As krieket 'n koninkryk was, sou dr. Ali Bacher as 'n koninklike beskou word in daardie land, in Suid-Afrika en die res van die sportwêreld. Onlangs het studente uit die sportomgewing en ander die geleentheid gehad om te gesels met dr. Bacher as deel van 'n byeenkoms gereël deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Studenteraad (SR) en Maties Sport.
Volgens me. Kimara Singh, Bestuurder: Media en Kommunikasie by Maties Sport, wil Maties Sport 'n inklusiewe ruimte skep waar gesprekke soos die een met Bacher aangebied kan word, en waar studente impakvolle skakeling kan hê en geleenthede waaruit hulle kan leer.
“Dit is belangrik om hierdie lesse van 'n gesoute professionele persoon te kry en toe te pas – vir studente, student-atlete, en personeel," verduidelik sy.
“Maties Sport belê in die holistiese ontwikkeling van ons student-atlete en personeel. Dit kan gesien word in ons PACER program-inisiatiewe soos die Kapteinshoek en Afrigterforum wat ten doel het om ons afrigters en kapteins te verryk deur skakeling met verskillende suksesvolle mense in die sportbedryf," sê Singh.
Bacher is verwelkom deur die hoof van Maties Krieket en voormalige professionele krieketspeler, mnr Ryan Bailey, wat Bacher verwelkom het as “die vader van Suid-Afrikaanse krieket."
Dr. Bacher het die bespreking begin deur die gehoor meer te vertel van sy verskillende lewensondervindings as krieketspeler, administrateur en besigheidsman.
Bacher is 'n Suid-Afrikaanse regterhand-kolwer en toetskaptein wat die Suid-Afrikaanse en die Transvaalse span (nou die DP World Lions) gelei het. Hy het ook gedien as administrateur van die destydse Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika (nou Krieket SA).
Maar Bacher het ook vir homself naam gemaak as suksesvolle krieket-administrateur in sy later jare. Hoewel hy nie 'n grootprater is nie, was Bacher nie bang vir omstredenheid nie en het tydens die 1980's verskeie “rebelle-toere" oorsee gelei toe Suid-Afrika se apartheidsbeleid die land geïsoleer het op sportgebied. Sy besluit is vyandig bejeën deur diegene betrokke by die stryd teen apartheid wat gemeen het dat die toere “geloofwaardigheid verleen aan die Nasionale Party".
Ten spyte van die omstredenheid het Bacher, wat as mediese dokter gekwalifiseer het aan die Universiteit van die Witwatersrand, aktief gewerk om krieketspelers te ontwikkel in die nie-blanke gemeenskappe deur krieketklinieke en ontwikkelingsprogramme aan te bied in armer gebiede.
Teen die tyd dat wyle President Nelson Mandela vrygelaat is, is Bacher beskou as Suid-Afrika se veelsydige krieket-genie. Frederik van Zyl Slabbert het Bacher voorgestel aan mnr. Steve Tshwete wat later Minister van Sport in Suid-Afrika sou word. Danksy vergaderings gefasiliteer tussen die South African Cricket Union (SACU) en die SA Krieketraad is die Verenigde Krieketraad (VKR) in 1991 gestig. Bacher sou dien as die Administrateur.
Tshwete was later die regterhand van President Thabo Mbeki toe die land ondersteuning benodig het vir Suid-Afrika om toegelaat te word tot die Internasionale Krieketraad (ICC). Saam het Tshwete en Bacher oorsee gereis om die land se toelating te verkry.
Bacher was byna 'n dekade aan die stuur van die VKR voordat hy uitgetree het om die 2003 Wêreldbeker te organiseer.
Bacher het uit sy veelbewoë loopbaan twee van die belangrikste karaktertrekke genoem wat hy glo mense benodig om suksesvol te wees: passie en toewyding. Hierdie eienskappe, sê hy, “is wat my gehelp het in my krieket-loopbaan, as administrateur en as student."
Bacher het sy herinneringe gedeel van sy interaksies met politici soos Suid-Afrika se huidige President Cyril Ramaphosa, wat hom wyse raad gegee het. “Sy advies was om nooit alleen met een mens te vergader nie, maar om altyd 'n getuie te hê wat jou kan steun. Dit is 'n les wat ek meen belangrik is vir jong mense om ter harte te neem wanneer hulle die professionele wêreld betree."
Die rede hiervoor, sê Bacher, is “as iemand sê jy het iets gedoen of gesê en jy het nie, die getuie kan getuig wat die waarheid is."
Tydens die vraagsessie het die Hoofdirekteur van Maties Sport, me. Ilhaam Groenewald, vir Bacher gevra hoekom dit so lank geneem het voordat vrouekrieket in Suid-Afrika ernstig opgeneem is.
Bacher het geantwoord “die hoofrede daarvoor is die gebrek aan geld. Mense was nie bereid om te belê in vrouekrieket in vergelyking met ander beleggings nie."