Prof Henry Mbaya van die Departement Sistematiese Teologie en Ekklesiologie in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch het sy intreerede op 26 September 2023 gelewer. Die titel van sy lesing was “Plek, mag en die verlede: Herdenking en monumentalisering van godsdiens as ʼn uitdaging vir die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die Katedraal van St. Michael en St. George, Grahamstad, 1992-1996".
Mbaya het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe sy navorsing die rol van die Anglikaanse Kerk in verskillende Suid-Afrikaanse gemeenskappe belig.
Vertel ons meer oor jou navorsing en hoekom jy in hierdie spesifieke veld begin belangstel het.
My navorsing handel oor die raakvlak tussen Engelse sendelinge (Anglikaanse Kerk) en Afrika-kultuur in Suider-Afrika in die 19de tot 21ste eeu. Ek fokus meer spesifiek op die Anglikaanse Kerk se missionêre benadering tot Afrika-kultuur en die komplekse aard van sy destydse sendingwerk in die streek. Oor die afgelope 11 jaar het ek ook die historiese ontwikkeling van die inheemse Christendom in Suid-Afrika ondersoek.
Ek het in hierdie onderwerpe belang gestel omdat ek ʼn Anglikaanse priester was en in die kerk 'gebore' is. Nog belangriker is dat my betrokkenheid by hierdie navorsing uit akademiese nuuskierigheid spruit. Die Anglikaanse Kerk was een van die kerke wat oor die jare ʼn deurslaggewende rol in Suider-Afrikaanse gemeenskappe gespeel het. Die belangrikste vraag was: Hoe en waarom het hierdie kerk oor die jare ʼn aansienlike invloed in hierdie gemeenskappe gehad rakende die ontwikkeling van inheemse leierskap, asook die verskaffing van onderwys, maatskaplike welsynsprogramme en kerke?
Hoe sou jy die relevansie van jou werk vir kerke en die gemeenskap in Suid-Afrika berskryf?
My navorsing vestig die aandag op die krag van die Christelike godsdiens (spiritualiteit) as ʼn bron van transformasie en hoop in die lewe van gemeenskappe, maar ook as die bron van sommige van die uitdagings wat sommige mense as gevolg van die sendingnalatenskappe ervaar.
Gegrond op jou navorsing, hoekom is dit belangrik om die historiese ontwikkeling van inheemse Christendom in Suid-Afrika na te spoor?
Om die wortels van die inheemse Christendom te verstaan (Christendom wat wortel by Suid-Afrikaners geskiet en ʼn Afrika-kultuur en -etos beliggaam het) het die potensiaal om ons te help om sommige van die positiewe dimensies van Christenskap vandag te begryp, maar ook die uitdagings daarvan. As Christenskap ʼn toekoms in Suid-Afrika wil hê, is dit belangrik om oor die verlede te leer omdat dit die potensiaal het om die hedendaagse Kerk (Christendom) te posisioneer.
Jy werk al lank in die uitdagende omgewing van hoër onderwys. Wat hou jou gemotiveer wanneer dinge moeilik raak?
Die gedagte dat ek steeds ʼn verskil aan die lewe van ʼn student kan maak, want toe ek ʼn student was, het iemand anders ʼn verskil in my lewe gemaak. Ek is ook gemotiveerd om studente en gemeenskappe te dien.
Vertel ons iets oor jouself wat mense nie sal verwag nie.
Ek is mal oor klassieke musiek, veral Mozart, asook baie tradisionele gesange en Gregoriaanse kerksang. Om daarna te luister bied my ʼn mate van innerlike vrede.
Hoe bring jy jou vrye tyd deur?
Ek het nie baie vrye tyd nie, maar as ek dit regkry om ʼn blaaskans te neem luister ek na klassieke musiek. Daar is tye wanneer ek om gesondheidsredes draf. Dit lyk of dit met my geestesgesondheid help. Ek wens ek kan baie meer doen. Ek beny diegene wat gereeld oefen.
- Foto deur Ignus Dreyer (SCPS Photos)