sy het saam met vooraanstaande regskundiges soos Dullah Omar en Bridgette Mabandla gewerk. Nadat sy in 1994 haar rugmurg in 'n motorongeluk beseer het, het McClain-Nhlapo haar fokus verbreed om gestremdheidsregte in te sluit en het sy die eerste konferensie oor kinders met gestremdhede in die parlement gereël. Sy was een van die hoofskrywers van die Suid-Afrikaanse Gestremdheidstrategie.

Sy was ook by UNICEF as die Kinderbeskermingsbeampte vir kinders in uiters moeilike omstandighede verantwoordelik en word daarna die Kommissaris vir Maatskaplike en Ekonomiese Regte by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie. Sy poog altyd om gestremdheidsregte sentraal in al haar werk te plaas. McClain-Nhlapo is tans die globale gestremdheidsadviseur van die Wêreldbank-groep. Die eredoktorsgraad vereer haar toewyding daaraan om op plaaslike, streeks- en internasionale vlak bewustheid te skep oor die uitdagings wat mense met gestremdhede beleef.

Dr Robert Martin Adam

Die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc), honoris causa, word aan Adam toegeken vir sy wesenlike bydrae tot die wetenskap, tegnologie en die samelewing. Hy is 'n uiters bekwame fisikus wie se werk oor 'n wye verskeidenheid vakgebiede heen strek. Hy het as die direkteur van die Vierkantekilometerreeks (SKA) Suid-Afrika 'n instrumentele rol in die voltooiing van die MeerKAT-radioteleskoop gespeel. Sy strategiese vernuf het ook tot Suid-Afrika se suksesvolle bod bygedra om die gasheer van die SKA Sterrewag te wees, Hy was van 2017 tot 2022 die besturende direkteur van die Suid-Afrikaanse Radio-astronomiese Sterrewag (SARAO).

As 'n verdere uitbreiding van sy wetenskaplike omvang, het Adams 'n betekenisvolle invloed op die gebied van astrofisika gehad. Hy was deel van die span wat baanbrekerswaarnemings van die Melkwegmiddelpunt gedoen het en die magnetaar (beter bekend in Engels as magnetar) PSR J1622–4950 intensief bestudeer het. Hy werk nou as 'n strategiese en tegnologie-konsultant.

Prof Lehana Thabane

Hierdie internasionaal-erkende vakkundige en biostatistikus sal die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc) (Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe), ontvang vir sy bydrae tot klinieseproefmetodologie. Sy baanbrekerswerk in die ontwikkeling en toepassing van nuwe statistiese metodes en proefontwerpe, insluitende platformproewe vir Covid-19, baan die weg vir innoverende mediese en gedragsintervensies wêreldwyd.

Thabane is hoogs gerespekteer vir die indrukwekkende diepte en trefwydte van sy statistiese en metodologiese kundigheid en daarom is hy in aanvraag onder gesiene lede van die internasionale wetenskapsgemeenskap om as hoofstatistikus in deurslaggewende proewe te dien. Thabane het 'n besondere liefde vir die ontwikkeling van toekomstige vakkundiges en het al aan meer as 200 MSc- en PhD-studente studieleiding en mentorskap aan meer as tien internasionale genote gebied. Hy is ook 'n groot kampvegter vir rasse- en etniese diversiteit en gelykheid in akademiese en kliniese omgewings.

Ms Nomfundo Tshazibana

Die hoof- uitvoerende beampte (HUB) van die Omsigtigheidsowerheid ontvang die graad Doktor in die Handelswetenskappe (DCom), honoris causa, vir haar werk om ekonomiewe groei en stabiliteit in Suid-Afrika te bevorder. Tshazibana se akademiese loopbaan het reeds op 'n baie vroeë ouderdom begin toe hierdie begaafde leerder op die jong ouderdom van 15 matriek geslaag en haar eerste graad, 'n BCom-graad, op 18-jarige ouderdom behaal het. Sy het belangrike poste in die Nasionale Tesourie, die Internasionale Monetêre Fonds en die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) beklee.

Sy is as 'n huidige adjunk-goewerneur van die SARB daartoe verbind om die volgende geslag ekonomie in die openbare sektor te ontwikkel en om die gehalte van ekonomiese opleiding in die land te verbeter. Hierdie eredoktorsgraad gee erkenning aan haar buitengewone bydrae tot beleid en besluitneming.

Prof James Robinson

Robinson ontvang die graad Doktor in die Handelswetenskappe (DCom), honoris causa, vir sy denkleierskap oor ekonomiese ontwikkeling en politiese instellings. Hy word vereer vir sy verbintenis om in die globale Suide te werk en sy aktiewe samewerking met ontluikende vakkundiges in Latyns-Amerika en Afrika suid van die Sahara. Hy het 'n sleutelrol in die vestiging en bevordering van die gebied van kwantitatiewe ekonomiese geskiedenis in Suid-Afrika gespeel.

Robinson se bande met die US strek sover terug as 2012 toe hy die Universiteit aktief ondersteun het in die instelling se voorbereidings om daardie jaar as gasheer vir die eerste Wêreld-ekonomiese geskiedeniskongres op te tree en hy was ook een van die geleentheidsprekers.

Een van die konkrete uitkomste van hierdie geleentheid was die totstandkoming van die Laboratorium vir die Ekonomie van Afrika se Verlede (LEAP) om Afrika-stemme op die akademiese vakgebiede van Ekonomiese Geskiedenis en Ekonomiese Ontwikkeling te verhef. Hy het baie van sy tyd en hulpbronne in die bevordering van vakkundigheid in die globale Suide belê.