Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rektorstoekennings 2023: ’n Aand van triomf en feesviering by US
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 10/10/2023

​Die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs die jaarlikse Rektorstoekennings vir Uitnemende Prestasie in die elegante atmosfeer van die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) aangebied. Die formele galadinee het die uitstaande prestasies van meer as 70 studente in akademici en ko-kurrikulêre velde gevier.

Gaste is op 'n heerlike kulinêre ervaring met keurige kos en wyn getrakteer wat deur lewendige musiek vergesel is. Die aand, wat deur lede van die Rektoraat, fakulteitsdekane, senior direkteure en studenteleiers bygewoon is, het die Universiteit se verbintenis tot uitnemendheid weerspieël.

Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, het prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier, in sy afwesigheid verteenwoordig en hy het die studente en hulle gesinslede in 'n hartlike verwelkomingstoespraak daaraan herinner dat hulle al die komplimente verdien wat hulle by die Rektorstoekenningsgeleentheid ontvang. “Jou prestasies in akademie, sport, diens aan studente, leierskap, kultuur en sosiale impak word vanaand vereer en dit is welverdiend. Julle is almal senior studente, so baie van julle het julle universiteitslewe in 'n baie onseker tyd in die wêreld begin. En tog, hier is julle nou om erkenning te ontvang. Julle het volhard en iets buitengewoons bereik," het Koopman gesê.

Die gasspreker prof, Pumla Gobodo-Madikizela van die Sentrum vir die Studie van die Nagevolge van Geweld en die Strewe na Herstel (AVReQ), het 'n inspirerende boodskap tuisgebring. Sy het onder meer na die diversiteit van die groep rektorstoekenningwenners verwys. “Ons stel vanaand 'n breë en uiteenlopende studentekorps by die US ten toon. Ek is trots om deel te wees van so 'n geskiedkundige oomblik," het sy gesê.

Gobodo-Madikizela het erkenning gegee aan die ouers van die studente wat toekennings ontvang het en hulle bedank dat hulle aan hulle kinders ondersteuning, aanmoediging en belangrike waardes gebied het. Sy het in haar gelukwensing aan die Rektorstoekenningwenners die waarde van integriteit beklemtoon. “Die belangrikste deel van leierskap is om mense te inspireer om beter te vaar en beter te wees. Deur vir mense om te gee en ander op te hef, maak jy hulle heel. Net omdat jy vanaand hier is, is jy bevoorreg. Dra jou voorreg met trots en genade, met elegansie en waardigheid. Laat 'n herinnering aan uitnemendheid en omgee. Wanneer jy uitgaan in die wêreld om dit 'n beter plek te maak, maak jou ouers trots en maak ons as Maties trots. Laat Maties se vlag wapper!"

Een van die inspirerendste toekennings van die aand is deur dr Choice Makhetha, Senior Direkteur: Afdeling Studentesake, aan Firdous Sulaiman, 'n finalejaarstudent in Spraak-, Taal- en Gehoorterapie, oorhandig. Sulaiman het 'n spesiale toekenning vir Akademiese Veerkragtigheid ontvang nadat sy die afgelope vier jaar groot struikelblokke oorkom het. Makhetha het verduidelik dat Sulaiman drie jaar gelede in 'n ernstige motorongeluk was wat 'n katalisator vir groot veranderinge in haar lewe geword het. Terwyl sy behandeling ontvang het, is sy met outismespektrumversteuring en disleksie gediagnoseer. 'n Opvoedkundige sielkundige by die US se Studentevoorligtingsdienste, Lamese Chetty, het voorgestel dat Sulaiman haar studies onderbreek terwyl 'n behandelingsplan vir haar ontwikkel word. “Firdous is 'n voorbeeld van veerkragtigheid op sy beste. Sy is nou 'n kampvegter vir haarself en haar pasiënte aan wie sy herstellende ondersteuning bied. Haar waardes vergestalt die waardes van die US," het Makhetha gesê.  

Volgens Sulaiman het die diagnose van outisme en disleksie verklaar waarom sy so lank gesukkel het om akademiese sukses te behaal. “Ek het altyd net deurgeskraap op Universiteit; uiteindelik het ek dit nie gemaak nie en het teruggekom om tevergeefs aan te hou probeer en weer te probeer. Die diagnose het my gehelp om die regte hulp by professionele praktisyns te soek om hanteringsvaardighede aan te leer in 'n wêreld wat nie vir neurodiverse mense gemaak is nie." Sy het erkenning aan Chetty gegee vir haar bystand om haar in haar stryd te help en vir haar aansporing om uit te blink. “Die Toekenning vir Uitnemendheid in Akademiese Veerkragtigheid beteken baie, want as daar iets is wat ek beslis is, is dit veerkragtig," het Sulaiman gesê.

In die kategorie vir uitnemendheid in leierskap, diens aan studente en sosiale impak het Stanley Msiska gesê die toekenning is 'n groot eer en dien as aanmoediging om nog meer te doen. “Dit is die US wat sê 'Stanley, hou so aan, jy is nie alleen nie, ons is hier om jou te ondersteun'." Msiska is 'n PhD-student in chemiese ingenieurswese wat betrokke was by die ontwikkeling van 'n webwerf-applikasie om watergehalte te monitor om gemeenskappe met sanitasie te help.

Een van die ontvangers van die Toekenning vir Akademiese Uitnemendheid, Zindzi Douglas-Pederson, het gesê sy is ongelooflik trots om die Rektorstoekenning vir topprestasie in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, asook in die Departement Politieke Wetenskap, te ontvang. “Om by 'n  universiteit te studeer, veral in hierdie land, is een van die grootste voorregte wat ons as jongmense kan hê. Ek het as student gevoel die minste wat ek kon doen, was om so hard as moontlik te werk om my gesin trots te maak en my dankbaarheid te toon vir die geleenthede wat ek by die US ontvang het. Ek is ongelooflik dankbaar vir al die mense wat my op my pad ondersteun het en sien uit na die reis wat voorlê terwyl ek vir my meestersgraad voorberei."

Jaco Wagener, 'n student in aktuariële wetenskap en primarius van die Eendrag-manskoshuis, het die Rektorstoekenning vir Uitnemendheid in Leierskap ontvang en het die toekenning aan sy mede-inwoners opgedra. “Dit is nie net vir my 'n reuse-eer nie, maar ook vir Eendrag se huiskomitee vir al hulle harde werk. Die vertroue wat hulle in my gehad het en om my met hierdie Rektorstoekenning te vereer, wys watter waarde die US aan leierskap heg."

Dit was vir haar nogal 'n skok om uit te vind dat sy 'n Rektorstoekenning gaan ontvang, het Ali White, 'n student in die Fakulteit Opvoedkunde, gesê. “Dit was vir my 'n baie groot eer, aangesien ek nie juis  'n baie akademiese agtergrond het nie. Ek het by die US my nis gevind en geblom, om dit so te stel. Wat 'n voorreg om vanaand hier te wees!"

  • 'n Volledige lys van die ontvangers van Rektorstoekennings vir 2023 verskyn hieronder.

ONTVANGERS VAN TOEKENNINGS VIR AKADEMIESE UITNEMENDHEID:

Ingenieurswese: Jean Louis van der Walt, Tian Cilliers, Nicolaas Visser, Danie Theron, Simphiwe Phetla, JPK Faure (beste meesters) en Jacques Wust.

Ekonomiese en Bestuurswetenskappe: Sarah Christine Woolard, Joshua Murray Benadie, Liam Andrew Brain, Kirsten Lee Thompson, Nicola Ammon, Thomas John Janisch, Emma Bekker, Chelsea Smyth, Carly Londt, Kiara Petroné Pieterse, Callan Jake Hollebach, Hayden Graham de Kock en Christopher Guillaume Rossouw (beste meesters)

Lettere en Sosiale Wetenskappe: Likhona Tokota, Jess Holing, Zelmarie Nicole Barnard, Dana Krimschanski, Zindzi Khaya, Douglas Pedersen, Samantha Cox, Grete Petronel Burger en Karmen Wiid.

AgriWetenskappe: Kim Teresa Mannix (beste meesters), Lisa van Deventer, Jana Schreuder en Iksha Bhowon.

Regsgeleerdheid: Emma Dachs, Doné Botha en Denisha Padachey (beste meesters).

Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe: Jesse Amoako Asimeng (beste meesters), Christine Vivier, Kayleen Esau, Faye Bure, Lume Koorts, Keri Lambooy en Suzanne Hugo.

Natuurwetenskappe: Jacobie Mouton (beste meesters), Bernardus Adriaan Wessels, Alexandra van der Spuy, Wicus Jan van der Linden, Emil van der Walt en Lisa Thea de Wet.

Krygskunde: Naledi Shelter Tibane en Palesa Victoria Mokgatla.

Teologie: Erick Zulch (beste meesters), Christiaan Brand en Irving de Swardt.

Opvoedkunde: Lynn Grant en Ali White.

AKADEMIESE VEERKRAGTIGHEID: Firdous Sulaiman

LEIERSKAP: Margeaux Wassenaar, Caitlin Sithole, Vanessa Dede Annan, Marizanne van Dyk, Emma Bowers Swart, Kwenzokuhle Khumalo, Malaika Ngwenya, Elouise van Wyk, Kay Vanwolleghem, Margra Wevell, Jaco Wagener en Kayla Lourens.

SOSIALE IMPAK: Fanuel Shinedima, Gugu Gama, Rayhaanah Williams, Wonder Vuma en Stanley Chindikani Msiska.

DIENS AAN STUDENTE: Tessa Brooke

SPORT: Anika du Plessis, Jana van Schalkwyk en Mire Reinstorf.