Daar is ʼn paar goed waarvan Wole Soyinka glad nie hou nie, waarvan een sosiale media is. En hy hou ook nie van mense wat sy afgesonderde woudeiendom in Nigerië betree nie, waar hy op die rype ouderdom van 89 steeds ʼn produktiewe skrywer en aktivis is.
Dié gevierde Nobelpryswenner vir Letterkunde klink dalk ʼn bietjie iesegrimmig, maar sy optrede by die Universiteit Stellenbosch (US) op 13 September as deel van die Africa in the World -fees was ʼn vreugdevolle en hoogs vermaaklike geleentheid wat met ʼn staande ovasie begroet is. Soyinka se gesprek met sy landgenoot, die ewe sardoniese romanskrywer Okey Ndibe, het die gehoor in die Jan Mouton-leersentrum laat skater.
Die Africa in the World-fees, ʼn inisiatief van die Nigeriese joernalis en Pulitzer-pryswenner Dele Olojede, het oor vier dae by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing plaasgevind. Die doel van die fees is om as vonk vir verbintenisse te dien en optrede te bevorder wat die Afrika-samelewing vorentoe kan laat beweeg. The Lives of Wole Soyinka-dialoog is deur meer as 250 mense bygewoon en was ongetwyfeld die hoogtepunt van die fees.
Met sy beroemde dos weerbarstige wit hare word Soyinka dikwels verwar met Kofi Annan, voormalige Sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies. Hy geniet dit om Kofi Annan te wees, het Soyinka gesê. “Dis nie ʼn geval dat ek nié daarvan hou om mense te ontmoet nie, ek geniet dit net om mense in die gedaante van ander mense te ontmoet," het hy geskerts. Dit irriteer hom om met die berugte Amerikaanse bokspromotor Don King verwar te word, maar Soyinka hou daarvan om vir die Hollywood-ster Morgan Freeman aangesien te word: hulle deel nie net ʼn liggaamlike gelykenis nie, maar ook ʼn melodieuse baritonstem. “Ek weet nie hoeveel handtekeninge ek al as Morgan Freeman uitgedeel het nie. Hy is so gewild – mense herken hom van Frankryk tot Oesbekistan." Dit spreek boekdele van Soyinka se roem dat hy dit soms geniet om die las van Wole Soyinka-wees te ontsnap.
Sy bydraes tot die letterkunde en sy meedoënlose toewyding tot maatskaplike en politieke aktivisme het hom wêreldwye lof besorg. Soyinka het in 1986 die eerste Afrikaan geword wat die Nobelprys vir Letterkunde ontvang het, getuienis van die diepgaande impak van sy werk. Hy het sy Nobelprys opgedra aan Nelson Mandela, wat toe nog ʼn politieke gevangene was.
Soyinka se literêre werke, soos sy toneelstukke en essays, delf dikwels in temas van onderdrukking, ongeregtigheid en die stryd om vryheid, wat aanklank gevind het by die ervarings van Suid-Afrikaners onder apartheid. Sy kragtige storievertelling en treffende prosa het as ʼn bron van inspirasie en solidariteit gedien vir diegene wat teen apartheid geveg het. Toe hy oor sy bande met Suid-Afrika uitgevra is, het hy liries oor sy betrokkenheid by die anti-apartheidstryd geraak.
“Suid-Afrika het van baie vroeg af vir my ʼn lewensmissie verteenwoordig. Suid-Afrika was die negatiewe opsomming van hoe die wêreld die swart persoon, die Afrikaan, beskou het," het hy verduidelik. As jong man was hy behep met die onreg van apartheid. “Ek en ʼn klomp van my kollegas het gevoel ons bestaan om intellektueel én fisies vir slegs een doel opgelei te word – om Suid-Afrika te bevry en te herbou."
Op ʼn ligter noot het Soyinka geskerts dat Suid-Afrika ná die aanbreek van demokrasie in 1994 nie juis die rooi tapyt vir hom uitgerol het nie. In sy tipiese grappige styl het hy sy vele “stryde" met Suid-Afrikaanse doeanebeamptes geskets, wat hom al ure lank aangehou het omdat sy visum nie in orde was nie.
“Dit is ʼn soort ironie, nie waar nie? Dat ek elke keer as ek na Suid-Afrika toe kom, ʼn groot probleem met immigrasie het." Soyinka het ʼn paar jaar lank alle uitnodigings na Suid-Afrika verwerp uit protes teen dié teistering deur immigrasiebeamptes. Sy staking is beëindig toe hy die bekende Suid-Afrikaanse digter en aktivis Dennis Brutus by die Port Harcourt-lughawe in Nigerië raakgeloop het terwyl hy aan dieselfde lot as Soyinka in Suid-Afrika onderwerp is – om weens foutiewe papierwerk toegang geweier te word. Praat van poëtiese geregtigheid. “En hier is ek weer. Ek dink dis die wyn," het Soyinka verklaar.
Dit was duidelik dat die verloop van jare nie Soyinka se uitgesprokenheid gedemp het nie. “Die waarheid maak vir my saak," het hy meer as een keer benadruk. “En menslikheid. Nie ideologie of godsdiens of etnisiteit nie, maar die onverdeelbaarheid van die mensdom. Dit was nog altyd die beginsel wat my gerig het."
Al was daar nie baie tyd vir vrae aan die einde van die dialoog nie, het die skrywer moeite gedoen om aandag aan jong mense in die gehoor en spesifiek aan aspirant-skrywers te gee. Moenie verplig voel om jouself in die maalstroom van gebeure te begewe nie, het hy gewaarsku. “As jy sê jy wil ʼn skrywer word, is jou hoofmissie jou letterkunde. Moet asseblief nie deur sosiale media beïnvloed word nie, hetsy in jou skryfwerk of wat betref menings wat op sosiale media uitgespreek word. Vorm net jou eie idees, ondersoek die omstandighede en die omgewing waarin jy is. Tree volgens jou oortuiging op. Vermy dit om as radikaal beskou te wil word bloot omdat jy dit as ʼn romantiese en progressiewe soort posisie beskou om in te neem."
Gevra oor aftrede, het die gevierde woordsmid aangedui dat sy instink vir literêre kreatiwiteit steeds so sterk soos altyd is. Hy was immers nie baie suksesvol om rem aan te draai nie, het hy gebieg. “Ek werk nou al ʼn paar dekades lank aan aftrede. Uiteindelik sal ek waarskynlik ʼn eksamen aflê en my BA in aftreestudie kry en dan aanbeweeg na ʼn PhD. En dan sal ek seker ʼn emeritus-professor in aftreestrategie word."
FOTO: Stefan Els