Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontmoet ons nuutverkose SR lede vir 2024!
Outeur: Yasmin Cloete
Gepubliseer: 02/10/2023

Ons nuwe Studenteraad is pas verkies, met Phiwokuhle Qabaka, vorige SR sekretaris-generaal, wat ingestem is as Voorsitter.

Die nuwe Studenteraad is Donderdagaand amptelik in die amp verwelkom (27 September 2023) tydens 'n seremonie by die US Museum. Tydens die seremonie is die uittredende SR-lede ook vereer vir hul bydrae tot die studentegemeenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US). Die studente is toegespreek deur prof. Deresh Ramjugernath, Vise-Rektor: Leer en Onderrig, en dr. Choice Makhetha, Senior Direkteur van die Divisie Studentesake, sowel as die uittredende SR Voorsitter, Masilo Silokazi.

In 2022/2023 het Qabaka gedien as SR Sekretaris-generaal, 'n posie waarin sy verskeie lesse geleer het.

“Die grootste uitdaging van SG wees is die werklading wat jy alleen dra en almal se verwagtinge dat jy dit reg sal doen. My akademie het 'n bietjie daaronder gely en ek het dikwels oorweldig gevoel, so terwyl dit 'n vreugde was, was dit ook 'n uitdaging," sê sy.

Voordat sy gedien het as Sekretaris-Generaal was Qabaka klasverteenwoordiger vir studente wat die Verlengde Graadprogram (VGP) voltooi het, sowel as vir die BCom graad, Finansiële Rekeningkunde, Inleiding tot Logistiek en Voorsieningskettings klasse in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

“Ek was ook 'n nie-posisionele leier van die EFF studentebevelsgroep,"sê sy.

Sy is geïnspireer om te staan vir die SR toe sy 'n “gaping" geïdentifiseer het “tussen die SR en studente."

“Ek wou die gaping vul en aan die studente toon dat ons werklik daar is vir hulle. Ek wou nie net eendag wakker word en besluit ek gaan staan vir die SR nie. Ek het werklik seker gemaak dat ek in aanraking is met hoe die instelling funksioneer en wat ons studente werklik benodig."

Gevra wat die kenmerke van 'n goeie leier is, dink sy na en deel haar insigte: “Deernis. Jou gewilligheid om te luister na ander en geduld is belangrik. Ook, wanneer jy 'n posisie beklee soos Voorsitter moet jy in staat wees om kritiek te aanvaar en nie jou humeur verloor nie."

Qabaka neem die leisels op as Voorsitter op 'n tyd wanneer die hoër opvoeding-sektor verskeie uitdagings ervaar wat studente erg raak, soos finansiële uitsluiting weens studieskuld en die tekort aan studiebefondsing vir Suid-Afrikaanse studente.

“Finansiële uitsluiting is beslis 'n groot kommer. Daar is ook 'n tekort aan akkommodasie met te min spasie vir studente sodat hulle dikwels in aaklige omstandighede moet woon. Ek dink studentebestuurstrukture en studente op die kampus is verdeeld, dus is een ding wat ons moet bereik om die gaping tussen die Prim-komitee en die SR uit te skakel. Ek is diep toegewy aan 'n nie-rassige samelewing want uiteindelik is ons almal mense – en dit is wat ek sal sterf om te bereik."

Soos alle leiers moet Qabaka ook vrees hanteer.

“Ek dink ek is gewoond aan die SR ruimte maar ek het 'n vrees vir mislukking wat my dikwels dryf om harder te werk om in alles wat ek doen te slaag."

Die posisie van SR vise-voorsitter word bekleed deur Abongile Quthu, met Mzwakhe Bolotina as Sekretaris-Generaal. Ongezwa Tshazi is aangewys as Tesourier. Die volgende studente is aangewys as algemene lede van die SR: Reagan Johnson; Risuna Risimati; Bradley Grovers; Daisy Ndebele en Solomzi Mphambo.

Die Ex-officio lede is: Qiniso Sithole, Voorsitter van die Senior Prim Komitee; Andri Malan, Voorsitter van die Prim-komitee; Courtney De Klerk, Vise-voorsitter van die Prim-komitee; Thandile Ngxikwe, Voorsitter van die Verenigingsraad; en Theo Plaatjie, Studentekaptein van die Militêre Akademie.

As die bestuurder van 'n span, sê Qabaka sy wil “geduld by my span bevorder" en dat hulle 'n span sal bly “in goeie en slegte tye."

Die aand is afgesluit met die SR-lede wat die ampseed afgelê het om die Studentegrondwet en die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika  te gehoorsaam en handhaaf.

 “In die teenwoordigheid van almal hier byeen onderneem ek plegtig dat ek, as lid van die Verteenwoordigende Studenteraad, getrou sal wees aan die Universiteit Stellenbosch en al sy studente. Ek sal die Studentegrondwet en die Grondwat van die Republiek van Suid-Afrika en alle ander wette van die Republiek gehoorsaam, nakom, handhaaf en onderhou," het die nuwe ampsdraers beloof.

“Ek beloof plegtig en opreg om die volgende te doen tot my beste vermoë: om alles wat die Universiteit ondersteun, te bevorder en alles wat skade kan berokken, teë te staan; om die regte van alle personeel en studente te beskerm en bevorder: om my pligte uit te voer met al my krag en talente tot die beste van my kennis en vermoë en getrou te bly aan die voorskrifte van my gewete, om reg te laat geskied aan almal; om myself toe te wy tot die welstand en diens van die Universiteit en al sy studente; en te poog om die waardes van uitnemendheid, empatie en aanspreeklikheid te beliggaam en te vestig, terwyl menswaardigheid, gelykheid en nie-rassigheid vir almal bevorder word."

“Ek lê hierdie eed gewillig af en beskou dit as bindend op my gewete."