Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US verbeter in vier aanwysers op THE-wêreldranglys
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 28/09/2023

​Die Universiteit Stellenbosch (US) het in vier van die vyf prestasie-aanwysers verbeter wat gebruik is om die 2024 Times Higher Education- (THE-) wêreldranglys op te stel. Die jongste ranglys is Woensdag (27 September 2023) bekendgemaak.

Die US beklee vir die derde jaar in 'n ry in die tweede plek in Suid-Afrika op die ranglys vir 2024 — wat ook die 20ste uitgawe van die THE-wêreldranglys is. Altesame 1 904 instellings verskyn op die 2024-ranglys, wat 'n nuwe rekord is. In 2023 is 1 799 universiteite vir die ranglys beoordeel.

Die THE-wêreldranglys is die voorste wêreldwye prestasielys wat navorsingsintensiewe universiteite regoor al hul kernmissies, naamlik onderrig, navorsing, kennisoordrag en internasionale vooruitsigte, beoordeel.

Hoewel die prestasie-aanwyser sedert verlede jaar verander het, word hulle nog steeds in vyf afdelings verdeel: Onderrig (die leeromgewing); Navorsingsomgewing (volume, inkomste en reputasie); Navorsingsgehalte (impak van sitasies, navorsingskrag, navorsingsuitnemendheid en navorsingsinvloed); Internasionale vooruitsigte (personeel, studente en navorsing); en Bedryf (inkomste en patente).

Afgesien van die styging in die US se algehele telling, het die instelling ook sy plek op die aanwysers vir Bedryfsinkomste, Internasionale vooruitsigte, Navorsing en Onderrig verbeter. Die grootste verbetering was in die bedryfsinkomstetelling wat met 26,5% gestyg het. Hierdie styging het die bedryfsinkomstetelling van 71 in die vorige jaar (2023) tot 89,9 in 2024 verbeter. Dit is die hoogste van alle Suid-Afrikaanse universiteite. Die US verskyn ook in die 168ste plek in hierdie afdeling. Die Universiteit se telling in die afdeling vir internasionale vooruitsigte het van 54 tot 59,9 verbeter en die navorsingstelling van 36,9 tot 39,6, terwyl die onderrigtelling van 30,5 tot 33,8 geklim het.

Volgens die THE-wêreldranglys, kyk die bedryfsinkomste-aanwyser na 'n universiteit se vermoë om die bedryf met innovasies, uitvindings en konsultasie te ondersteun. Hierdie meting poog om 'n instelling se kennisoordragaktiwiteite te meet deur die hoeveelheid navorsingsinkomste wat dit verdien, op 'n skaal teen die aantal akademiese personeel wat by die instelling in diens is, te meet. Dit dui ook aan tot watter mate besighede bereid is om vir navorsing te betaal en 'n universiteit se vermoë om finansiering uit die handelsmark te lok — wat nuttige aanwysers van institusionele gehalte is.

Die aanwyser vir internasionale vooruitsigte meet 'n universiteit se vermoë om voorgraadse-, nagraadse studente, en akademici van regoor die wêreld te lok. Die navorsingsgehalte-pilaar kyk na universiteite se rol in die verspreiding van nuwe kennis en idees, terwyl die onderrigaanwyser 'n idee gee van 'n instelling se toegewyding aan die opvoeding van die volgende geslag akademici.

“Die Universiteit Stellenbosch se verbetering in vier van die vyf aanwysers getuig nie net van ons navorsers se voortgesette hoëvlakbydrae tot die wêreldwye wetenskaplike kennispoel nie, maar ook tot onder meer die belangrike gebiede van bedryfskakeling en internasionaliseringsinisiatiewe," sê prof Hester Klopper, die US se Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake.

“Afgesien van die feit dat al hoe meer universiteite jaarliks beoordeel word — en 'n universiteit se stand in die bandposisie op die ranglys beïnvloed — moet daar ook daarop gelet word dat universiteite in Afrika se sosiale, ekonomiese en politieke kontekste hemelsbreed van universiteite in hoëinkomstelande verskil. Daarom is die US se voortgesette teenwoordigheid op gevestigde ranglyste soos die THE-wêreldranglys 'n merkwaardige prestasie."

Die US was die afgelope paar jaar konstant onder die beste tersiêre instellings in die wêreld op wêreldranglyste soos dié van Quacquarelli Symonds (QS), die Times Higher Education se ranglys vir ontluikende ekonomieë, die Academic Ranking of World Universities (akademiese ranglys van internasionale universiteite, ook bekend as die Shanghai-wêreldranglys) en die Center for World-universiteitswêreldranglys.

Vanjaar was die US ook onder die voorste hoëronderwysinstellings op die QS-wêreldranglys vir Universiteite, die QS-wêreldranglys volgens vak en die Shanghai Ranking Consultancy se ranglys vir internasionale universiteite.