Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Skool vir Rekeningkunde eerstejaars verower eerste prys in Deloitte-kompetisie
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 22/09/2023

Van links na regs: Matthew Privett, Sansar Maharaj, Anthony Oosthuizen Keegan Kisten Nicola Vermeulen

Photo credit: Lelethu Roto

Met indrukwekkende innovasie en kundigheid het 'n span van vyf eerstejaar-BRek-studente van die Universiteit Stellenbosch se Skool vir Rekeningkunde die topprys in die Deloitte Geoktrooieerde Rekenmeester (GR) van die Toekoms 2023-projekkompetisie behaal.

Die kompetisie het van die studente verwag om 'n digitale transformasiestrategie te ontwikkel deur klem te lê op die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters GR (2025) bevoegdheidsraamwerk en GR (2025) kundigheid soos digitale ontwrigting, waardeskepping in 'n besigheidskonteks, kritiese denke en geïntegreerde denke.

Die wenspan van Keegan Kisten, Anthony Oosthuizen, Matthew Privett, Nicola Vermeulen en Sansar Maharaj se digitale transformasiestrategie het nie net die voordele van digitalisering aangespreek nie, maar ook die gepaardgaande risiko's.

Aanvanklik het sewe spanne van die Skool vir Rekeningkunde, elk bestaande uit vyf tot ses studente, aan die projek deelgeneem en moes hulle 'n aanbieding aan hul eweknieë en dosente doen voor hulle na die volgende rondte kon aanbeweeg. Die twee toppresterende spanne is toe gekies om hul idees in die eindstryd op 5 September by Deloitte se kantore in Kaapstad aan die “innovasiekomitee van 'n maatskappy” voor te lê. Die US-spanne het teen die top vier spanne van die Universiteit van Wes-Kaapland om die groot prys meegeding.

Die spanne moes hul strategieë aan die “innovasiekomitee” voorlê, met die fokus op tegnologieë om inkomstebesigheidsprosesse te digitaliseer en hoe hierdie digitalisering die drievoudige winspunt kan verbeter, planne vir die digitalisering van die hele inkomstebesigheidsproses en kwalitatiewe oorwegings.

Die wenspan se strategie behels die gebruik van 'n ondernemingshulpbronbeplanningstelsel genaamd Odoo om inkomsteprosesse binne klein tot mediumgrootte ondernemings te digitaliseer en te vereenvoudig. Die strategie het ten doel om doeltreffendheid, produktiwiteit en volhoubaarheid in hierdie besighede se bedrywighede te verbeter. Hulle het aangevoer dat deur Odoo se vermoëns te benut, besighede beter integrasie, outomatisering en data-gedrewe besluitneming in hul finansiële prosesse kan bereik.

Kisten het gesê die besluit om aan die Deloitte GR van die Toekoms projekkompetisie deel te neem, spruit uit hul kollektiewe begeerte om innoverend te wees en om uitdagings aan te pak.

“Ons was vreeslik opgewonde oor die geleentheid om die wêreld van digitale transformasie binne die rekeningkundige sektor te verken, asook die potensiaal van tegnologie om die toekoms van dié bedryf te verander. Dit was 'n groot leergeleentheid vir ons almal en dit het ons kennis oor digitalisering aansienlik verbreed.”

Hy het gesê hulle beoog om hierdie kennis in soortgelyke toekomstige interaksies te gebruik en om hul insigte met gretige en belangstellende medestudente te deel.

Me Sybil Smit, dosent in die Skool vir Rekeningkunde, het gesê die kompetisie was 'n goeie ervaring vir die eerstejaarstudente wat vrywillig deelgeneem en hul eie spanne gevorm het.

“Die projek het hulle in staat gestel om kennis wat hulle in die eerste semester in ons nuwe Digitale- en Leierskapsvernuf modules opgebou het, prakties toe te pas en met rekeningkundige en sakeprosesse te integreer. Dit het hulle ook die geleentheid gebied om sekere gegradueerde eienskappe verder te ontwikkel. Soos byvoorbeeld om die kennis wat hulle in teorie opgedoen het met hul eie navorsing te kombineer om 'n unieke oplossing vir 'n probleem deur die gebruik van tegnologie te vind.

“Hulle het in 'n diverse spanne met streng sperdatums saamgewerk en elke groeplid moes 'n bydrae lewer tydens die aanbiedings. Ons is baie beïndruk met hoe die studente eienaarskap geneem het en hoe entoesiasties hulle was om deel te neem. Ons is vreeslik trots op hulle.”

Volgens die Skool vir Rekeningkunde het die oorwinning nie net die studente se toewyding en innovasie weerspieël nie, maar ook die Universiteit Stellenbosch se verbintenis om sy studente voor te berei vir die veranderende eise van die rekeningkunde professie in die digitale era. Die Deloitte GR van die Toekoms 2023-projek dien as 'n bewys van die potensiaal van jong mense om betekenisvolle verandering deur digitale transformasiestrategieë te dryf.