Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
iKaya Primêre skool skakel sy sonpalene-selsel aan
Outeur: Petro Mostert
Gepubliseer: 04/10/2023

​Stellenbosch se iKaya Primêre Skool in Kayamandi het die tweede skool op die dorp geword wat voordeel gaan trek uit groen inisiatiewe van die Wes-Kaapse Departement van Onderwys (DHED), die Universiteit Stellenbosch (US). se sosiale impak-afdeling, en ander vennote, nadat hulle hul nuwe fotovoltaïese sonpaneelstelsel (PV) aangeskakel het. Die stelsel stel die  administratiewe vleuel van die skool in staat om naatloos van die Eskom-netwerk oor te skakel tydens beurtkrag. Hierdie skool is deel van die projek waar skole toegerus word kragbesparende ligte en ander herwinbare energiebronne. iKaya sal danksy hierdie toerusting voortaan R30 000 per jaar op hul elektrisiteitsrekening kan bespaar.

 David Maynier, die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, het tydens die feesvieringe gesê die uitdaging nou is om 'n skaalbare oplossing vir die provinsie se 1 542 openbare skole te vind waar soortgelyke oplossings vir elektrisiteitsbesparing en doeltreffendheid geïnstalleer kan word. “As ons kyk na die vooruitsigte oor die volgende drie tot vyf jaar, weet ons dat beurtkrag hier is om te bly, en dit is 'n beduidende ontwrigting in die skoolomgewing. Ek wil dus graag die uitdaging daarstel en vra dat ons hierdie vennootskap vorentoe sa; neem en saam optimale oplossings sal vind wat 'n verskil in die lewens van ons leerders sal maak, soos ons vandag hier by iKaya Primêr gedoen het."

 Die US se Fakulteit Ingenieurswese en sy Departement van Sosiale Impak, in vennootskap met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, het hierdie inisiatief in 2017 begin om die loodsing van IoT-energiebestuur en beligtingsdoeltreffendheid by 75 geen-fooi skole in die Wes-Kaap te befonds. Hierdeur help hulle skole om op hul elektrisiteitsrekeninge te spaar deur slim meters te installeer om verbruik te monitor en die skole met energiebesparende beligting toe te rus.

Prof Thinus Booysen, voorsitter van die Internet van Dinge by die US se Departement Ingenieurswese, was instrumenteel in hierdie projek. Hy het gesê is 'n groot voorreg vir die Universiteit om 'n verskil te help maak in skole en gemeenskappe wat finansieël swaar kry. "Ons weet dat nie alle skole dieselfde omstandighede het nie, daarom probeer ons 'n verskil maak met hierdie projek en installeer ons - met die hulp van vennote - PV om te help om die belangrikste ligte aan te hou sodat die skole kan funksioneer."

Die eerste skool wat by hierdie projek gebaat het, was die Laerskool Cloetesville – bekend as die Groen Skool – wat 'n 7.5kW FV-stelsel ontvang het. Die skool wek ongeveer 14MWh (14 000 eenhede) elektrisiteit per jaar op en ontneem jaarliks byna 13 ton CO2 uit die atmosfeer, terwyl hulle  R20 000 per jaar spaar en boonop elektrisiteit aan die netwerk terugverkoop. Die Groen Skool het ook die land se eerste skool en tweede gebou geword wat 'n Energieprestasiesertifikaat (EPC) ontvang het. Cloetesville Primêr se energiestelsel gaan nou opgradeer word na 'n hibriede stelsel met 'n hibriede omskakelaar en batterye. Volgende aan die beurt is Cloetesville Sekondêre Skool wat toegerus sal word met energiebesparende stelsels as deel van die US se sosiale impakprogram. Van hulle kant af sal die WKOD soortgelyke programme na nog sewe skole in die Wes-Kaapstreek uitrol.

Dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur Sosiale Impak en Transformasie aan die US, het gesê die Universiteit het net meer as R1 miljoen tot hierdie projek bygedra. "Ons doen dit omdat ons glo in die moontlikhede van ons plaaslike skole en omdat ons weet dat samewerking, ondersteuning en onderrig fundamenteel is vir die US en ons dorp. Die Universiteit is baie dankbaar dat ons op hierdie manier hande kan vat. Ons sien daarna uit om die vennootskap met die WKOD en ander belanghebbendes verder te neem sodat ons seker kan maak dat ons die lewens en toekoms van ons kinders verbeter."

“Beurtkrag en die koste van elektrisiteit het 'n verwoestende impak op ons ekonomie," sê Booysen. "Die koste is nie beperk tot besighede nie, maar dit het 'n direkte impak op wat ons  beskou die reddingsboei van ons jong demokrasie is: naamlik ons skole. Ons is ongelooflik bevoorreg om die ondersteuning van die US se Department Sosiale Impak te hê om werklik verandering te bewerkstellig by die skole wat dit die nodigste het. Hierdie ingryping by noodsaaklike skole sal hul maandelikse elektrisiteitsuitgawes aansienlik verminder, hul koolstofvoetspoor verminder en noodsaaklike dienste gedurende beurtkrag aan die gang hou. Boonop sal hulle las op ons verswakte netwerk onmiddellik verminder tot voordeel van ons almal."

Jason Samuels, van Departement Bedryfsingenieurswese aan die US, het  onlangs sy Ph.D. onder die toesig van prof Booysen gedoen. Hy en sy span van die US afwentelmaatskappy GreenX, wat pro-bono vir die US aan hierdie projek werk, het die afgelope twee jaar baie kilometers afgelê om uitgebreide energie-oudits by verskeie skole te doen om vas te stel hoe hulle met energiebesparende ligte en meters skole kan help om hul gebruik te meet en te bestuur. Hulle oplossing leen hom uit tot skaalbaarheid terwyl elke skool se individuele lasprofiel teen 'n lae koste ingesluit kan word. Die span was verantwoordelik vir die sonpanele-installasie by die Laerskool iKaya wat hulle in staat sal stel om R30 000 per jaar op hul energierekening te bespaar.

"Ons werk nou al meer as twee jaar met skole regoor die Wes-Kaap en ons verstaan die uitdagings. Ons het ook 'n koste-doeltreffende oplossing geskep wat vir elke skool kan werk. Ek en my span, tesame met die ondersteuning van die WKOD en US, is gereed om die uitdaging aan te pak om hierdie projek na al die skole in die provinsie uit te rol. Ons nooi skole uit om met ons in aanraking te kom om hul onderskeie energiebesparende projekte te begin. Ons sal ook op die uitkyk wees vir  private vennote om ons te ondersteun in hierdie poging wat die samelewing in die Wes-Kaap grootliks sal bevoordeel," het Samuels gesê.

iKaya se skoolhoof, Thandi Gxekwa, sê as 'n skool in 'n baie arm gemeenskap, is sy baie dankbaar vir hierdie inisiatief. “Julle het ons lewens makliker gemaak en ek glo ons sal baie verbeterings in die skool sien, selfs in ons kurrikulum.“

Byskrif: By iKaya Primêr, is van links: Jason Samuels, besturende direkteur van GreenX, David Maynier, die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, iKaya se skoolhoof, Thandi Gxekwa, Weziwe Mavovana, adjunkskoolhoof, dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur Sosiale impak en transformasie aan die US, Adam Jantjies van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, en Msizi Cele, van die premier van die Wes-Kaap se kantoor.​