Een van die akademici wat die afgelope paar jaar ʼn deurslaggewende rol gespeel het om die Universiteit Stellenbosch (US) se visuele regstellingsproses te inisieer, prof Elmarie Costandius van die Departement Visuele Kunste, het onlangs gehoor sy is eenparig gekies vir die Suid-Afrikaanse Onderrigbevordering by Universiteite-genootskapstoekenning (OBU-genootskapstoekenning) vir 2023.
Die OBU-genootskapsprogram is ʼn landwye intervensie wat in 2015 begin is. Dit het ten doel om onderriggehalte en die professionalisering van onderrig en leer in die openbare hoëronderwyssfeer te bevorder.
Die OBU word deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) gefinansier en deur die Higher Education Learning and Teaching Association of Southern Africa (Heltasa) ondersteun.
In ʼn brief waarin Costandius oor die OBU-toekenning ingelig word, word sy geloof vir die welsprekende verwoording van haar filosofiese en teoretiese oriëntasies, wat op post-humanisme, relasionele denke en beliggaamde leer gegrond is. “Jy word ook geprys vir die verwoording van jou praktyk, wat boeiend, relevant en omvattend is. Jy het verby gevestigde teoretiese tradisies beweeg en gebruik die werk van Afrika-denkers sonder om tradisionele teoretici te verwerp. Deur jou benadering van visuele regstelling toon jy toewyding om sosiale geregtigheid uit ʼn perspektief van die moontlike eerder as ʼn tekort aan te pak. Jou werk transendeer jou studieveld en as ʼn denkleier probeer jy stilweg om die dominante diskoers in hoër onderwys te verander, veral by jou Universiteit."
Die erkenning van haar werk is ʼn enorme eer, sê Costandius. “Ek is trots op hoe my werk ontwikkel het van studenteprojekte op die Rooiplein tot die MA Visuele Kuns (Kunsonderwys)-kursus wat op kritiese burgerskap gefokus het, en daarna tot die visuele regstellingsprojek en nou die verpersoonlikte praktyke vir die Gedeelde Mensheid-ko-kurrikulumleerervarings."
Die visuele regstellingsprojek het uit die meestersgraad in kritieke burgerskap en studenteprojekte ontwikkel om ʼn verwelkomende leerruimte vir studente te skep, verduidelik Costandius.
“Ek het sedert 2010 kritiese burgerskap by my kursus begin insluit. Ek glo dit is deur die kombinasie van teorie en praktyk dat nuwe begrippe en insigte na vore kom, asook dat leer deur liggaam en gees die doeltreffendste manier van leer is."
Hierdie benadering het in 2013 verder ontwikkel toe sy besluit het om projekte na buite die lesinglokaal te verskuif om studente en gemeenskappe op en om die kampus by sosiale geregtigheidsverwante projekte te betrek. Die konsep van visuele regstelling het spontaan ontwikkel toe ʼn groep studente op Vrouedag 2013 ʼn projek bekend as “Eva, Sprout, Grow, Blossom" van stapel gestuur het om die afwesigheid van vrouestandbeelde op die kampus aan te pak. Ná hierdie projek het die term “visuele regstelling" ʼn konsep geword wat in verskeie projekte gebruik is wat ten doel het om ruimtes te dekoloniseer en van die kampus ʼn verwelkomende ruimte vir alle studente te maak.
Die visuele regstellingsprojek is nie net daarop gefokus om ruimtes fisies te transformeer nie, maar ook om kritiese dialoog en bewustheid aan te moedig, benadruk Costandius.
Aan die spits van die US se visuele regstellingsinisiatiewe
In 2017 het Costandius ʼn Visuele Regstellingsplan geskryf wat aan die universiteitsbestuur voorgelê is en institusionele befondsing is vir die projek beskikbaar gestel. Tydens die studentebetoging in 2015/'16 het sy ʼn meestersgraadstudent, asook medestudente van die Open Stellenbosch-beweging, gevra om nuwe kunswerke vir die kampus te konseptualiseer. Die Sirkel-beeldhouwerke van vroue op die kampus het uit daardie versoek voortgespruit en is in 2019 met institusionele befondsing geïmplementeer. Banke met verwelkomingsboodskappe in 16 Suid-Afrikaanse tale en dialekte is ook op die Rooiplein aangebring.
“Ek het persoonlik baie tydens die visuele regstellingsprojek gegroei deur by studente en gemeenskappe betrokke te raak en te leer oor hul behoeftes, vrese en stryde. Dit is ʼn wonderlike ervaring om deel van ʼn veranderende universiteit te wees.
“Terwyl ek die visuele regstellingsprojekte gedurende die laaste drie jaar geïmplementeer het, het ek opnuut besef dat dit nie genoeg is om aan die visuele aspekte te werk nie; dat dit ook belangrik is om leerervaring in te sluit. In plaas daarvan om kunstenaars te vra om kunswerke op die kampus te skep, werk ek saam met studente, personeel en gemeenskapslede wat kunsgebaseerde metodologieë gebruik om kunswerke te skep en deur prosesse te werk om die name van geboue en plekke op die kampus te verander.
“Die kreatiewe proses word ʼn 'grensdoelwit' om leer te verbeter in plaas daarvan om slegs direkte verbale of geskrewe maniere van leer te gebruik. Deur gemeenskappe rondom die kampus te betrek om saam te skep en te innoveer word die historiese en huidige verdelings tussen deelnemers ook afgebreek. Ek het die fokus van die visuele regstellingsprojek verskuif om nie net kunswerke saam met gemeenskapslede vir die kampus te skep nie, maar ook met gemeenskappe rondom die kampus, spesifiek gebiede soos Kayamandi, Cloetesville en Idasvallei.
Costandius glo dat ons by inheemse praktisyns kan leer wanneer dit kom by relasionele gees-liggaam-praktyke en kontemporêre nuwe materialistiese perspektiewe op anti-Westerse wêreldbeskouings van nie-relasionele en dualistiese denke.
“Absorberende beliggaamde praktyke het die potensiaal om te help om die liggaam-gees te dekoloniseer, wat onderrig- en leerpraktyke kan verbeter. Sosiale geregtigheidsonderrig geskied nie deur middel van papegaaileer nie en alternatiewe onderrigpraktyke moet vir verdere leerprosesse ondersoek word," benadruk Costandius.
Akademiese uitnemendheid
Costandius het inligtingsontwerp aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en later ʼn meestersgraad in visuele kunste aan die Rietveld-Akademie in Amsterdam voltooi. Sy het ook ʼn meestersgraad aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf en in 2012 haar PhD in kurrikulumstudies aan die US.
Sy het beduidende bydraes tot die akademie gelewer as toesighouer van 51 meestersgraad- en agt PhD-studente, met voortgesette studieleiding van vyf meestersgraad- en vier PhD-studente. Sy het ʼn indrukwekkende publikasierekord, met agt boeke waarvan sy die redakteur is, 13 boekhoofstukke en 42 joernaalartikels in beide plaaslike en internasionale joernale. Boonop was sy ʼn produktiewe aanbieder by 71 konferensies wêreldwyd.
Haar toewyding tot akademiese diens blyk duidelik uit haar 28 eksterne eksaminatorrolle en 19 joernaalartikelresensies vir plaaslike en internasionale tydskrifte. Sy het 14 navorsingsprojekte bestuur en aansienlike befondsing ten bedrae van R12 558 000 bekom. Belangrik is dat haar navorsingsbefondsing 23 studente met beurse van altesame R3 725 000 ondersteun het.
Sy het verskeie onderrigtoekennings ontvang en was drie jaar lank die voorsitter van die Kuns en Sosiale Wetenskappe- Sosiale Impakkomitee. Sy dien tans in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe se Transformasie- en Institusionele Visuele Regstellingskomitees. Haar uitgebreide internasionale navorsingskontakte strek oor instellings in Brasilië, Italië, België, Nigerië, Egipte, Kameroen en Swede heen en sluit uiteenlopende velde in, soos visuele regstelling, volhoubare ontwerp, sosiale impak en kritiese burgerskap.
- Costandius sal die OBU-genootskapstoekenning by die Heltasa-konferensie van 24 tot 26 Oktober by die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlpark-kampus ontvang, waar sy ʼn aanbieding oor haar werk sal lewer.