Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Korrupsie moet uitgeroei word om armoede in Afrika te bekamp
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 17/10/2023

​Korrupsie belemmer armoedeverligtingspogings en algehele ontwikkeling in Afrika aansienlik. Dit is 'n groot struikelblok deurdat dit hulpbronne wegneem van diegene wat dit die nodigste het, siklusse van armoede laat voortduur en sosio-ekonomiese vooruitgang ondermyn.

Die aanspreek van armoede* en korrupsie vereis 'n omvattende benadering wat wetgewende en beleidsraamwerke, goeie bestuur, etiese leierskap, morele en samelewingswaardes en gemeenskapsbetrokkenheid insluit.

Dit is die sleutelvoorstel van 'n nuwe boek, “The Nexus between Poverty and Corruption: Quo Vadis?", wat onlangs deur Cambridge Scholars Publishing uitgegee is.

Die boek, onder redaksie van Pregala Pillay en Chris Jones van die Universiteit Stellenbosch en Sakhile Zondi en Purshottama Reddy van die Universiteit van KwaZulu-Natal, ondersoek die unieke uitdagings wat lande in Afrika in die gesig staar terwyl hulle probeer om armoede wat deur korrupsie veroorsaak word, te bekamp. Die boek bied 'n perspektief wat erkenning gee aan die vasteland se diversiteit en die spesifieke dinamika wat in verskillende kontekste ter sprake is.

“Deur gevallestudies van verskeie Afrika-lande aan te bied, maak die boek dit duidelik dat dit 'n gesamentlike poging, tesame met etiese leierskap, gemeenskapsbetrokkenheid en strategiese beleidsintervensies, gaan verg om korrupsie op verskeie vlakke te bekamp ten einde armoede doeltreffend te verminder op die vasteland," sê die redakteurs.

Hulle voeg by: “Die boek beklemtoon ook dat ons 'n diepgaande verskuiwing in politieke en bestuurswil nodig het – iets wat histories ietwat teleurstellend oor die hele vasteland was. Om werklik vordering te maak, moet daar 'n opregte onderneming deur politieke leiers en regeringsamptenare wees om korrupsie doeltreffend te bekamp. Dit behels die streng afdwinging van teenkorrupsiemaatreëls, deursigtige bestuur en 'n verbintenis tot die oppergesag van die reg.

“Hierdie boek kom op die regte tyd as 'n mens in ag neem dat 534 miljoen van die 1,1 miljard arm mense regoor die wêreld volgens die jongste wêreldwye multidimensionele armoede-indeks in Afrika suid van die Sahara woon. Die uitroeiing van korrupsie sal baie help om hulle uit armoede te lig en die volhoubare ontwikkelingsdoelwit van 'geen armoede meer nie' teen 2030 te bereik."

Die boek bestaan uit 17 hoofstukke en ondersoek verskeie sleuteltemas soos hoe korrupsie pogings om armoede te verlig, ondermyn deur hulpbronne weg te wend, beleide te verdraai en ongelykhede te laat voortduur; wetgewende en beleidsmaatreëls wat daarop gemik is om korrupsie binne Afrika-regerings en openbare sektore te bekamp; die betekenis van etiese leierskap en morele waardes in die bevordering van goeie staatsbestuur; die rol van gemeenskapsbetrokkenheid, samelewingswaardes en identiteitspolitiek in die stryd teen korrupsie en armoede; en die potensiaal van tegnologie as 'n instrument vir deursigtigheid, aanspreeklikheid en die vermindering van korrupsie.

Volgens die redakteurs beweeg die boek verder as breë veralgemenings deur konteksspesifieke insigte te bied oor hoe korrupsie armoede op plaaslike, streeks- en nasionale vlak beïnvloed deur die uiteenlopende maniere waarop korrupsie manifesteer en deur die implikasies daarvan vir armoede in verskillende Afrika-lande uit te lig.

Dit ondersoek ook die rol van morele waardes en karakter in die bekamping van korrupsie en die verligting van armoede.

“Die boek beklemtoon die belangrikheid van etiese leierskap en samelewingswaardes in die vorming van gedrag en die bevordering van 'n kultuur van integriteit. Hierdie perspektief beklemtoon die noodsaaklikheid van 'n onder-na-bo-benadering om korrupsie aan te pak, en beklemtoon die morele grondslag waarop teenkorrupsiepogings gebou moet word.

“Een van die sentrale lesse in die boek is die noodsaaklikheid om denkwyses veral onder kiesers en die stemgeregtigde publiek te verander. Dit voer aan dat die stemme van armes, behoeftiges en gemarginaliseerdes as sleutelbelanghebbendes in die stryd teen armoede en korrupsie gehoor en gewaardeer moet word ten einde betekenisvolle vordering te maak.

“Die erkenning van die agentskap van hierdie gemeenskappe is noodsaaklik omdat hulle die mag het om verandering aan te dryf deur aktief deel te neem aan die prosesse wat hul lewensgehalte verbeter."

Die redakteurs wys daarop dat aangesien die handhawing van die oppergesag van die reg 'n hoeksteen van enige doeltreffende strategie is om korrupsie te bekamp en armoede te verlig, die boek die noodsaaklikheid van aanspreeklikheidsmeganismes beklemtoon, soos die daarstelling en afdwinging van wetlike raamwerke om te verseker dat openbare amptenare verantwoordelik gehou word vir hul optrede. 

“Die boek beklemtoon die belangrikheid van die nakoming van internasionale konvensies, raamwerke en ooreenkomste wat wêreldwyd gevestig is om korrupsie te bekamp, en pleit vir internasionale samewerking en vennootskappe met ontwikkelingsagentskappe en ontwikkelde lande om aggressief op armoedeverligting en die uitwissing van korrupsie in Afrika te reageer. Hierdie wêreldwye alliansies kan die nodige hulpbronne, kundigheid en ondersteuning verskaf om hierdie uitdagings doeltreffend aan te spreek."

Die redakteurs meen die boek sal byval vind by studente, akademici, beleidmakers en regeringsamptenare, ontwikkelingspraktisyns, sake- en nywerheidsleiers, gemeenskapsleiers en aktiviste, asook nieregeringsorganisasies wat betrokke is by voorspraak, ontwikkelingswerk en teenkorrupsie-inisiatiewe.

*Die Internasionale Dag vir die Uitwissing van Armoede word jaarliks op 17 Oktober gevier. Klik hier vir die vertaalde weergawe van ʼn New24-artikel deur Prof Pregala Pillay (Skool vir Publieke Leierskap) en Dr Chris Jones (Sistematiese Teologie en Ekklesiologie / Eenheid vir Morele Leierskap) oor hoe korrupsie armoede laat voortduur.

 ​