Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Ada Jansen ondersoek moontlike belastingstelsel-hervorming wat welsynsverbeterende beleide ondersteun
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 14/09/2023

Prof Ada Jansen, voorsitter van die Departement Ekonomie in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, het Dinsdag 12 September 2023 haar intreerede gelewer. Die titel van haar lesing was “Belastinginkomste en -ontwikkeling in Suid-Afrika: twee kante van dieselfde munt?".

Jansen het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor haar navorsing wat ondersoek hoe die Suid-Afrikaanse belastingstelsel hervorm kan word om beleide te ondersteun wat welsyn kan verbeter en ontwikkeling kan bevorder.

Vertel ons meer oor jou navorsing en wat jou belangstelling in hierdie spesifieke veld geprikkel het.

Ek het reeds vroeg in my hoërskoolloopbaan geweet ek gaan in die handelsgebied spesialiseer, en ek was vasbeslote om 'n geoktrooieerde rekenmeester te word. In my tweede jaar op universiteit het ekonomie, veral openbare ekonomie, my begin fassineer. Dit was veral vir my belangrik om te ondersoek hoe die staat fiskale instrumente kan gebruik om die welsyn van die samelewing te verbeter, gegewe die ontbering wat gemeenskappe waarin ek grootgeword het, ervaar het, en hoe die staat dit op 'n sinvolle, volhoubare en doeltreffende manier kan doen.

Hoewel ek nie dadelik in navorsing oor belastingkwessies gespesialiseer het nie (ek het vroeër in my akademiese loopbaan aan omgewings- en hulpbron-ekonomie gewerk), het dit een van my groot belangstellings gebly. Ek het besluit om my liefde vir hierdie gebied uit te leef deur meer in my onderrig en navorsing op belastingverwante navorsingsvrae te fokus. Ek het reeds navorsing oor verskeie belastingkwessies soos BTW-nulgradering en belastinguitgawes voltooi met die uiteindelike doel om rigting aan openbare beleid te gee.

Hoe sou jy die relevansie van jou werk veral in ons Suid-Afrikaanse konteks beskryf?

Suid-Afrika is fiskaal beperk met hoë vlakke van werkloosheid, armoede en ongelykheid. Dit is dus noodsaaklik om vrae te beantwoord oor die verbetering van belastinginkomstemobilisering, die beste moontlike aanwending van ons hulpbronne en wat die beste manier is om ons ontwikkelingsdoelwitte deur die gebruik van fiskale instrumente te bereik. My navorsing kyk dus na maniere waarop die Suid-Afrikaanse belastingstelsel hervorm kan word om welsynsverbeterende beleide binne hierdie beperkings te ondersteun. Wat is byvoorbeeld die moontlikhede om die land se belastinginkomste verdere te verhoog deur belastinggapings te verklein of die huidige persoonlike inkomstebelastingstelsel te hervorm, sonder om kompromieë tussen doeltreffendheid en billikheid aan te gaan?

Jy is reeds baie jare in die uitdagende hoëronderwysomgewing. Hoe bly jy gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?

Ek glo vas dat uitdagings nodig is om verandering teweeg te bring. En al voel 'n mens ontsteld te midde van 'n uitdaging, bied dit 'n geleentheid om nuut en kreatief te dink oor hoe ons ons doelwitte kan bereik. Wat my laat aanhou en my gedrewe hou, is die strewe daarna om uitdagings op te los en onwankelbaar te bly te midde daarvan.

Waarvan hou jy die meeste in jou werk?

Ek hou daarvan om met studente te werk en na hulle te luister en uit hulle perspektiewe en insigte te leer. Ek hou daarvan dat ons op 'n pad van voortdurende ontdekking en lewenslange leer is.

Wat sou jou boodskap aan jongmeisies wees wat 'n loopbaan in die hoër onderwys oorweeg?

Kies die loopbaanpad wat betekenis tot jou lewe toevoeg. 'n Loopbaan in die hoër onderwys kan uitdagend maar baie lonend wees, veral as jy jou bydrae tot ander se lewens in ag neem terwyl hulle hul loopbaanpad bou.

Vertel ons iets opwindends oor jou lewe wat mense nie sou verwag nie.

Ek luister graag na goue oues (golden oldies) en sal selfs probeer om karaoke te sing al kan ek glad nie die wysie hou nie.

Hoe bring jy jou vrye tyd deur?

Ek is lief vir lees en neem my kat vir wandelings – mense vind dit baie amusant om 'n kat aan 'n leiband te sien stap!