Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Boeiende werksessies gee stukrag aan US se nuwe handelsmerk
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 13/10/2023

Die reis na 'n nuwe handelsmerkidentiteit vir die US het meer as drie jaar gelede begin. Die sukses van die gefaseerde implementering is te danke aan 'n merkwaardige spanpoging onder leiding van die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking (AKKB).

Daar was in samewerking met departemente, fakulteite, skole, sentrums, institute en eksterne belanghebbers deurlopende deelname om te verseker dat almal aan boord kom ten opsigte van die US se vaartbelynde, nuwe identiteit.

Een van die maniere om die hersiene handelsmerkidentiteit bekend te stel, is om werkswinkels aan te bied waar handelsmerkimplementeerders gelei word oor hoe om handelsmerkriglyne konsekwent op verskeie platforms toe te pas. Elke werkswinkel fokus op 'n spesifieke handelsmerk-raakpunt en is op probleemoplossing gemik sodat spesifikasies naatloos geïmplementeer kan word.

Volgens Geola Bergman, 'n grafiese ontwerper in die Bemarkingsdepartement van die AKKB, was die eerste werkswinkel verlede jaar 'n manier om die nuwe visuele handelsmerkstrategie en sleutelboodskappe aan handelsmerkimplementeerders bekend te stel, aangesien hierdie belanghebbendes direk met inhoudskepping en korporatiewe identiteit werk.

“Ons het op die besonderhede van die nuwe handelsmerkposisioneringstrategie en die grondbeginsels van die handelsmerkargitektuur gefokus. Die idee was om dit vir ontwerpers en personeel wat met ons korporatiewe identiteit werk, moontlik te maak om die elemente van die nuwe handelsmerk te gebruik en om te wys wat ons het en waarheen ons op pad is. Ons wou eers die grondslag vestig. Ons handelsmerkvernuwing gaan nie net oor die nuwe logo, lettertipes en kleure nie, maar ook oor hoe ons met mekaar en met ons belanghebbendes praat. Dit gee die toon aan vir alle kommunikasie by die US," verduidelik Bergman.

“Die werkswinkels bied ook waardevolle terugvoer. Dit is baie nuttig om te hoor watter uitdagings die mense wat elke dag met die handelsmerk werk – die grafiese ontwerpers, inhoudskeppers en administratiewe personeel, ondervind en hoe ons kan help om die probleme wat hulle met die implementering van die nuwe handelsmerkmateriaal ondervind, op te los."

By die tweede werkswinkel vroeër vanjaar is die fokus uitgebrei om 'n oorsig te bied van hoe die US se nuwe handelsmerk by geleenthede geïntegreer kan word.

Geleenthede het die waarmerk van handelsmerkbewustheidsaktiwiteite in hoër onderwys geword, verduidelik Amira Brown, die US se geleentheidskoördineerder. “Die tema van ons aanbieding was 'Meer as net lokale en spyseniering' en ons doel was om te wys hoe geleenthede aangewend kan word om die Universiteit op verskeie maniere gunstig te posisioneer. Deur geleenthede kan ons handelsmerkambassadeurs bou en betrokkenheid van belanghebbendes verhoog om langdurige, doelgerigte vennootskappe te bou," sê Brown.

Sy help geleentheidsorganiseerders by die US om geleenthede te beplan en aan te bied in ooreenstemming met die Universiteit se institusionele waardes en voorsien spanne van bygewerkte handelsmerkinstrumente en -template vir aspekte soos beplanning, uitnodigings, finansiële administrasie, protokol en veiligheid. Brown het by die werkswinkel ook 'n stap-vir-stap-gids gedeel vir geleentheidstrategieë en hoe om die Universiteit se hulpbronne optimaal te benut om geleenthede onvergeetlik te maak.

Die werkswinkel het 'n oorsig van al die US se kommunikasiekanale ingesluit en hoe nuusbriewe en ander kommunikasiehulpmiddels soos die geleentheidskalender en gespesialiseerde aanlyn hulpbronne gebruik kan word om geleenthede te bemark.

“Hierdie skakelgeleenthede het netwerke van kennis geskep sodat implementeerders weet hoe om elke stap op die pad aan te pak," sê Brown. “Hulle weet ons is hier om te help en ons dink saam aan oplossings. Ons is almal beskermers van die US-handelsmerk. Nie net die grafiese ontwerper nie, maar ook die persoonlike assistent, die geleentheidbeplanner, die skrywers en fotograwe speel almal 'n rol speel in die optimalisering van ons korporatiewe identiteit."

'n Samewerkende benadering was tot dusver die sleutel tot die sukses van ons reis om die nuwe handelsmerk te vestig, beaam Bergman. “Van die begin af was ons belangrikste doelwit 'strewe, ontdek, saam'. Deur die rasionaal vir ontwerpe te verduidelik en mense deur die proses van die skepping van die nuwe US-logo te lei, begin hulle die waarde van 'n verenigde handelsmerkidentiteit en die belangrikheid van konsekwentheid insien. Dit is verblydend om te sien hoe personeel 'n daadwerklike poging aangewend het om die regte kleure te gebruik of om ou naamborde te vervang en die logo korrek in verhouding tot ander ontwerpelemente te gebruik."

  • Ontsluit die krag van ons handelsmerk deur by ons volgende werkswinkel aan te sluit waar ons op onderskeidelik 7  en 8 November  op die handelsmerkhandleiding sal fokus. Deelnemers kan kies om enige een van die drie twee-uur sessies op enige van die twee datums by te woon. Sluit by ons aan op 'n diepgaande reis deur ons handelsmerkidentiteit-webblad vir al jou templaatbehoeftes. Jy sal US se handelsmerkargitektuur van nader leer ken en 'n verfrissende oorsig kry van sleutelstrategieë om handelsmerkbelyning konsekwent te handhaaf. 
  • Klik hier om te kies watter datum en sessie jy wil bywoon: ​7 November: RSVP | 8 November: RSVP