Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SVO kondig Nina Callaghan as adjunk-direkteur aan
Outeur: Centre for Sustainability Transitions
Gepubliseer: 16/10/2023
Nina Callaghan is as adjunk-direkteur van die Sentrum vir Volhoubaarheidsoorgange (SVO) aangestel. Sy sluit aan by mede-direkteure, prof Reinette (Oonsie) Biggs en prof Mark Swilling, om die leiding te neem in ʼn Sentrum met ʼn sterk en groeiende reputasie vir wêreldklas navorsing en nagraadse onderrig op die gebied van volhoubaarheidsoorgange. 

Nina sluit in 2019 by die SVO aan, ná ʼn transformerende ervaring in die Sentrum se NGDip-program. 

“Ek het as die leier van ʼn NRO (nieregeringsorganisasie) en gesinsmaker na die NGDip gekom op soek na ʼn taal om die groeiende kompleksiteite van ons wêreld te verduidelik. Wel, ek het dit gevind, saam met ʼn hele gemeenskap mense by die SVO – dromers, kritiese realiste, praktisyns en aktivis-akademici wat ʼn diep opregtheid en geesdrif vir verandering uitstraal. Ek wou deel daarvan wees en het as navorser by die Sentrum aangesluit.” 

Haar eerste navorsingstaak is die mederedaksie van die boek, Anatomy of State Capture (2021), saam met prof Swilling en ʼn kollega, Robyn Foley. Sy beskryf dit as ʼn “les oor die swart kuns van regeringspraktyk” wat die saad vir haar MPhil laat ontkiem het. Daarin poog sy om teorie vir relasionale regeringspraktyk en die vermoëns wat nodig is om deur oorgang na geregtigheid toe te bestuur, op te bou. 

“Ons kan nie tevrede wees om in die skadu van staatskaping te leef, sonder enige padtekens van ʼn meer generatiewe, inklusiewe regeringspraktyk nie. Hoe skep ons openbare waarde saam met die publiek en hou mekaar verantwoordbaar vir die ontwikkelings- en transformasienoodsake van ons land – inderdaad, ons wêreld? Watter vaardighede en eienskappe moet ons aankweek om die verandering wat ons nodig het, te bewerkstellig?” Dit is die vrae wat Nina vir ʼn PhD in 2024 laat inskryf het. 

“Ek respekteer die sterk akademiese erflating van die SVO en waardeer ook dat die SVO waarde heg aan toepassing, praktyk en ander bevoegdhede. Hoewel ek ambisieus voel oor verdere studie, het ek ook vertroue in die lewenservaring wat ek opgedoen het en voel ek dat ek net so goed kan dien met wie ek reeds is.” 

Nina beskryf haar rol as adjunk-direkteur as die ondersteuning van mense om te gedy, sodat die SVO werklik sy waardes van billikheid, geregtigheid, geselligheid en die maak van ʼn betekenisvolle verskil, kan uitleef. 

“Hoewel die SVO ʼn lang en gevierde geskiedenis van navorsing en onderrig het, benodig ons bedryfstelsels aandag; ek rol dus my moue vir daardie sleurwerk ook op. Onvolledige en onverfynde bedryfstelsels skep baie onsigbare werk wat dikwels swaar op die administratiewe en leierskapspanne neerkom. Hierdie mense is die ruggraat van elke instelling; ek is dus gemotiveer om as deel van my rol ook na die gewone en vervelige details om te sien.”

Nina is die eerste bruin vrou wat ʼn leierskapsposisie by die Sentrum aanvaar en dit is ʼn transformasie-oomblik wat nie by haar verbygaan nie. 

“Ek vier hierdie feit. Hierdie aanstelling berus nie slegs op die valuta van ras nie – maar dit help. Dit help my, dit help die SVO, ons studente en die Universiteit om ʼn swart leier in ʼn grootliks ongetransformeerde omgewing te hê. Ek weet ek het my ook op die voorgrond gestel en is erken vir wat ek kan bied, naamlik gesonde en waagmoedige oordeel, empatie en robuuste deelname aan navorsing, onderrig en die institusionele lewe. Dit is vir my en diegene wat voor my hier was en die weg gebaan het, belangrik om dit as ʼn swart vrou hier aan die US te doen. Ek gaan opdaag daarvoor.” 

Nina is ook die voorsitter van die Transformasiekomitee van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die US. 

Ná werk put sy vreugde uit tuinmaak, kompos maak en haar broeisel hoenders versorg. Sy is ook ernstig oor haar rol in regeringspraktyk en dien in die raad van trustees van twee nieregeringsorganisasies.

“Ek is steeds aan my vorige werksplek verbind deur my diens in die raad van The Radio Workshop. Dit is waar my liefde vir die jeug en die uitsaaiwese ʼn tuiste vind. Ek voel ook sterk oor die kunste en waag soms my hand aan optrede saam met die Mothertongue Project, ʼn kunste-NRO, waar ek ʼn gemeenskap gevind het wat met my resoneer. Ek moet ‘my betekenis beweeg’, of dit nou in die tuin, met diere, op die verhoog of op staptogte saam met my gesin is. Dit is waar my geesdrif vir volhoubaarheid lewe kry.”

Nina was agt jaar lank die mede-direkteur van The Radio Workshop en het voor dit as ʼn joernalis vir ENCA gewerk.