Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Twee jong US-wetenskaplikes wen gesogte nasionale toekennings
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 19/09/2023

Twee talentvolle nagraadse studente van die Universiteit Stellenbosch, Nyeleti Mabaso en Leanne Nortjé, is albei onlangs met 'n prestigeryke Suid-Afrikaanse Vroue in Wetenskap-toekenning (SAWiSA) vereer.  

Volgens die Departement van Wetenskap en Innovasie vereer SAWiSA vrouewetenskaplikes en -navorsers wat as rolmodelle vir jonger vroue dien en beloon dit jonger vroue wat hulle loopbane as navorsers en wetenskaplikes begin. SAWiSA ken ook toekennings aan geregistreerde meesters- en PhD-studente toe.

Mabaso, 'n spraak-taalpatoloog wat tans aan haar meestersgraad in Spraak-Taalterapie werk, het gesê die navorsingsbeurs is 'n erkenning dat sy aan nasionale standaarde voldoen het om inheemse kennisstelsels binne die gesondheidsorgsektor in Suid-Afrika te bevorder. Sy het ook bygevoeg dat dit haar ook bevestig as bewaarder van Vhavenḓa-mense. Mabaso is lid van 'n koninklike familie wat al vir meer as 300 jaar die Vhavenḓa-volk regeer.

Haar navorsing ondersoek die kulturele en linguistiese ekwivalensie van die nuut aangepaste Veeltalige Instrument van Narratiewe ('n instrument wat gebruik word om die narratiewe vaardighede van kinders te toets wat van geboorte of 'n jong ouderdom af een of meer tale aanleer) in Tshivenḓa vir graad 4-kinders.

“Die sukses van hierdie navorsing sal klinici, navorsers en opvoeders help om ontwikkelingsagterstande in taal en die uitwerking van tweetaligheid op kinders uit 'n multikulturele agtergrond raak te sien. Deur hierdie instrument te bied wat kultureel en taalkundig geldig is vir gebruik onder inheemse kulture in Suid-Afrika, sal Tshivenḓa-sprekende kinders toegang hê tot 'n vroeë intervensie wat tot gevorderde vroeë geletterdheidsontwikkeling en akademiese sukses sal bydra."

Mabaso, wat onlangs as een van die Mail & Guardian se 200 Jong Suid-Afrikaners aangewys is, het gesê “die navorsingsbeurs sal my in staat stel om my visie vir Tshivenḓa-sprekende kinders te verwesenlik om toegang tot vroeë ontwikkelingsintervensie en voldoende behandeling deur spraak-taalpatologie te hê".

Sy wil saam met die departemente van gesondheid, onderwys en maatskapplike ontwikkeling, asook die monargie in Venḓa werk om ongeletterdheid onder kinders en die verwaarlosing van mense met kommunikasie- en gehoorsteurings te verminder deur vroeë ingryping met behulp van programme wat sy sal ontwerp, te bevorder.

Nortjé, 'n DeepMind-vakkundige en 'n PhD-student in elektriese en elektroniese ingenieurswese, het in reaksie op haar toekenning gesê dit is 'n geweldige groot eer en 'n baie bevredigende ervaring om erkenning te kry vir die bydrae tot 'n vakgebied waar vroue so onderverteenwoordig is.

“Hierdie toekenning moedig my aan om aan te hou om deur grense te breek en om positiewe verandering deur my werk te kweek. Dit is 'n geweldige hupstoot vir my navorsingspoging. Eerstens kan die blootstelling deure open vir nuwe samewerking en navorsingsgeleenthede. Daarby bring die erkenning groter geloofwaardigheid mee, wat dit makliker maak om finansiering vir my projekte te bekom. Verder dien die toekenning ook as 'n dryfveer wat my dwing om nog hoër standaarde vir my navorsing te stel."

Nortjé se navorsing fokus op die skep van visueel-gebaseerde spraakstelsels vir tale met min hulpbronne en wat onderverteenwoordig is. Sy gebruik beelde om klank losweg te transkribeer, asook om voordeel te trek uit tale met goeie hulpbronne soos Engels. Die stelsels wat in haar navorsing gebruik word, is geïnspireer deur die vinnige spoed waarteen kinders hulle moedertaal aanleer. Gevolglik kan sy ook toets of hierdie stelsels dieselfde leermetodes gebruik as wat kinders gebruik om taal aan te leer.

Nortjé het gesê sy wil graag die omvang van haar huidige navorsing uitbrei deur dieper te delf in die implikasies daarvan en moontlike implementasie in die regte wêreld. “My uiteindelike doel is om tot die vooruitgang op hierdie gebied by te dra en om 'n blywende impak te bewerkstellig."

  • Foto: Nyeleti Mabaso (deur Stefan Els) en Leanne Nortjé (verskaf)