Erfenisdag, wat jaarliks op 24 September gevier word, is die ideale geleentheid vir Suid-Afrikaners om hulle te verheug in en herinneringe op te haal oor ons land se ryk kulturele erfenis. By die Just Conversations-geleentheid wat vandeesweek by die Universiteit Stellenbosch (US) Museum gehou is, is lig op 'n buitengewone kulturele juweel gewerp.
Nie baie mense weet dat een van die waardevolste musiekskatte in Suid-Afrika in die hartjie van die US se Stellenbosch-kampus by die Dokumentasiesentrum vir Musiek (DOMUS) by die Musiekbiblioteek bewaar word nie. Die Hidden Years-musiekargief huisves een van die grootste versamelings populêre musiek in Suid-Afrika en bevat meer as 6 000 vinielplate, 7 000 spoelbandopnames en kassetbande, asook 'n menigte waardevolle foto's en dokumente.
Die verhaal agter die skepping van die Hidden Years-musiekargief is net so fassinerend soos die inhoud daarvan. Agter die kosbare versameling is twee helde – 'n eksentrieke musiekliefhebber David Marks wat vanaf die 1960's tot die vroeë 2000's noukeurig musiek versamel en opgeneem het wat in Suid-Afrika geskep en uitgevoer is, en prof Lizabé Lambrechts, 'n US-akademikus wat meer as 'n dekade lank onvermoeid gewerk het om Marks lewenslange werk te bewaar, na te vors en te dokumenteer.
Marks, wat volgende jaar 80 word, is 'n liedjieskrywer, sanger, vervaardiger en uitgewer wat 'n groot deel van sy vroeë loopbaan daaraan bestee het om 'n breë dwarsspektrum van Suid-Afrikaanse musiek op te neem en te argiveer. Hy het selfs in die laat 1960's 'n voorsmakie van roem gehad toe sy liedjie “Master Jack" die internasionale trefferlyste gehaal het.
Marks se musiekversameling is regtig merkwaardig, sê Lambrechts. “Hy het die eerste opnames van Johnny Clegg en Sipho Mchunu gemaak; Laurika Rauch se weergawe van “Kinders van die Wind" in 1979 opgeneem; Ladysmith Black Mambaso bespreek om vir die eerste keer voor 'n wit gehoor in die Markteater in Johannesburg op te tree; en hy het 'n platemaatskappy, Down South, saam met Hugh Masekela begin."
Daarbenewens was hy een van twee Suid-Afrikaners by die Woodstock-musiekfees in Amerika in 1969. Hy het hierdie klankstelsel in 1970 na Suid-Afrika gebring, waarmee hy van die eerste groot buitelugkonserte met klankversterking in Suid-Afrika aangebied het. Hy het in 1974 Madosini in die Transkei gaan opneem met die eerste mobiele klankateljee in Suid-Afrika en het van 1971 af die Free Peoples-konserte by Wits gereël.
Marks het die Hidden Years-musiekargiefprojek in 1990 op die been gebring om die materiaal wat hy sy lewe lank geskep en versamel het, te deel en beskikbaar te stel. Hy het 'n webwerf onderhou wat inligting oor musikante en gebeure uit die argief en ander historiese materiaal wat hy saamgestel het bevat het. Die webwerf is in 2021 gesluit en word nou op die nuwe Hidden Years Music Archive-webwerf as 'n soekbare databasis in sy oorspronklike vorm gehuisves.
Totdat Lambrechts in 2011 as doktorale student haar langtermynbetrokkenheid by Marks se materiaal begin het, was die toekoms daarvan onseker, het prof Stephanus Muller, Direkteur van die Africa Open Institute (AOI) vir Musiek, Navorsing en Innovasie aan die US, by die bekendstelling van die Hidden Years-webwerf verduidelik. “Lizabé het meer as 'n dekade van haar vakkundigheid en organisatoriese vermoëns onbaatsugtig daaraan gewy om hierdie materiaal na die veiligheid van sy huidige tuiste op Stellenbosch te bring."
Die Hidden Years-argief het in 'n dinamiese akademiese projek ontwikkel met 'n groep interdissiplinêre nagraadse studente wat daaraan werk om die veelvuldige geskiedenisse wat in die versameling vasgevang is, te ontsluit.
Lambrechts het aansienlik baie geld vir die ordening, beskrywing en digitalisering van die argief ingesamel, en het voortgegaan om die kleiner argiewe van kunstenaars, platemaatskappye en versamelaars by te voeg in wat 'n gemenebes van argiefbelange geword het wat rondom die Hidden Years-argief gesentreer is. “Vir solank as wat ek al vir Lizabé ken, is sy ryklik en belonend betrokke by die plesier van ontdekking wat die argief bied," het Muller by die bekendstelling gesê.
Die versameling, wat deur die Volkswagen-stigting en die AOI gefinansier is, bestaan uit meer as 10 ton materiaal en verteenwoordig uiteenlopende musiekstyle wat wissel van stedelike folk- en township-jazz tot country-rock, maskanda en tradisionele musiek. As sodanig bied die argief 'n unieke blik op Suider-Afrika se kontrakultuur en alternatiewe musiekbewegings.
Nadat Volkswagen se finansiering in 2022 ten einde geloop het, het Lambrechts as hoof- uitvoerende beampte (HUB) by Nuuseum aangesluit. Dit is 'n maatskappy sonder winsbejag wat gestig is om 'n opvoedkundige instrument en innoverende digitale platform vir die bewaring van 'n diverse kulturele erfenis te skep. Sy is ook as buitengewone medeprofessor aan die US se Africa Open Institute verbonde waar sy deel is van 'n internasionale navorsingsgroep wat deur die Riksbank (Swede) gefinansier word vir 'n projek wat as Decay without Mourning: Future thinking heritage practices (“Verval sonder rou: toekomsdenkende erfenispraktyke") bekend staan. Hierdie projek gebruik aspekte van die Hidden Years-musiekargief.
Lambrechts het by die Just Conversations-geleentheid gesê al hoe meer musikante het hulle versamelings begin skenk en betrokke geraak by die uitbouing van hulle herinneringe en geskiedenis deur die argief namate die projek gegroei het. “Een van die gevolge van die noue samewerking met David is dat sy gesin en familielede die werk begin ondersteun het; vriende het opgedaag om my te help om materiaal rond te skuif, en die netwerk rondom die argief het geweldig uitgebrei. Uiteindelik het dit nasionale én internasionale musikante, musiekvervaardigers en individue ingesluit.
“Danksy hierdie netwerk is baie waardevolle versamelings geskenk om 'n tuiste onder die vaandel van die Hidden Years-projek te vind: die argiewe van Shifty Records, Roger Lucey, Darius en Catherine Brubeck, Des en Dawn Lindberg, Jeremy Taylor en die Silver Creek Mountain Band, om 'n paar te noem. Ek kon ook hierdie netwerk aanwend om David en sy vrou Frances finansieel by te staan toe sy siek geword het, en verskeie ander musikante in hierdie netwerke help wat hulp benodig het."
Baie kunstenaars wie se musiek in die Hidden Years-argief bewaar word, is relatief onbekend weens die politieke inhoud van hul musiek wat gedurende apartheid onderdruk is of omdat hulle musiek nie as kommersieel lewensvatbaar beskou is nie. Dit is tragies dat van hierdie kunstenaars nou in armoede leef, sê Lambrecht. “Hulle het ongelooflike musiek gemaak en by groot vertonings opgetree, maar nou word hulle deur die geskiedenis vergeet. Hulle het later jare konserte vir mekaar gehou om geld vir mediese versorging in te samel."
Argiewe is 'n venster waardeur daar na mense se aspirasies en drome gekyk kan word, sê Lambrechts. “Dit sit 'n ander narratief aan die gang oor hoe ons die 1970's en 1980's in Suid-Afrika kan verstaan. Deur aktief versamelings bymekaar te maak wat nie in die vorige bedeling as waardevol genoeg geag is om bewaar te word nie, kan argivarisse 'n leidende rol in die transformasieproses speel. Soveel van Suid-Afrika se erfenis is nie waardeer nie, en deur hierdie materiaal stelselmatige by die geskiedkundige rekord te voeg, word dit nie net vir navorsing beskikbaar gestel nie, maar word daar erkenning en waarde geheg aan die bydraes van alle Suid-Afrikaners om ons land se geskiedenis en kultuur te skep."
- Besoeke aan die argief moet vooraf met behulp van die Hidden Years Music Archive-webwerf (http://www.hiddenyears.co.za) gereël word of deur dr Santie de Jongh (santiedj@sun.ac.za) of prof Lizabé Lambrechts (lambrechts@sun.ac.za) te kontak.