Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Woordfees wil reg oor Stellenbosch perspektiewe verruim
Outeur: Toyota US Woordfees
Gepubliseer: 27/09/2023

Die 2023 Toyota US Woordfees wil personeel, studente, alumni, besoekers en ander feesgangers uitdaag én inspireer om nuwe perspektiewe van ons leefwêreld te verken. Die feesprogram bied 'n ryk verskeidenheid geleenthede om nie alleen in wêrelde van skoonheid, humor en drama te ontsnap nie, maar ook om oor die kompleksiteit van ons werklikhede na te dink.

Die Toyota US Woordfees vind van 7 tot 15 Oktober 2023 in en om Stellenbosch en ook op kampus plaas. Ons sien uit na ’n kunstefees met ’n veel groter omvang as in 2022, met 640 unieke aanbiedings versprei oor 14 genres. Dié lywige programaanbod maak die Woordfees een van die grootste kunstefeeste in Afrika. Program-items word in 50 venues aangebied, wat strek van lokale in gemeenskappe soos Jamestown, Idasvallei en Kayamandi, tot dwarsoor die kampus. Die Universiteit verwelkom graag feesbesoekers, alumni, studente en personeel in venues soos die Victoria-hub, die Konservatorium, en die Eendrag- en Adam Small-teater.

Sosiale Impak en Transformasie
Die Toyota US Woordfees is gesetel binne die Universiteit Stellenbosch (US) se Verantwoordelikheidsentrum: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel. Die fees lewer ’n belangrike bydrae om gestalte te gee aan die Universiteit se verbintenis tot diensbaarheid aan die samelewing en ’n transformerende ervaring vir almal.

Hierdie verbintenis word gereflekteer in die wyse waarop die feesprogram ontwerp en saamgestel wat betref onderwerpe en genres, die wyse waarop die dorp en gemeenskap betrek word, sowel as die ontwikkelingsaksies wat die fees dryf en in werking stel.

Die bevordering van sosiale kohesie deur die kunste dra by tot ’n sterk, veerkragtige samelewing wat gebou is op begrip, samewerking en respek vir mekaar. Dit versterk die band tussen individue en gemeenskappe en bevorder ’n gevoel van verbondenheid en samehorigheid. Die kunste funksioneer dikwels as ’n katalisator vir verandering en sosiale bewuswording. Dit roer komplekse temas aan, vestig die aandag op sosiale onreg, en werk dialoog oor belangrike kwessies in die hand.

Die WOW-projek, die Woordfees se ontwikkelingsprojek wat vanjaar 20 jaar oud is, het al meer as een miljoen leerders en hul onderwysers bereik met aksies wat lees- en taalgeletterdheid bevorder. Meer as 1 000 skole in Suid-Afrika het al deelgeneem aan die WOW Spelfees wat jaarliks met die ondersteuning van Sanlam aangebied word. Danksy dié projek word 35-50 studiebeurse, asook ondersteuning op ander maniere, aan studente uit onderbediende gemeenskappe verskaf.

Die feesprogram: Iets vir almal
Die Toyota US Woordfees bied ’n omvattende spyskaart van boekbesprekings, teater, klassieke musiek, kooruitvoerings, pop, folk, rock, jazz, hip-hop, aktuele sake, komedie, dans, kuns, rolprente, landbougesprekke, en kos en wyn.

Die volledige program is hier beskikbaar – ’n PDF van die volledige feesgids kan in Afrikaans en Engels afgelaai word. Kaartjies is by Quicket te koop.

Indien die aanbod met die eerste oogopslag oorweldigend lyk, besoek gerus hierdie bladsy ​waar wenke vir ’n verskeidenheid voorkeure gedeel word.

Meertaligheid
Die fees bied talle produksies aan waarvoor ’n begrip van Afrikaans nie nodig is nie. Die 70 rolprente uit 20 lande wat by die Neelsie-bioskoop vertoon gaan word, het almal Engelse onderskrifte. Daar is ook ’n groot verskeidenheid musiek- en dansproduksies en visuele kuns wat geen kennis van Afrikaans vereis nie. Vir meer wenke oor teaterproduksies in Engels, sien die “My vriende verstaan nie Afrikaans nie, maar wil die Woordfees probeer”-hofie op die aanbevelingsbladsy.

Die kort dokumentêre rolprent, Langafstand, wat handel oor Deon-Lee Hendricks van Cloestesville, word byvoorbeeld twee keer gratis in die Neelsie-bioskoop vertoon. Dit is onlangs met ’n Silwerskermtoekenning vir beste regie bekroon. Moenie dié inspirerende film oor Deon-Lee se voorbereiding vir die landloopproewe in Australië misloop nie.

Spesiale kaartjiepryse
US-personeel kry spesiale afslag op feeskaartjies vir 67 feesproduksies. Verskeie ander afslagpakkette is ook beskikbaar, met verlaagde pryse vir studente en pensioenarisse. Die Bly Vrydag-inisiatief bied ook goedkoop kaartjies na ’n keuse van aanbiedings om die fees toeganklik te maak vir mense wat in en om Stellenbosch woon.

Vir algemene navrae, kontak die Woordfeeskantoor: 064 815 6418.

Borrel
Die 2023-feestema is “Borrel”, wat verskeie assosiasies en betekenismoontlikhede inhou. Volgens Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees en WOW, verwys die tema na “speelse bruising en drif, ’n swewende, dromerige gevoel, onskuldige kinderpret met seepbelle, en die lekker ou Nederlandse woord vir ’n partytjie waar die silwer borrels in Bolandse vonkelwyn graag geniet word”.

“Aan die ander kant herinner dit ook aan Stellenbosch en die US wat volgens sommige kritici en besorgde inwoners ’n ‘bubble’ is wat in bevoorregte ontkenning van die werklikhede van die groter Suid-Afrika leef. Hoewel ’n borrel ’n brose membraan het, ’n weerlose grens wat kortstondig die verskil tussen binne en buite bepaal, is Stellenbosch se skeidslyne histories opgestel en finansieel verskans.”

US-talent en -kundigheid
Die Toyota US Woordfees bied ’n waardevolle openbare platform aan kundiges binne die Universiteit om die waarde van navorsing onder die publiek en media se aandag te bring.

Deelname aan gesprekke en feesproduksies deur personeel, studente en alumni, stel die Universiteit in staat om hier op kampus geleenthede te skep waar die US se mense hul talent en kundigheid met die wêreld kan deel. Vanjaar se feesprogram is geen uitsondering nie, en personeellede van verskeie fakulteite lewer ’n belangrike bydrae om oplossings te help vind vir kwessies wat uitdaag en om ons geesteslewe te verryk.

Die Toyota US Woordfees bied ook gulde geleenthede aan studente van die Departement Drama om hul vaardighede voor ’n feesgehoor te toets. Die 2022-wenner (Afval) en 2023-wenner (The Old Man Who Thought He Had a Dog) van die departement se Première Teaterfees is vanjaar by die fees op die planke. So ook die departement se veeltalige kinderteaterproduksie, Stars – Iinkwenkwezi – Sterre, wat jong feesgangers opvoedkundig sal vermaak. 

Galery van uitnemendheid
Die Universiteit het in sy lang geskiedenis alumni opgelewer wat tydens hul loopbane in die kunstebedryf grense verskuif het binne die Suid-Afrikaanse kultuuromgewing. Van dié kunstenaars en kultuurwerkers is as studente deur hierdie instelling gevoed en gevorm, en ons is dankbaar vir die wyse waarop hulle al die lewens van menige landsburgers verryk het.

Wanneer ’n mens kyk na deelnemers aan die feesprogram, staan die name uit soos ’n galery van uitnemendheid. Van die skrywers en kunstenaars wat in verskillende kapasiteite met die US geassosieer word, is Antoinette Kellermann, Anton Kannemeyer, Bettina Wyngaard, Bibi Slippers, Cintaine Schutte, Cole Wessels, Conrad Botes, Dawid Minnaar, Dean John Smith, Devonecia Swartz, Eben Genis, Francois Toerien, Jaco Bouwer, Jacobus de Jager, Jenny Stead, Kabous Meiring, Marie Vogts, Marita van der Vyver, Marlo Minnaar, Marthinus Basson, Megan-Geoffrey Prins, Nina Schumann, Mercy Kannemeyer, Nicole Holm, Pieter Odendaal, René Cloete, Tinarie van Wyk Loots, Veronique Jephtas, Wian Taljaard, Wilma Cruise, Wynand Kotze (aka Tollie Parton) en Zorada Temmingh – om net ’n handvol uit te sonder.

Verskeie ontvangers van eredoktorsgrade neem ook deel aan die feesprogram, waaronder Diana Ferrus, Max du Preez en Sandra Prinsloo.

Verskeie US-fakulteite, van Lettere en Sosiale Wetenskappe tot Natuurwetenskappe en Landbou, span jare lank reeds kragte saam met die Woordfees. Gespreksreekse wat deur departemente in dié fakulteite gefasiliteer word, is gewilde instellings op die program. Enkele hoogtepunte op vanjaar se program word uitgelig.

Filosofiekafee
Die gewilde Filosofiekafee, waar lede van die US se Departement Filosofie gedagtes op kreatiewe maniere deel met denkers, digters en wysgere, is sedert die fees se begindae op die program. Vanjaar skuif kollegas Amy Daniels, prof. Jacques du Plessis, prof. Stan du Plessis, dr. Leslie van Rooi, dr. Susan Hall, prof. Louise du Toit, prof. Vasti Roodt, dr. Alfred Schaffer, prof. Hannes Smit, dr. Andrea Palk en prof. Anton van Niekerk in om die gesprekstafel.

Prof. Vasti Roodt van die Departement Filosofie beskryf hoe dié feesgeleentheid se karakter oor die jare ontwikkel het: “Van die eerste Filosofiekafee in 2001, toe filosowe en skrywers die gehoor met rumballetjies en impromptu samesang vermaak het, tot latere jare se kletsverse, limerieke, opera-arias, draakstekery en af en toe diepgaande insigte, bly die aanbieding een van die hoogtepunte van die Woordfees.”

Departement Afrikaans en Nederlands: Een eeu
Die Departement Afrikaans en Nederlands is 100 jaar oud. Volgens die departementsvoorsitter, dr. Amanda Marais, gaan “voormalige en huidige kollegas, studente en oudstudente praat oor die vakgebied en hoe mense in en deur Afrikaans ’n tuiste vir hulle denke kan vind”.

Emeritusprofessor Louise Viljoen, wat onlangs met die Jan H. Maraisprys vir haar bydrae tot navorsing oor die Afrikaanse letterkunde vereer is, gaan ook haar siening deel oor die departement se geskiedenis, hul toekomsvisie en rol in ’n veranderende wêreld.

Die skrywer en dramaturg dr. Willem Anker, ook verbonde aan die departement, se vertaling en verwerking vir die verhoog van Han Kang se Booker-wenroman, The Vegetarian, is op die fees se dramaprogram onder regie van Jaco Bouwer te sien as Die vegetariër. Hy sal op 13 Oktober tydens een van die Teatergesprekke saam met die regisseur en akteurs oor die produksie gesels.

Ongehoord
Die Ongehoord-gespreksreeks laat die kollig val op onderwerpe vanuit verskeie navorsingsvelde. Akademiese personeel van die US en kollegas van ander universiteite, soos dr. Nadia Sanger, dr. Athambile Masola, dr. Azille Coetzee, prof. Stella Viljoen, dr. Mbali Mazibuko en dr. Ijeoma Opara, takel fynproewer-onderwerpe wat die verskeidenheid in navorsingsdissiplines belig. Prof. Louise du Toit van die Departement Filosofie sê: “In haar sesde jaar bring hierdie diskoersreeks nog meer ongehoorde idees: ambivalente nalatenskappe, die politiek van kitsch, ervarings van miskenning, rou, en hoop in wanhoop.”

Musiek
Soos in die verlede, voeg die US se Departement Musiek onskatbare waarde toe tot die feesaanbod. Felicia Lesch verwoord die geesdrif van die SU Jazz Band, die mondstuk van die deeltydse Sertifikaatprogam in Musiekgeletterdheid wat aan die departement aangebied word, só: “Die leierskap wat aan ’t ontwikkel is in die verskillende afdelings van die Jazz Band is wonderbaarlik om te aanskou. Van ons studente kom van plekke soos Steenberg, Pacaltsdorp en George, waar geleenthede soos hierdie nie geredelik beskikbaar is nie.” Die Jazz Band tree vanjaar op in Effervescence: Xamisa, iKapa, Kaapstad.

Felicia se mededosent aan die Departement Musiek, Ramon Alexander, betrokke by Kaapse Djêz, Goema & Beyond, sê: “Dié produksie bring ’n unieke perspektief op die rolspelers wat tydens en ná apartheid vorm gegee het aan improvisasiemusiek. Ons jong musiekstudente hier by die Universiteit bring hulde aan die voorvaders van Kaapse jazz wat geveg het vir die vryheid wat ons vandag geniet.”

Prof. Nina Schumann skuif vanjaar vir drie produksies agter die klawers in: Clara, Mary Has/Had a Little Lamb: ’n Glas vol musiek en Rachmaninoff’s 150th Birthday Piano Bash. Nina is baie opgewonde oor al drie: “Om my geliefde Rachmaninoff te vier saam met twee oudstudente, die pianis Megan-Geoffrey Prins en dirigent Jacobus de Jager, is ’n voorreg en vreugde. Mary Has/Had a Little Lamb is ’n speelse maar uitdagende verkenning van mineurwerke, en Clara, wat die verhaal van die komponis-pianis Clara Schumann met musiek en toneelspel deur Carla Smith vertel, roer my altyd tot trane.” 

Eendrag-teater
Die innoverende wyse waarop Eendrag-koshuis by die Woordfees betrokke is, getuig van die entoesiasme waarmee studente eienaarskap van geleenthede neem. Dr. Pierre Viviers, inwonende hoof, verduidelik hoe Eendrag se nuwe teater ingespan word: “Nie minder nie as 19 produksies gaan tydens die Woordfees in die Eendrag-teater aangebied word. Dit sluit toneel, musiek en gesprekke in. Hierdie fasiliteit ondersteun die US se doelwit om ’n transformerende studente-ervaring te skep, en die vennootskap met die Woordfees dra by tot ’n unieke buiteklas-ervaring om Eendragters én kampusgemeenskappe in die breë bymekaar te bring.”

US Botaniese Tuin: 100 jaar
As deel van sy eeufeesviering, bied die US Botaniese Tuin, die oudste akademiese botaniese tuin in Suid-Afrika, die Florafees saam met die Woordfees aan. Oorspronklike werke deur botaniese illustreerders en kunstenaars, asook ’n beeldhouwerk van landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe, kan besigtig word.

Besoekers kan daagliks deel in die tuin se feesvieringe vanaf 08:00 tot 17:00. ’n R60-ingangskaartjie bied toegang tot die volgende:
Botaniese kunsuitstalling: ’n saamgestelde versameling van oorspronklike werke deur Suid-Afrika se top- botaniese illustreerders en kunstenaars, insluitende verkope.
Skaars plantverkopers: inheemse en eksotiese vetplante, vleisetende plante, skaars aroïede, bolle, en hope spesiale plante, insluitend spesiale vrystellings van die USBT se seldsame plante.
Kontemporêre kunsuitstalling van bekende Suid-Afrikaanse skilders, keramiekkunstenaars, drukkuns en houtdraaikuns.
Keramiekkuns, beeldhouwerke en plantkuns regdeur die tuin.
Botaniese-tema-geskenk-, huisware- en dekorverkope, onder meer reproduksies van hoë gehalte van historiese plantillustrasies wat nie voorheen beskikbaar was nie.
Etensuur-musiekkonserte.
Wyn- en jenewerproe.

Verskeie ander aktiwiteite gaan in die tuin plaasvind. Volledige besonderhede is beskikbaar by www.sun.ac.za/botanicalgarden.