Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontmoet prof Dieter, die dataspeurder
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 19/10/2023

Prof Dieter von Fintel van die Departement Ekonomie in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by die Universiteit Stellenbosch het Dinsdag (17 Oktober 2023) sy intreerede gelewer. Sy lesing was getiteld “Mense, plek en ontwikkeling: dataverhale deur hede en verlede"

Von Fintel het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe hy datavertelkuns gebruik om nie net te verstaan waarom sommige mense en plekke beter daaraan toe is as ander nie, maar om ook die impak van hedendaagse beleide bloot te lê wat poog om ongelykhede uit die verlede aan te spreek.

Vertel ons meer van jou navorsing en waarom jy in hierdie spesifieke veld belanggestel het.

My werk strek die kruising tussen Ontwikkelingsekonomie en Ekonomiese Geskiedenis. Dit beteken dat ek twee breë belangstellingsvelde het wat baie verskillend mag voorkom, maar hulle vul mekaar baie goed aan. Eerstens bestudeer ek lesse uit die verlede om te verstaan waarom sommige mense en plekke meer welgesteld is as ander, en wat die ekonomiese faktore is wat die armstes verhinder het om die rykstes in te haal. Ek gebruik egter ook data om die invloed van hedendaagse beleide bloot te lê wat probeer om ongelykhede wat uit die verlede geërf is, aan te spreek.

Ekonomie is die perfekte veld vir iemand wat daarvan hou om elke dag hulle linker- en regterbrein te gebruik. Dit verg baie dissipline om deur data te werk ten einde te ontsyfer wat aangaan. Dit is egter uiters bevredigend wanneer insigte uit onvolmaakte gegewens oor onvoorspelbare menslike gedrag na vore kom om 'n gekristalliseerde verhaal te vorm. Dit is deels wetenskap, deels kuns. Ek sien myself as 'n speurder wat verskeie uiteenlopende stukke inligting saamvoeg om 'n hele verhaal te verpak.

Hoe sal jy die relevansie van jou werk beskryf?

Ek spandeer baie tyd aan “irrelevante" werk, soos om data op te ruim, modelle te skat en sin te probeer maak uit verwarring. Dikwels lewer ure se werk niks op nie. Maar my werk word relevant wanneer 'n navorsingsidee nie net uiters interessant is nie, maar ook lig kan werp op waarom die samelewing hom bevind waar hy is. Dit is veral opwindend wanneer my werk ook vir beleidsvormers, dinkskrums en die media relevant is, en wanneer ek tot die openbare diskoers kan bydra. My werk is al in presidensiële toesprake en deur toonaangewende internasionale nuusdienste gebruik.

Hoe vul datavertelkuns ons begrip van Suid-Afrika se ekonomiese ontwikkeling en die ongelykhede wat tussen groepe voortduur aan?

Ons leef tans in 'n wêreld waar daar meer data is as wat moontlik is om in bruikbare en uitvoerbare inligting te verwerk. Datavaardighede help ons dus nie net om die geloofwaardige van die twyfelagtige te skei nie, maar wanneer die speurwerk gedoen word, lewer hierdie vaardighede bewyse oor watter beleid werk en watter nie. Dit help ons ook om getalle te heg aan dinge wat ons vermoed waar is. Dataverhale kan ons egter dikwels na nuwe gevolgtrekkings lei, wat ons dwing om ons siening van die wêreld aan te pas. Die bewyse wat met dataverhale gepaard gaan, is veral kragtig om te verstaan hoe ontwikkeling tussen mense en plekke van mekaar afgewyk het.

Watter lesse kan ons uit datavertelkuns leer ten opsigte van die versnelling van ekonomiese groei en die vermindering van ongelykhede?

Ons leef in 'n tydperk waar die vermindering in armoede ongekend is in die geskiedenis. Ekonomiese groei was tot nou toe een van die kernaandrywers om hierdie massiewe maatskaplike verskuiwings te bewerkstelling. Suid-Afrika is egter dikwels 'n spesiale geval met sy buitengewoon hoë vlakke van werkloosheid en ongelykheid wat ons vordering kniehalter. Hoewel ek nie dink dat daar “een oplossing"' vir hierdie baie spesifieke probleme is nie, toon ons data dat verskillende “lae" oplossings wat mekaar versterk, bietjie vir bietjie aansienlike veranderinge kan meebring. Hierdie stuksgewyse benadering kan ons ongeduldig laat word. Ons kan egter moed skep dat ander lande van die strikke waarin ons ons tans bevind, vrygespring het. Om hulle data te ondersoek en ons verhaal met hulle s'n te vergelyk, sal baie help om ons strategieë vir die pad vorentoe te verbeter. Die belangrike ding is om lesse te leer uit dít wat die data ons leer en om nie aan nuttelose oortuigings en ideologieë vas te klou om ons probleme op te los nie.

Jy het baie jare in die uitdagende omgewing van hoër onderwys deurgebring. Wat hou jou aan die gang wanneer dinge moeilik raak?

Ek vind dit onweerstaanbaar wanneer 'n medewerker of 'n nagraadse student met 'n opwindende nuwe idee vorendag kom. Die vakgebied van Ekonomie het met die verloop van tyd al hoe opwindender geword – soms dink ek ek moet op 'n daaglikse grondslag heropgelei word om tred te hou met nuwe, ontluikende dele van die vakgebied. Ek hou daarvan om met mense oor dissiplines heen te praat by wie ekonome baie kan leer. Ek word ook bemoedig wanneer ek sien hoe my studente uitgaan om 'n verskil in die wêreld te maak – veral diegene wat aanbeweeg om beter navorsers en dosente as ek te word. Dit herinner my net weer dat die gevolge van ons alledaagse geswoeg baie verder kan strek as wat ons ons kan indink.

Vertel vir ons iets opwindends oor jouself wat mense nie sou verwag nie.

Ek hou daarvan om nuwe speserye te ontdek om mee kos te maak en om plante te kweek wat in 'n gereg gebruik kan word. Vir my is kos- en tuinmaak uiters ontspannend.

Hoe bring jy jou vrye tyd deur?

Ek spandeer tyd saam met my vrou en my seuns, speel 'n bietjie klavier, maak kos, vroetel in die tuin en vind groot waarde daarin om by my kerkgemeenskap betrokke te wees.