Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ChatGPT bied geleenthede om tradisionele manier van assessering te vernuwe
Outeur: Michael le Cordeur
Gepubliseer: 19/09/2023

In ʼn onlangse artikel vir die Daily Maverick het prof Michael le Cordeur, visedekaan: Onderrig en Leer in die Fakulteit Opvoedkunde, verduidelik dat kunsmatige intelligensies soos ChatGPT talle uitdagings het, maar ook geleenthede bied om die tradisionele manier van assessering te vernuwe.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder. Dit het in Die Burger en op Netwerk24 verskyn. Klik hier vir die Engelse weergawe.

Michael le Cordeur

Heelwat is al geskryf en gesê oor Kunsmatige intelligensie (KI) en ChatGPT (Generative pre-trained transformers) in die soeke na ʼn gepaste benadering tot hierdie nuwe tegnologie. Om ʼn mening te lig, is riskant; ChatGPT vernuwe voortdurend homself. Ek skryf in eenvoudige taal vanuit ʼn hoëronderwys perspektief, maar dit geld ewe-eens vir basiese onderwys.

Wat is ChatGPT?

ChatGPT is ʼn verbruikersvriendelike KI chatbot (kletsrobot). Dit kan lees, opstelle en gedigte  skryf, wiskundige probleme oplos en selfs foute uitwys in berekeninge. Om dit op die proef te stel, het ek en my klas vir ChatGPT gevra om ʼn gedig te skryf oor beurtkrag. Ons kon op die skerm sien hoe die kletsbot die volgende skryf:

Beurtkrag

 Kragonderbrekings, ons land se pyn

 Gedwonge donkerheid, dis nie fyn

Die kerse brand, die batterye dood

Ons wag vir krag, ons wag vir nood

             

 Daar's geen krag, geen lig, geen hoop

Die lug is stil, ons roep en roep

Maar niks gebeur, die donkerheid bly

En ons sit hier, en wag vir die dag wat sal bly

 

Ons bid vir krag, ons vra vir hulp

Ons vra vir antwoorde, ons vra vir skulp

Maar niks gebeur, die nag is lank

Ons staan alleen, in donkerheid gevang

 

Kragonderbrekings, ons vloek en kla

Ons wonder net, wanneer dit ophou dra

Die krag is weg, ons land staan stil

Ons wonder net, hoe lank dit nog wil

Die respons op die kletsbot se poging het gelei tot ʼn boeiende klasbespreking veral oor die uitdagings wat die kletsbot vir onderwysers, leerlinge en assessering inhou. Op die oog af lyk die gedig na ʼn goeie poging deur ʼn talentvolle leerling. ʼn Dieper kyk na die gedig toon egter heelwat “denkfoute" en digterlike “foute". Daar is voorbeelde van gedwonge rym; hinderlike herhaling, en vreemde Afrikaanse woorde en frases soos “donkerheid" teenoor donkerte of duisternis. Dit laat die vermoede ontstaan dat dit dalk iemand anders se werk is.

ChatGPT kan nie dink of redeneer nie (altans nog nie); dit kry inligting van data wat voorsien word deur sy menslike skepper. Die enigste inligting wat ons verskaf het, was dat beurtkrag pyn veroorsaak en ons in die donker hou. Let nou op hoe hy “pyn" en “donker" herhaal.

Verkeerde data lei tot verkeerde antwoorde wat verkeerdelik as feite aanvaar word. Die kletsbot verskaf slegs antwoorde volgens die opdragte wat hy ontvang. Les een vir studente is dat ChatGPT dikwels verkeerde inligting aanbied as feite. Omdat hy nie sy antwoorde stoor nie kan dit nie nagespoor word met opsporingsinstrumente nie.

Niks nuut nie

Kunsmatige intelligensie is nie nuut nie; dis lankal deel van ons lewe. Vir leerlinge is ʼn skooldag sonder ʼn sakrekenaar ondenkbaar. Jy betaal rekeninge met ʼn toep op jou slimfoon pleks van ʼn tjek. Ons ontvang na werksure ʼn SMS van die bank. Met behulp van KI kan jy inkopies doen, jou pad vind na ʼn onbekende bestemming en jou spelfoute korrigeer.

Soortgelyke KI tegnologieë vorm die basis van verskeie opvoedkundige hulpmiddele wat reeds in gebruik is, waaronder SUNLearn (die platform waarop moduleraamwerke gelaai word), Turnitin (wat die % aanhalings uit ander bronne meet) en om aanlyn klas te gee.

Hoe gemaak met assessering

KI en ChatGPT het talle uitdagings, maar hou ook opwindende geleenthede in vir Assessering van Leer en Onderrig (ALO). Die impak op assessering gaan grondverskuiwend wees, veral assessering sonder toesighouding soos take wat tuis gedoen word, en kritiese terugvoering oor tekste. Aanvanklik was die (voorspelbare) reaksie op ChatGPT (1) om terug te keer na alle assesserings wat onder toesighouding geskied, en (2) die ontwikkeling van nuwe, beter sagteware wat ChatGPT sal kan opspoor. Dié reaksie sou egter net die simptome aanspreek.

Teen die spoed waarteen KI ontwikkel, is opsie 1 nie haalbaar nie. Alhoewel opsie 2 tegnies moontlik is, sal dit lei tot ʼn ewigdurende stryd om tred te hou by KI; ʼn stryd wat ons nooit sal wen nie. Wat nodig is, is dat menslike gedrag moet verander.

Ander uitdagings vir onderrig en leer is:

  • Studente sal te afhanklik word van kletsbotte wat kritiese denke kan verhoed;
  • Kletsbotte kan antwoorde verskaf op vrae, maar studente sal nie altyd die redenasie agter die antwoorde begryp nie.
  • Kletsbotte kan studente se persoonlike inligting in sy geheue stoor, wat tot privaatheidskending kan lei as dit nie behoorlike bestuur word nie.

Wat kan ons doen ?

Ten einde die akademiese integriteit van student én dosent te beskerm, is die mees verantwoordelike ding om te doen om ALO-praktyke aan te pas by KI. Ek deel ʼn paar voorstelle soos verskaf deur verskeie akademici en denkleiers:

  • Ons het die vermoë om navorsing te doen, feite te interpreteer en krities daaroor te redeneer en hierdie kennis toe te pas in ons ALO-praktyke.
  • Beklemtoon akademiese integriteit en maak seker studente weet waar hulle leiding en ondersteuning kan kry oor gesonde navorsingspraktyke.
  • ​Kommunikeer: Bespreek KI-instrumente met studente en maak seker hulle verstaan wat die korrekte en verkeerde gebruik daarvan behels.
     
  • Benut kontaktyd vir aktiewe leer (pleks van die sieldodende lesings) en kry studente betrokke by die klas.
     
  • Pas die leeruitkomste aan deur die modules met die kritiese vaardighede hierbo te belyn sodat studente toegerus word met hierdie vaardighede.
     
  • Vernuwe assesseringsmetodes: assesseer minder, alles hoef nie bepunt te word nie; gebruik minder hoë-risiko assessering en fokus meer op proses-gedrewe assessering. 
  • Vermy take wat die student in die versoeking stel om ChatGPT te gebruik deur te fokus op kreatiewe alternatiewe soos mondelinge assessering, aanbiedings, klas-en individuele gesprekke, kritiese lees, en redaksionele skryf. 
  • Gebruik die omgekeerde klaskamer (Flipped classroom) deur klasse buitentoe te skuif.

Kreatief en innoverend

Ek deel graag ʼn kreatiewe alternatief wat ek op die proef gestel het met my klas. Pleks van die gebruiklike lesing wat een gedig behandel, is die klaskamer na buite verskuif. Drie groepe kon elk een van die volgende gedigte “trek" (om te verhoed dat gedigte gekies word wat bekend is): Vroegherfs (NP van Wyk Louw), Delft (Nathan Trantaal) en Oppie Parara (Adam Small). Groepe moes ʼn selfoonvideo maak ter illustrasie van die gedig en self take toeken aan spanlede bv.: fotograaf, kopieskrywer, beligting en klank. Die video oor Vroegherfs is op herfsdag in Stellenbosch opgeneem en die video oor Delft in dié misdaadgeteisterde woonbuurt op die Kaapse Vlakte. Vir die video oor Oppie Parara is die parade in Kaapstad besoek. Hulle moes ook ʼn vraestel en memorandum opstel.

Elke groep moes hul gedig en video vir die klas aanbied. Dit dien as mondelinge assessering wat terselfdertyd wys of die student kan klasgee. Die entoesiasme waarmee die klas die taak aangepak het, en die wedywering om as die beste span aangewys te word, het almal gemotiveer om hul beste te gee. Groepe het mekaar geassesseer en ek was aangenaam verras hoe streng hulle met mekaar was. Op die refleksievorm wat agterna ingevul moes word, het studente gevra vir meer sulke geleenthede. ʼn Krisis kan lei tot ʼn unieke geleentheid. Dit vra egter dat onderwysers/dosente nuut moet dink oor klaskamers.

Paradigmaskuif

Die Amerikaanse toekomskundige, Alvin Toffler, het gesê al waarvan ons seker is, is verandering. ChatGPT het akademici wakker geskud uit hul akademiese middagslapie. Daar is nie meer plek vir notas uitdeel wat studente moet memoriseer nie.

 ʼn Paradigmaskuif is nodig soortgelyk aan die kopskuif met die koms van die internet. Om tred te hou by die snelle ontwikkeling van KI en steeds relevant te bly, is onderwysinstansies verplig om hul benadering tot ALO aan te pas.

Hier om te bly

Onderwysinstansies sal dus móét voorberei vir die wêreld van KI. Daar is bekommernisse maar as ons studente toerus met die vaardighede om ChatGPT krities en verantwoordelik te gebruik, kan dit dieselfde pad volg as vorige KI-modelle. Studente sal dit gebruik. Soos hulle ook slimfone, die sakrekenaar en Google gebruik.

Daarom sal dit dwaas wees om studente die gebruik hiervan te ontmoedig. ChatGPT is hier om te bly, maar sal nooit die mens vervang nie. Dit vergemaklik berekeninge maar vereis steeds menslike intervensie om die regte antwoord te vind.

  • Bron: ChatGPT and AI in Higher Education Teaching-Learning-Assessment: DLTE @ SU, 2023.

​Foto deur ilgmyzin by Unsplash

Prof Michael le Cordeur is visedekaan: Onderrig en Leer in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch.